Afrikaanse digitale tydskrif is terug vir spesiale vieringsdae

Chrisna Nel is die redakteur van “Flink”. (Foto verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se digitale tydskrif, Flink, is Donderdag, 6 April, ter viering van Stigtingsdag beskikbaargestel.

Ten spyte daarvan dat hiérdie spogtydskrif vir ’n jaar lank nie uitgegee is nie, gaan Flink nou weer voort en sal nou tweemaandeliks op ’n “spesiale” vieringsdag uitgereik word.

Die eerste uitgawe van Flink vir 2023 is op 21 Februarie op Internasionale Moedertaaldag uitgegee.

Flink se naam was aanvanklik ink en die eerste aanlyn publikasie het in Augustus 2017 verskyn as ’n vervanging van die FAK se maandelikse nuusbrief.

“Die naam was aanvanklik ink, want ons is gewoond daaraan dat tydskrifte se ink oor die jare heen aan ons vingers geklou het, en het besluit om die nostalgie te laat voortleef deur die Afrikaanse taalskrif se ink op jou slimfoon, tablet of rekenaar te laat vloei en te geniet, enige plek, enige tyd – gratis. Omdat die Woordfees se feeskoerant egter INK heet, het ons dit goedgedink om eerder die naam na Flink te verander. Nou is ons so flink soos ’n flamink, en rinkink ons heerlik in Afrikaans,” het Chrisna Nel, redakteur van Flink, gesê.

Flink roem homself daarop om artikels oor die Afrikaanse taal, leefstyl, geskiedenis en kultuur uit te gee. Lesers kan lekker leesstof oor boeke, kultuuraktiwiteite en interessante geskiedenisbrokkies verwag. In hierdie maand se uitgawe is daar onder andere ’n artikel oor die nuwe VivA-Uitgewers, idiome en gesegdes uit die skeepvaart en die jongste musiekvrystellings.

“Elke uitgawe het ’n sekere tema, wat geskiedenistemas insluit. Hierdie maand vier ons Stigtingsdag, so ons tema was pioniers, Vryburgers en Stigtingsdag. Dit was lekker om te gaan kyk watter idiome en gesegdes kom uit die skeepvaart, watter tipe skepe het die VOC gehad en watter monumente en standbeelde is opgerig ter nagedagtenis aan die Pionierstydperk,” het Chrisna gesê.

Sy is trots daarop dat Flink elke tweemaandeliks op ’n merkwaardige dag verskyn. Volgens haar help dit die tydskrif nie “verdwyn” in iemand se e-posse of sosiale media nie. “Soos wat almal die vakansiedae of belangrike dae onthou, gaan hulle onthou dat Flink verskyn.”

Chrisna Nel proeflees een van die bladsye. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.