Boesemvriende inspireer ná seun in rolstoel beland

Die boesemvriende Willem Espach en Donovan Bodenstein (Foto: Verskaf)

Twee leerders van Laerskool Wonderboom-Suid se boesemvriendskap inspireer mense so ver hulle gaan en bewys dat niks in die pad van ware vriendskap kan staan nie – nie eens ʼn lewe in ʼn rolstoel nie.

Die 12-jarige Donovan Bodenstein moes dié jaar begin om ʼn rolstoel te gebruik om oor die weg te kom, maar danksy sy beste vriend, Willem Espach, kan hy steeds saam met sy maats skool gaan. Jurgen Green, ʼn onderwyser by Laerskool Wonderboom-Suid, vertel dat Willem vir Donovan elke dag van een klas na die ander stoot en hom help om sy boeke vir elke klas reg te kry. En dít boonop met ʼn positiewe houding en groot glimlag op sy gesig om sy vriend te kan help.

Donovan se ma, Chantall Bodenstein, vertel dat sy op 30 Mei 2006 lewe geskenk het aan ʼn perdfris en gesonde seuntjie wat deur sy kleuterjare doodnormaal gefunksioneer het. “Ons het sowat drie jaar gelede begin agterkom dat Donovan sukkel om trappe te klim en nie vanself van die vloer af kon opstaan nie,” vertel Bodenstein. Tóg het Donovan nooit gekla dat hy ongemaklik voel nie.

Toe Donovan egter so twee jaar gelede begin sukkel het om normaal by die skool te funksioneer, is hulle dokter toe. Hy is met Duchennes-spierdistrofie gediagnoseer. Dié siekte is ʼn genetiese siekte wat progressiewe spieraftakeling en swakheid tot gevolg het. Die siekte tas ook die hartspier aan en daarom moet Donovan een keer per jaar ʼn hartsonar ondergaan.

Bodenstein vertel dat haar Donovan vanjaar ʼn operasie moes ondergaan om die spiere by sy hakke te rek sodat hy beter kan loop. “Hy loop maar nog baie ongemaklik en moet ʼn rolstoel gebruik om oor die weg te kom,” sê sy.

Toe Donovan ná die operasie terugkeer skool toe, het die skool alles moontlik gedoen om Donovan te help. Een van die onderwysers het selfs ʼn rolstoel vir Donovan geleen. “Ons het regtig baie goeie ondersteuning van die skool ontvang,” vertel Bodenstein.

Vrese dat Donovan dalk gespot sou word, is vinnig besweer. “Willem het hom dadelik oor Donovan ontferm en dit sy doel gemaak om hom ʼn regverdige kans op ʼn normale onderrig-ervaring te gee,” vertel Green. “Nie net het Willem dit sy taak gemaak om sy vriend die afgelope ses maande halfuurliks vir meer as tien keer ʼn dag tussen klasse rond te stoot en sy boeke vir elke klas reg te kry nie, maar dit als met ʼn positiewe houding en liefde vir sy medemens.”

Green glo dat die inspirasie van dié storie juis daarin lê dat niemand Willem ooit versoek of gedwing het om die taak op sy skouers te neem nie.

Green en Bodenstein het dit eens dat Donovan steeds sy positiewe ingesteldheid behou en nie moed opgee ondanks sy fisieke beperkinge nie. Bodenstein is ook baie trots op haar seun se positiewe uitkyk en sê dat hy in ander opsigte maar net ʼn normale 12-jarige seun is.

“Mag ons as ouers, grootouers, onderwysers en volwassenes herinner word aan dié storie wanneer die woorde ‘die jeug van vandag’ so vinnig oor ons tonge glip,” sê Green.

Bodenstein sê sy is baie dankbaar vir die emosionele en finansiële ondersteuning van die skool en veral die Steve Biko Spierdistrofie-stigting.

Die Laerskool Wonderboom-Suid sal Vrydag ʼn geldinsameling hou sodat Donovan sy eie rolstoel kan hê, asook om die skool rolstoelvriendelik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HESTER NEL ·

Dit is so mooi positiewe storie en dit is ‘n wonderlike vriend dankie vir so mooi positiewe storie.

Hallelujah ·

Positiewe storie postief. Kom almal ondersteun Laerskool Wonderboom vir altwee die wonderlike doelwitte. Uiters positiewe storie. Willem, dankie dat jy vir Donovan so ‘n goeie maat is. Gee en doen vir ander en dan sal daar vir jou gegee en gedoen word. Willem, mag jy net geseend bly. En Donovan daar word gebid vir jou – jy is ‘n sterk seun ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.