Bemagtig ʼn kind – die brug na ’n toekoms

 jong-meisie-pixabay-icsilviu.jpg

Foto: icsilviu/pixabay.com

Lewensveranderend.  Dit is die een woord waarmee die hele doel van Solidariteit Helpende Hand se Bemagtig-’n-kind-fonds opgesom kan word.

Om ’n rivier te kruis sonder ’n brug is soveel uitdagender as om ’n rivier te kruis met behulp van ’n brug.  Dit is só logies en só eenvoudig.  Wanneer die brug sterk en vas en stewig is, kan ’n rivier wat afkom selfs tydens stormwaters oorbrug word.  Wanneer daar geen brug is nie, is die enigste opsie dikwels maar om te bly aan die kant waar jy is.  Totdat jy nie meer nodig het om oor te gaan nie, of totdat die water jou toelaat om oor te gaan.

Dit is met hierdie wete dat Solidariteit Helpende Hand die Bemagtig-’n-kind-fonds as ’n brug-fonds bou.  Soos met die meeste van ons projekte poog ons baie sterk om nie afhanklikheid te skep nie, maar hoop; nie mense swakker te maak nie, maar sterker.  Wanneer ons sê dat hierdie fonds ʼn brug-fonds is, is dit presies wat ons daarmee wil bereik: Om vir kinders vir wie dit andersins nie moontlik sou wees nie, ʼn brug na ʼn toekoms te skep.  Ons wil verhinder dat hierdie kinders vir wie hierdie fonds bedoel is, bly waar hulle is, moed opgee en sonder hoop aan ʼn toekoms moet bou.

Wanneer ʼn mens hulp verleen aan iemand is dit tog logies dat die hulp van so ʼn aard moet wees dat dit werklik ʼn verskil maak.  Baie hulpbronne en baie energie gaan dikwels juis verlore omdat baie opregte en goed bedoelde hulp tot niks kom nie wanneer dit nie deeglik beplan en nie reg aangewend word nie.  Hulp wat goed georden en goed gestruktureerd en baie doelmatig is, is net soveel anders.

seun-lees-bemagtig-n-kind-pixabay.jpg

Foto: StockSnap/pixabay

Agtergrond van Bemagtig ʼn kind

Solidariteit Helpende Hand is oor jare heen reeds bekend daarvoor dat ons studiehulp aan studente bied deur middel van rentevrye studielenings.  Vanuit meer as 200 verskillende fondse is daar verskillende alternatiewe vir verskillende studierigtings en omstandighede van studente.  Gou het dit egter duidelik geword dat daar dikwels ook by kinders onder 18 bepaalde uitdagings is wat nie deur gewone maatskaplike ondersteuning hanteer word nie.  Daar is so baie mooi projekte vir verligting en ondersteuning aan kinders, maar tog was die leemte duidelik dat daar soms vir ʼn kind ʼn bruggie na ʼn toekoms gebou moet word.  Die hartseer is dat daardie bruggie vir baie kinders ʼn onwerklike droom sal bly.  Soms moet daar in die weg na ʼn toekoms koshuisgeld, terapeutiese dienste, vervoeruitdagings en maatskaplike beproewings oorbrug word.  Daarom is in die JD Kestell-noodfonds met ʼn verdeling begin tussen studente en kinders.  Stelselmatig het die behoefte vir bruggies vir hierdie kinders se aansoeke so baie geword dat daar geen keuse was as om hierdie fonds te onderverdeel nie.  Die begin van Bemagtig ʼn kind.

Anders gesê: Bou ʼn toekomsbrug vir hierdie kinders

Toekomsbrug

Hierdie ontbondeling van die Bemagtig‑ʼn‑kind-fonds van die JD Kestell-fonds stel Helpende Hand in staat om aansoeke een vir een te assesseer, hulp te ondersoek, goeie aanbevelings te doen en ʼn brug vir kinders te bou.

In praktyk beteken dit baie meer as net koshuisgeld wat betaal word, of terapeutiese dienste wat verskaf word, of ʼn vinnige verligtingsoplossing vir ʼn uitdaging.  In praktyk is hierdie fonds vir ʼn kind ʼn brug na die toekoms.

Dit verhinder juis dat die kind afhanklik word en in die toekoms deel word van ʼn groter armoedeprobleem.  Die fonds gee ons die geleentheid om sinvol kinders se lewens te verander.

Ons kan opvoed. Ons kan oplei. Ons kan ontwikkel. 

ʼn Span van maatskaplike werkers hanteer die aansoeke, die beste hulp moontlik word ondersoek, voorgestel en die belangrikste van alles – dit word WAAR gemaak! ʼn Bruggie word gebou van waar die kind is na waar die kind moet wees, na waar die kind kan wees.

pa-seun-stap-brug-mayaq.jpg

Foto: mayaq/pixabay.com

Dit is opmerklik hoe hierdie manier van GROOT dink ʼn reuseverskil gemaak het en aandag aan die behoeftes van kinders begin skenk het.  Die antwoord is altyd: Belê in strukture wat volhoubaar is.  Hierdie fonds belê in volhoubare drome van kinders, drome wat waar gemaak word en omstandighede wat verander word.  Een vir een, kind vir kind, naam vir naam.  Dit gaan oor baie meer as net ʼn klomp kinders skielik help.  Dit gaan oor wat het ʼn spesifieke kind nodig om ʼn volgende tree te gee.  Hoe kan ons ʼn Helpende Hand wees in die lewe van hierdie kind?  Hoe kan hierdie kind sy of haar omstandighede oorbrug?

Die vreugde van elke kind wie se lewe ʼn mens deur ʼn toekenning verander, is onmeetbaar. Die hartseer van elke aansoek wat ʼn mens moet wegwys omdat daar nie vir sy of haar brug befondsing is nie, is sieldodend.  Tog kan ʼn mens nie ophou nie.  Deur Bemagtig ’n kind moet ons aanhou doen wat gedoen moet word.  Brûe bou wat lewensveranderend is.

Die maklikste om die doel van hierdie fonds te verstaan is om ʼn bietjie selfondersoek in ʼn mens se eie lewe te doen oor die verskil wat iemand of iets, gawes of bronne gemaak het sodat jy is wie jy vandag is en waar jy is en watter verskil daardie brug beteken het.  Of juis andersom te dink waar jy kon gewees het as jy op die regte stadium ʼn brug gebied is wat jou nooit beskore was nie.

Bemagtig ’n kind as deel van die JD Kestell-fonds bou toekomsbrûe vir kinders.  Ons kan nie vir almal nie, maar daar waar ons kan, is die oes duidelik, die dankbaarheid groot en die drome ʼn werklikheid.  ʼn Enkele brug kan lewensveranderend wees.  Daarom is Bemagtig ’n kind een van Solidariteit Helpende Hand se kosbaarste projekte.

Besoek gerus www.bemagtignkind.co.za en vat hande met Solidariteit Helpende Hand se Bemagtig-ʼn-kind-projek. 

Hannes Noëth is uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand

bemagtig-n-kind.jpg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.