Aangename kennis, Aliwal-Noord

Aliwal-Noord se museum en biblioteek. (Foto verskaf)

Op 12 Mei is Aliwal-Noord 174 jaar oud. Dié Karoodorp en sy geskiedenis het my min geskeel, totdat ons op pad na ʼn Oos-Kaapse seevakansie hier aftrek. Die dorp dra sy hart op sy spreekwoordelike mou, met geboue, kerke en mense wat my uit die staanspoor betower. Wat is hierdie uiteenlopende mengsel van museums, huise, bome en strate se storie? Die see moet maar tot môre wag, want Aliwal-Noord se verlede roep my.

Dit begin met ʼn drif

Terwyl ons stadig, starend om ons heen deur die strate suiker, lees ek op. In 1848 het sir Harry Smith, goewerneur van die Kaapkolonie, die Oranjerivier as die noordelike grens van die kolonie verklaar, JC Chase as landdros van die nuwe noordelike distrik aangestel en hom opdrag gegee om ʼn geskikte plek uit te soek vir ʼn nuwe dorp. Die plek wat Chase gekies het was naby ʼn strategiese drif in die rivier met die naam Vlotfontein, net onderkant die samevloeiing met die Kraairivier.

Die hoeksteen van die landdroskantoor is uiteindelik op 12 Mei 1849 gelê en die nuwe dorp is Aliwal genoem, om sir Harry se oorwinning oor die Sikhs in Indië in 1846 te gedenk. Die ‘noord’ is later bygevoeg omdat Mosselbaai aan die suidkus destyds tot Aliwal-Suid herdoop sou word.

Voor die gerestoureerde perdestalle by die ou tolherberg. (Foto verskaf)

Ons oornag in die ou tolherberg, gesellig in die gerestoureerde perdestalle. Die paadjie na dié ou gebou loop oor ʼn nog ouer brug – die stewige, statige Sauerbrug van sandsteen, wat in 1881 voltooi is en tot nasionale monument verklaar is. Lank voordat die brug gebou is, moes die San en later die Voortrekkers op hul trek noordwaarts uit die Oos-Kaap spook om deur die Kraairivier se drif te kom.

Teen 1872 het ʼn pont darem gehelp om mens, dier en wa oor die rivier te kry, wat veral ʼn verligting was vir handelaars op pad na Hershel, Lady Grey en Barkly-Oos. Byna tien jaar later het die brug, wat na die destydse minister van spoorweë en hawens vernoem is, hul werk aansienlik vergemaklik en sodoende ook handel in die gebied bevorder, al moes hulle tolgeld daarvoor betaal.

Die oorspronklike brug van 1881 is in 1938 deur die huidige brug, wat net so duskant die oue gebou is, vervang. Toe die spoorweg van Oos-Londen die dorp in 1885 bereik het, het die dorp vinnig ontwikkel tot handel- en verspreidingsentrum vir die noord-oostelike gebiede van die kolonie. Die dorp het later ʼn terugslag ondervind toe die spoorlyn na die Vrystaat langs ʼn ander roete verby Aliwal-Noord verleng is.

Museums en murasies

Aliwal-Noord se katedraal. (Foto verskaf)

Na ʼn goeie nagrus staan ons kar weer see se kant toe. Maar iets hou my terug – ek móét net die twee museums sien. Met ʼn groot gesoebat stem my man en kinders in om vinnig – as so iets ooit moontlik is – by die biblioteekmuseum in te loer. Ek beduie die pad en kort voor lank staan ons voor ʼn klein geboutjie: Aliwal-Noord se biblioteek, nou museum. Die deur staan oop en ons stap nader. By die ingang lees ek dat besoektye slegs Maandae en Vrydae van negeuur tot twaalfuur is. Ons het sowaar toevallig op die regte dag en tyd opgedaag.

‘n Foto waar die dorp se vlag oorhandig word. (Foto verskaf)

Die biblioteek dateer uit 1876 en is tot 1972 gebruik. Met die intrapslag is ons sommer oorrompel – soveel dinge uitgestal in so ʼn klein spasie. ʼn Vriendelike tannie, wat vrywillig die museum aan die gang hou, vertel vir ons Aliwal se storie, met behulp van boeke, kombuisartikels, outydse kleredrag, handgemaakte seep, fossiele, foto’s, koerante en duisende ander dinge wat in uitstalkaste dut.

Aliwal-Noord se vlag vang my oog. Blykbaar het kommissaris Chase dit met die dorp se stigting geskenk. Hy het die heraldiese wapen van die Founders Company van Londen, waarvan hy ʼn lid was, vir die wapenskild bekom. Dit dateer uit die dae van koningin Elizabeth I se regering. Aliwal was die tweede plek in die Kaap, indien nie in die Republiek nie, om in 1849 sy eie embleem, vlag en leuse te ontvang.

Nadat ons die museumtannie gegroet het, elk met ʼn boek as geskenk in die hand, smeek ek vir nog een stop – die Kerkpleinmuseum. Dit is net straataf, in die ou NG Kerk wat in 1864 deur lidmate self gebou is en tot 1925 gebruik is. Blykbaar is daar replikas van ou winkels van Aliwal, ou straatlampe, ʼn ou smidswinkel, Aliwal se ou stoomroller, plaasimplemente en ʼn ou brandweerwa, so lees ek.

Daar gekom, moet die hoop beskaam. Ek is ontnugter deur hoe verwaarloos die gebou en terrein is. Die museum word ook slegs op versoek oopgesluit en niemand antwoord wanneer ek die kontaknommer bel nie. Nou ja, so gaan dit seker maar met museums op klein dorpies, dink ek hartseer.

By die nuwer NG Kerk, waarvan die hoeksteen in 1924 gelê is, word ek hartlik verwelkom en rondgewys. Al is daar ʼn paar ouer geboue in die dorp, soos die Anglikaanse kerk St. Paul wat meer as 150 jaar oud is, en die Rooms-Katolieke katedraal wat in 1857 gebou is, is hierdie gebou ʼn erfenisskat in eie reg, wat goed onderhou word.

Nog erfenis om te ervaar, ander dag

Toe die see te hard begin roep, kies ons koers uit die dorp uit. Ek lees vir oulaas oor die dorp se Anglo-Boereoorloggeskiedenis, toe die Boere Aliwal-Noord beset het. Nadat die dorp in 1900 deur Groot Brittanje herower is, het die Britte ʼn konsentrasiekamp vir Boerevroue en -kinders daar ingerig. ʼn Tuin van herinnering is in 1981 aangelê om die 720 vroue en kinders, wat in die konsentrasiekamp gesterf het, te gedenk. ʼn Britse blokhuis dateer uit dieselfde tydperk.

In 1943 het die Britse Lugmag ʼn opleidingsentrum by Aliwal-Noord gestig en in 1945 is ʼn kamp vir Italiaanse krygsgevangenes ook daar gebou.

Die Beestekraalnek Monument, sowat 20 km noord van die dorp, is in 1938 ingewy om die spoor te gedenk wat deur die Voortrekkers en hul ossewaens ʼn eeu tevore op hul tog noordwaarts gevolg is. Daar is ook ʼn gedenkteken vir gesneuweldes van Aliwal-Noord in die Eerste Wêreldoorlog.

Met my kop vol van Aliwal-Noord se geskiedenis ry ons verby merinoskape en mielies. Weereens verwonderd oor die erfenis wat op elke dorp te vinde is, as jy net soek – selfs op jou pad na ander bestemmings. Erfenis wat soms bewaar word, dikwels bedreig word, maar altyd ʼn besoek werd is.

Die Sauerbrug op die voorgrond, met die nuwe brug sigbaar agter dit. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.