Baba van 380 g nou ‘gesond en gelukkig’

Shadei en Seth Dreyer (Foto: Versakf)

Seth Dreyer van Worcester in die Wes-Kaap is op net 24 weke deur middel van ʼn keisersnee in die lewe gebring.

Hy het slegs 380 g by geboorte geweeg. Nadat daar aanvanklik baie kommer was oor of Seth sal oorleef, vier hy binnekort sy eerste verjaarsdag en is hy ʼn gesonde en gelukkige seuntjie.

“Dit is net deur God se genade en te danke aan die wonderlike mediese en verpleegspan by Netcare Blaauwberg-hospitaal, wat so mooi na Seth omgesien het sodat hy kan oorleef en die oulikste klein engel kan word vir wie ons so lank gewag het,” het Seth se ma, Shadei Dreyer gesê.

“Vandat hy verlede jaar op 15 Desember in ʼn kritieke toestand gebore is, en na ʼn lang gesukkel oor klomp maande, is dit sowaar ʼn geskenk van God dat hy al sy ontwikkelingsmylpale bereik het,” het sy gesê.

Dreyer het deur twee miskrame gegaan voordat sy Seth gehad het. Sy is nou ʼn ma van twee.

“Ek en my verloofde, Jean Lombard, het albei gemengde gevoelens gehad oor die nuus dat ek toe wel weer swanger is. Ons wou baie graag nog ʼn baba gehad het, maar ons was vreesbevange dat ons nóg ʼn baba sal verloor,” het sy gesê.

“Ons het ʼn lang en moeilike pad met Seth gestap. Hy moes altesaam 96 dae in die hospitaal deurbring, maar ons is so dankbaar dat hy vandag saam met ons by die huis kan wees en dat ons kan voorberei vir sy eerste verjaarsdag.”

Dr. Ricky Dippenaar, ʼn neuroloog by Netcare Blaauwberg‑hospitaal, het gesê baba Seth se ontwikkeling oor die volgende 12 maande moet baie fyn gemonitor word.

“Shadei het aan lewensbedreigende pre-eklampsie, ʼn swangerskapkomplikasie wat met hoë bloeddruk gepaard gaan, gely en daar was geen ander keuse as om Seth 16 weke voor die volle termyn uit te haal nie,” het Dippenaar gesê.

“Seth was veral kwesbaar in die eerste 72 ure nadat ons hom uitgehaal het, maar hy het ʼn ongelooflike wil om te lewe gewys.”

Dreyer het gesê sy het net vinnig vir Seth na sy geboorte gesien voordat die dokters na hom begin omsien het.

“Hy was só piepklein, al wat ek kon sien wat dat sy bene geskop en beweeg het. Dit was eers twee dae later dat ek hom werklik kon sien, geen woorde kan die gevoelens wat ek gehad het, beskryf nie.”

“Ek en my verloofde is baie dankbaar vir ons gemeenskap en ons kerk vir hulle ongelooflike ondersteuning deur die hele ervaring met Seth. Maar die grootste dank gaan aan God, wat na elke gebed geluister het om Seth gesond en vegtend te hou elke dag in die hospitaal. Dit was gedurende die tyd van nood dat ons werklik besef het dat God na ons luister en dat net Hy in beheer is,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LD ·

Wat n wonderwerk!!! Dankie aan ons Hemelse Pappa wat hom so beskerm het! Geniet sy 1ste verjaarsdaggie, hoop daar gaan nog vele van hulle wees om te vier???

Essa ·

Heerlike nuus-storie om te lees; bly vir die ouers en sterkte en voorspoed met die pad vorentoe vir Seth Dreyer en sy sibbe. ?✨

MTB ·

Absolute wonderwerk en n geskenk van God! Mag Seth vir julle as ouers net vreugde in die lewe verskaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.