Akademia stel eerste honneursgraad bekend

Akademia het Woensdag sy eerste honneursgraad bekendgestel. (Foto: Verskaf)

Akademia het Woensdag amptelik bekendgemaak dat dié private Afrikaanse hoëronderwysinstelling vanaf 1 Maart ʼn Bcom Hons (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie via die nauurse afstandsmodel aanbied.

“Die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie was die eerste graad wat Akademia aangebied het en nou is die eerste honneurskwalifikasie by die instelling ook in dieselfde veld,” sê Elize-Mari Coetzer, departementshoof van Bestuurswetenskappe by die instelling.

Akademia bied reeds vanaf 2014 die kwalifikasie in ondernemingsbestuur aan op die nauurse afstandsmodel en sedert 2022 op die voltydse kampusmodel. Coetzer meen dit was die volgende natuurlike stap om ʼn honneurskwalifikasie aan te bied om studente verder vir hul loopbane toe te rus.

Volgens Coetzer het die Bcom Hons-kwalifikasie ten doel om studente se voorgraadse ondernemingsbestuurkennis en -vaardighede te verdiep deur hulle toe te rus met kennis en vaardighede in die veld.

“Ons wil studente ook voorberei om navorsing in die ondernemingsbestuurveld te doen en ʼn navorsingsverslag te kan skryf en voor te lê.”

Die Bcom Hons-kwalifikasie (NKR-vlak 8) stel studente bekend aan kernbestuurstake sowel as ondersteunende bestuursfunksies. Dit sluit beplanning, organisering, leiding en beheer van strategieë, verandering, geïntegreerde voorsieningskettings en finansies in.

Beroepe wat ná die voltooiing van die kwalifikasie oorweeg kan word, sluit in algemene bestuurder, sakeanalis, sakeadviseur, operasionele bestuurder, aankoper, voorsieningskettingbestuurder, spanleier en sakekonsultant.

Volgens Coetzer sal die kwalifikasie studente in die werkplek onderskei omdat studente oor navorsingsvermoëns, kritiese denke en probleemoplossingvaardighede beskik wat aan die bedryf se behoeftes voldoen.

“By Akademia word studente se denke en hart gevorm sodat hul ʼn waarlike verskil in hul gemeenskappe sal kan maak.”

Coetzer se raad aan voornemende studente wat die kwalifikasie oorweeg is om die ingesteldheid van lewenslange leer aan te neem, om honger te word om hul kennis en vaardighede te verdiep om sodoende hulself van ander te onderskei.

  • Besoek Akademia se webwerf om meer oor die Bcom Hons-kwalifikasie in ondernemingsbestuur te wete te kom.
  • Studieaansoeke vir die Bcom Hons (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie is reeds oop en sluit op Woensdag 22 Februarie 2023. ʼn Beperkte aantal studente sal tot die program toegelaat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Helmien ·

Word dit internasionaal erken, soos n gewone Universiteitsgraad van tersiêre gehalte?

Oom ·

Weinig grade van Suid-Afrikaanse universiteite word internasionaal erken.

kaplyn ·

Natuurlik word alle Akademia grade erken as grade van “tersiere gehalte” soos jy dit stel. Sover ek weet het Akademia ooreenkomste met buitelandse universiteite.

Mariana ·

Baie geluk Akademia, julle gaan net van een hoogtepunt na nog een. Wel gedaan en dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.