ATTSA staan skoene van steunpilaar vol

Anton Smit, voorsitter van ATTSA. (argieffoto)

Die Afrikaanse Toekomstrust Suid-Afrika (ATTSA) staan kwesbare Suid-Afrikaners by met onbaatsugtige hulp en volhoubare bemagtiging.

ATTSA is ’n onafhanklike welsynsorganisasie wat trots en menswaardigheid, eienskappe wat vir talle mense in ongekende konsepte ontaard het, aan kwesbare individue terugbesorg.

“By die Afrikaanse Toekomstrust skep ons tuistes vir fondse,” het Dinah Bronkhorst, die uitvoerende hoof van ATTSA in haar Woensdagaand-program op LEKKER FM 98.3 gesê.

“Welsynswerk is deel van ’n mens se DNS en maatskaplike werk is iets wat uitgeleef moet word.”

Sy het onlangs met Anton Smit, voorsitter van ATTSA, in die einste radio-kletsprogram oor sy passie vir dié soort werk gesels. Vir hom is dit lewensbevredigend om ’n verskil te maak in hawelose en kwesbare mense se lewe.

“Wanneer iemand wat nutteloos voel, geleer word om naaldwerk te doen en in verwondering die eindproduk sien, vind daar soveel meer as net werkskepping plaas.

“Wanneer ’n vrou wat vantevore geen heenkome of inkomste gehad het nie, geleer word om koekies te bak prontuit erken dat dit so lekker is om weer saak te maak, kan jy nie anders as om met dankbaarheid te kyk na die verskil wat ATTSA bewerkstellig nie,” het Smit gedeel.

ATTSA het die Help die helpers-fonds gestig nadat hulle besef het dat talle mense met oop hande en harte vir ander leef, sonder dat hulle daarvoor vergoed word.

“Ons het skenkings gekry wat dit moontlik gemaak het om van hierdie instansies wat finansieel swaarkry te help met voertuie, salarisse en selfs administratiewe probleme soos registrasie. Die Afrikaanse Toekomstrust is hier om te help en nie om iets daaruit te kry nie.”

Hy het ook benadruk dat ATTSA daarin glo om mense op ’n volhoubare wyse by te staan.

“Ons help dus om mense te voer, maar leer hulle dan ook om selfstandig te kan funksioneer sodat ons kan ophou om hulle te voer.”

Een van die organisasies wat volhoubare bemagtiging in die kollig stel, is Ge-Help. Dié organisasie verkoop produkte namens welsynsorganisasies en entrepreneurs wat daarna streef om selfonderhoudend te wees.

Die Martiniaal-naaldwerksentrum by die Danville Reddingsdaad is onder meer een van die organisasies wie se produkte deur Ge-Help verkoop word.

Dié sentrum, onder leiding van Martina Brink, staan kwesbare vroue by met naaldwerkopleiding en broodnodige werksgeleenthede.

Voorskote, wasgoedsakke en warm, dik slaapsakke van hoë gehalte is van die produkte wat deur inwoners van die Reddingsdaad gemaak en deur Ge-Help verkoop word.

“Ge-Help verkoop ook houtboksies wat deur mans sonder ’n heenkome gemaak word onder leiding van Ooskerk in Pretoria. Koekies wat by Eljada-huis gemaak en verpak word, is ook baie gewild,” het Liezel Carelse, fondsversorger en bemarker by ATTSA, gesê.

ATTSA se ooivaarstee vir ongewenste babas vind Vrydag 26 Augustus tussen 10:00 en 12:00 by ATTSA se kantore in Pretoria plaas.

ATTSA se leuse is “Hulp met hart” en lede ondersteun graag projekte wat dieselfde uitgangspunt het.

Ander projekte wat deur ATTSA ondersteun word, sluit die volgende in:

  • Opleiding in pleegsorg.
  • Let’s Work It Out wat kinders in die Louis Botha Kinderhuis met loopbaanvoorligting bystaan.
  • Hope Giving Foods lewer kosprodukte aan hawelose mense tydens die tafeltjieprojek se beroepsgeoriënteerde gespreksessies.
  • Die Groei Goggas-projek sien na voorskoolse kinders in Danville om.
  • Northern Lights lei kwesbare jong mans op om selfvoorsienend te word.
  • Moeggesukkel reik na behoeftige families uit met die oog op volhoubare bemagtiging.

Indien jy graag betrokke wil raak, kan jy die woord HELP na 40112 stuur of ’n e-pos na [email protected] stuur.

Besoek ATTSA se webwerf vir meer inligting oor hul projekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.