Bejaarde sakeman stap 91 km vir hongeres

Solly Krok. (Foto: Keep the Wolf from the Door/Facebook)

Die bekende sakeman en filantroop Solly Krok het in Mei vanjaar onderneem om 91 km in sy tuin in Johannesburg te stap in ʼn poging om R108 miljoen vir honger mense in die land in te samel.

Krok, wat in Mei vanjaar 91 jaar oud geword het, beplan om sy doelwit Donderdag (4 Junie) te behaal. Marc Lubner van Afrika Tikkun en prof. Michael Rudolph van Siyakanya en die Universiteit van Johannesburg sal teenwoordig wees wanneer Krok ʼn simboliese rondte stap om die einde van die staptog aan te kondig. Dié twee maatskaplike impak- organisasies was betrokke by Krok se projek wat hy Keep the Wolf from the Door noem. Die oogmerk met dié projek is om armoede en honger in arm huishoudings en gemarginaliseerde gemeenskappe te probeer hokslaan.

Krok, wat onder meer die mede-eienaar van die Apartheidsmuseum is, het Dinsdagoggend aan radio-omroeper Martin Bester op Jacaranda FM gesê hy het aanvanklik gedink dit gaan onmoontlik wees om dié mikpunt van 91 km te behaal in die ruimte van 170 m waar sy huis is, maar dat hy wel sy teiken maklik gehaal het.

“Ek het nooit voorheen gestap, gehardloop of geoefen nie. Met ʼn positiewe uitkyk het ek wel daarin geslaag,” het Krok gesê.

Hy het bygevoeg dat hy geïnspireer is om die staptog aan te pak deur die Britse weermagveteraan Tom Moore, wat in April vanjaar net voor sy 100ste verjaardag £39 miljoen (sowat R840 miljoen) vir liefdadigheid in Brittanje ingesamel het deur in sy tuin met sy loopraam te stap.

Volgens Krok wou hy ʼn volhoubare plan in werking stel om honger mense in Suid-Afrika te voed. “Dit bekommer my geweldig om te sien hoe armoede oornag toegeneem het aangesien mense nie kan werk en hulle gesinne kan onderhou nie. Die hartseer ding is dat ʼn groot gedeelte van Suid-Afrika se bevolking reeds arm was voor die pandemie en selfs ná die pandemie onder beheer gebring is met ʼn inenting en medikasie, sal die armes steeds arm wees.”

Krok en sy gaste sal ook ʼn regstreekse paneelbespreking doen op Facebook, waar hulle onderwerpe soos onderrig, sake en mentorskap gaan bespreek.

“Ek is oorgehaal om ʼn langtermyn verskil te maak deur ons program te koppel aan volhoubare voedingskemas,” het hy gesê.

Besoek Keep the Wolf from the Door se Facebook-blad vir meer besonderhede oor hoe om ʼn skenking te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.