Ann van Dyk: Pioniervrou en bewaarengel van jagluiperds

Twee van die jagluiperds by die Ann van Dyk-jagluiperdsentrum. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Ann van Dyk, ’n naam wat deesdae aan onbaatsugtige en etiese diere-, en veral jagluiperdbewaring, gekoppel word, het deur die jare pionierswerk gedoen om te verseker dat diere, veral jagluiperds, vir toekomstige geslagte behoue sal bly.

Die Ann van Dyk-museum is Saterdag by die Ann van Dyk-jagluiperdsentrum net buite Brits in Noordwes onthul om hulde aan dié ikoniese wildbewaarder te bring.

“Ann was ʼn baie hardkoppige individu,” vertel Marilyn Hull, voormalige bestuurder, huidige skakelbeampte en algemene raadgewer van die sentrum.

“As sy haar kop op iets gesit het, het sy dit gedoen.”

In 1971 het Ann die De Wildt jagluiperd-navorsingsentrum op die been gebring. Met dié sentrum wou Ann met jagluiperds, wat in daardie stadium uitsterwing in die gesig gestaar het, teel. Die naam van die sentrum het mettertyd na die Ann van Dyk-jagluiperdsentrum verander, omdat sy elke dag van haar lewe daaraan gewy het.

Sedert die sentrum dekades gelede gestig is, is daar meer as 600 jagluiperdwelpies en meer as 500 wildehondjies by die sentrum gebore. Dit is ook by dié sentrum waar die genetiese oorsprong van die majestueuse koningsjagluiperd met sy kenmerkende swart pels, gevind is.

Dié jagluiperd is deur die jare verskeie kere opgemerk, maar weens sy seldsame natuur en die kennis wat oor die besonderse grootkat ontbreek het, was mense van mening dat dit ʼn spesie op sy eie was.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

In die 1980’s was Ann se jagluiperd-teelprogram so suksesvol, dat daar gevra is dat hulle dit vir ʼn wyle stop omdat daar nie genoeg plek vir al die klein jagluiperdjies was nie. Die planne van twee wyfies het egter nie met dié reëling gestrook nie, hulle het by hul kampe ontsnap om hulself tuis te maak by Frik de Jager, ʼn ouer jagluiperdmannetjie op die plaas.

ʼn Paar maande na dié ontsnapping het elkeen van dié wyfies ʼn werpsel gekry, en in elkeen van dié werpsels was daar pragtige, donker welpies. Daar is vermoed dat dié welpies dalk koningsjagluiperds mag wees, hoewel die sentrum dit aanvanklik maar stil gehou het om eers seker te maak van hul saak.

Tog het dié geskiedkundige gebeurtenis as amptelike bewyse gedien dat daar wel iets soos ʼn koningsluiperd bestaan, en dat dit nie ʼn spesie op sy eie is nie, maar net ʼn genetiese afwyking van die doodnormale jagluiperd.

Van die wildehonde by die Ann van Dyk-jagluiperdsentrum. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Deur die jare heen het die sentrum die tuiste vir verskeie diere- en voëlspesies geword. Dit sluit die blou- en rooi duikers, aasvoëls (insluitend die hoogsbedreigde Egiptiese aasvoël), rooikatte, meerkatte, wilde honde, Njalas en hiënas in. Die meeste van die diere by die sentrum vorm nie deel van die toere nie en word op só ʼn wyse geteel dat hulle weer in die natuur vrygelaat kan word.

Die bewaarders by die sentrum het hegte bande met die jagluiperds. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die sentrum het ook vir jare ʼn groot rol in die opleiding van jong kinders oor die belangrikheid van jagluiperds gespeel. Die bekende Springbok-rugbyspeler, Bryan Habana, het deel van dié program gevorm.

Bryan het in 2007 ʼn 100-meterresies teen Byron, die sentrum se jagluiperd-verteenwoordiger, gehardloop. Hoewel Bryan ʼn 40 meter-voorsprong gehad het, het Byron steeds koning gekraai.

“Na afloop van die resies het Bryan omgedraai met net so ʼn groot glimlag op sy gesig.

“Ek weet nie of dit verligting of pure geluk was dat hy nou net teen ʼn jagluiperd gehardloop het nie,” vertel Marilyn.

Kyk ʼn video van Maroela Media se kuier by die Ann van Dyk-jagluiperdsentrum hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.