Akademia stel BA-graad vir mediapraktisyns bekend

(Foto: Jaco-Louis Kruger/Akademia)

Akademia het op 25 November ʼn splinternuwe BA-graad in kommunikasie en joernalistiek tydens ʼn mediageleentheid op die Centurion-kampus in Gauteng bekendgestel.

Dr. Alé Steyn, programkoördineerder vir kommunikasie en joernalistiek by Akademia, sê hoewel die bedryf aan’t verander is, beteken dit nie dat akademiese opleiding aan die kortste end moet trek nie.

“Die verandering lê uiteraard uitdagings voor ons deur, maar dit kom ook met baie geleenthede en juis daarom is dit ons verantwoordelikheid om studente hiervoor op te lei,” sê sy.

Die doel van die program is om studente in staat te stel om as multimediajoernaliste en kundige kommunikasiepraktisyns te funksioneer. Die kwalifikasie beoog om studente toe te rus met die teoretiese kennis en praktiese vaardighede om suksesvolle loopbane in die bedryf te volg.

Prof. Pieter Duvenhage (Foto: Jaco-Louis Kruger/Akademia)

Prof. Pieter Duvenhage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia, vertrou dat studente wat dié kwalifikasie voltooi daarin sal slaag om toegang tot die bedryf te kry. Hy sê dit is ook van kardinale belang om studente te kweek wat agterna ʼn verskil in die gemeenskap sal maak.

Die bekroonde joernalis en mediapersoonlikheid Freek Robinson het ook die geleentheid bygewoon. Hy het oor die toekoms van die mediabedryf en rol van joernaliste en verslaggewers in Suid-Afrika gepraat. Robinson maan mediapraktisyns om deurgaans inhoud van ʼn hoë gehalte te skep.

“As joernalis moet jy ingelig bly en wyd belese wees. Sorg dat jy objektief bly en ten alle tye geloofwaardigheid in jou beriggewing behou.”

Maroela Media se studiefonds is tydens die geleentheid aangekondig. ʼn Rentevrye studielening sal spesifiek toegeken word aan ʼn student wat volgende jaar dié BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-graad aan Akademia wil studeer.

Dr. Alé Steyn en Freek Robinson in gesprek tydens die bekendstelling (Foto: Jaco-Louis Kruger/Akademia)

ʼn Groot bonus is dat die persoon wat hierdie studiebeurs in 2021 ontvang, praktiese opleiding sal ontvang met ʼn internskap by Maroela Media wat deur die loop van die jaar deel van die suksesvolle aansoeker se program sal uitmaak.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, sê dié mediahuis is opgewonde oor Akademia se nuwe graad en vertrou dat dit ʼn besondere bydrae tot die bedryf sal lewer.

“Ons sien by Maroela Media dat daar ʼn leemte vir opgeleide joernaliste is. Veral joernaliste wat in velde soos harde nuus en politieke, internasionale en ekonomiese verslaggewing spesialiseer,” sê Lombaard. “Daar is regtig ʼn tekort aan hierdie vaardighede en ek glo die inhoud van Akademia se nuwe kwalifikasie sal dié leemtes vul.”

Indien jy beoog om volgende jaar joernalistiek aan Akademia te studeer, maar nie oor die nodige fondse beskik nie, kan jy ook nou aansoek doen by die Maroela Media-studiefonds deur hier te klik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alexander ·

Dit is wonderlik om te sien hoe Akademia groei. Elke slag wanneer daar ‘n nuwe kursus begevoeg word gee ons ‘n tree nader daaraan om selfonderhoudend te wees.

Jaco ·

Waar gaan dié gegradueerdes van Akademia eendag werk kry? Weet hulle van regstellende aksie en BEE? Ek het ook ‘n BA graad en ‘n BA Honneurs. Eks keer op keer vir werk afgewys want eks wit. En dan moes ek ook hoor eks oor gekwalifiseerd of verkeerd gekwalifiseerd. Sommige potensiële werkgewers het nie geweet wat is ‘n BA graad nie. Uiteindelik, uit absolute desperaatheid, het ek maar die grade afgehaal van my CV af. 4 jaar se studie het ek verander na 3 (my CV sê bloot “studied at university”) en 1 jaar in die weermag het ek verander na 2.
Vreemd, maar met dié leuens op my CV wat my dommer laat kyk, het ek sowaar ordentlike werk gekry. Maar daars geen sprake van lekker aftree eendag nie. Daarvoor het ek te veel skuld opgebou uit die jare waarin ek werkoos was omdat ek eerlik was oor my kwalifikasies.

Wielspore ·

Kennis is koning, jammer om te hoor van jou werkloosheid periodes. In vandag se tye is selfskepping die oplossing, om te vra dat iemand vir jou werk gee is nie meer die oplossing.

Wielspore ·

Hierdie sukses is te danke aan Afrikaners wat werk aan selfbeskikking, doen dit vir jouself om jou toekoms te verseker. Sluit aan by Solidariteit en Afriforum om deel te wees van selfbeskikking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.