Boeke bring glimlagte vir kinders van Mpumalanga

Brendon Staniforth, Maroela Media se motorjoernalis, het die naweek op ‘n uitreikprojek saam met Ford SA gegaan. (Foto: Justin Lee.)

Die meeste 14-jariges by skole in arm gemeenskappe in die Suid-Afrikaanse platteland lees op die vlak van ‘n 10- of 11-jarige.

Dis ‘n skrale troos dat dié statistiek, afkomstig uit navorsing wat die Universiteit van Stellenbosch in 2016 gedoen het, effe beter lyk as die resultate van ‘n soortgelyke studie deur Rhodes Universiteit in 2010: Tóé is bevind die meeste 14-jariges lees op die vlak van ‘n 7-jarige. En dit nie in Engels nie, maar in hul eerste taal.

Dis nie die enigste skokkende syfers oor leesvaardigheid nie. ‘n Wêreldwye geletterdheidstudie genaamd Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) wat in 2016 gedoen is, het getoon 78% van gr. 4-leerders in SA kan nie met begrip lees nie. SA het ook die swakste gevaar van die 50 lande wat aan die studie deelgeneem het.

By Maroela Media is ons passievol oor die feit dat dit uiters belangrik is vir kinders om in hul moedertaal onderrig te word, omdat talle studies bewys dat inligting beter vasgelê word in ʼn leerder se moedertaal as in ʼn tweede taal. Maar terwyl ons en talle instansies met wie ons hande vat, ons beywer vir toegang tot Afrikaanse onderrig vir kinders wie se moedertaal Afrikaans is, moet ons nie vergeet dat dieselfde argument geld vir kinders wie se moedertaal ʼn ander Afrikataal is nie.

Dié realiteit het die naweek van 6 tot 8 Maart vanjaar deeglik by my ingesink. Ford en Rally to Read, ʼn opvoedkundige trust wat hulle al vir 18 jaar beywer vir die verspreiding van boeke en ander opvoedkundige materiaal by skole in arm gemeenskappe, het ons saamgenooi Hazyview toe, as deel van ʼn program waarmee ons ʼn paar skole sou besoek om boeke en leermateriaal uit te deel.

Aanvanklik het ek gedink: Oukei, ons gaan ʼn paar boeke vir minderbevoorregte kinders uitdeel – maklik.

Ek was heeltemal onvoorbereid op dit wat in Mpumalanga vir my gewag het.

Ek het drie kinders. Hulle is almal in Laerskool Stephanus Roos in Pretoria. Die skool word vanjaar 50 jaar oud. Die eerste skooldag van 2020 was ʼn reusegedoente waar almal op die pragtige nuwe pawiljoen gesit en na die verrigtinge gekyk het. Die atletiekbaan was grasgroen en die lyne daarop perfek geverf. Op 17 Januarie het ek nie veel daarvan gedink nie; dit is mos maar hoe dit moet wees. Maar ná die naweek voel ek skielik anders daaroor.

My spanleier, Jean Coetzee van Numbi Ford Hazyview, het dit perfek opgesom: “As my kinders óóit weer kla oor die skool, is daar perde!” Hy het nie perde gesê nie. Ek voel nou dieselfde daaroor.

Ons het twee laerskole besoek: Ifalethu Primary School, en Umpopoli Primary School. Ifalethu het 1 300 kinders en nie een sportveld of pawiljoen nie – maar hulle is verskriklik bly om ons te sien. Elke leerder is daar, in sy/haar skooluniform – op ʼn Saterdag. Dit sing en juig en gil en glimlag… oor ʼn paar boeke?

(Foto: Justin Lee.)

Ná ʼn hengse prosessie sit ons almal en die verrigtinge begin. Daar is verteenwoordigers van die onderwysdepartement, die hoof, Rally to Read, Ford – de lot. Die program bestaan uit kinders wat sing, ander wat dans, ure se bohaai – oor ʼn paar boeke.

Dit is by die tweede skool dat dinge vir my begin skeefloop. Umpopoli Primary School is ietwat kleiner, maar soos ons inry, sien mens ouer tieners of jong volwassenes langs die pad sit, goed gedrink – en dit is skaars 11:00. Ten spyte van dié voorbeeld en realiteit is die jonger kinders op skool, in uniform, besig om hul toekoms te probeer verander. En weer eens kan hulle nie hul entoesiasme wegsteek nie – oor ʼn paar boeke.

Drie seuns kom dans vir ons. Toe hulle klaar is, kom daar nog ʼn kind (in sy skooluniform) op twee krukke en net een been – ek skat hy is so tien jaar oud – en kom dans saam, beter as wat ék kan dans. Die hoof staan op en sê in siSwati vir die seun: “Maak nie saak hoe min jy het nie, jy kan altyd bo jou omstandighede uitstyg …”

Ek begin tjank… saggies, want niemand mag sien nie.

By dié skool beland ek en my vrou in die debatdemonstrasie. Die kinders moet debatteer vír of téén die dra van skooluniforms. My vrou los my soos ʼn warm patat toe sy agterkom ons span gaan teen die dra van uniforms debatteer en sluit aan by die ander span. Weet jy wat is een van die redes wat die eerste kind gee oor hoekom ʼn kind ʼn skooluniform moet dra? “So that if you’re found dead, people know which school to notify.”

My oë rek so groot soos pierings. Ek dog, nee wat, die kind is net dramaties. Daarna sê drie ander kinders dit ook.

Sjoe. Dís hul realiteit.

Soos ons die formaliteite afhandel en weer in ons vloot Ford-voertuie klim, besef ek: Hierdie kinders doen die beste met dit wat hulle het. Dit is min, maar hulle probeer. In die skole waar Rally to Read al ʼn tydjie betrokke is, het die leesouderdom van veertienjariges verbeter van ’n gemiddelde ouderdom van sewe na veertien.

As ons nie ons kinders help om te lees nie – ongeag sy of haar moedertaal – is ons besig om ons land se volgende geslag in die steek te laat. As jy en jou kinders goed in jul eerste taal kan lees, werk aan ʼn tweede of derde taal. Terwyl ons veg vir Afrikaanse moedertaalonderrig vir ons kinders, is daar baie ander, soos die kinders van Hazyview, wat maar te dankbaar is om ʼn Engelse storieboek te kan vashou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.