Bruid met kitstroue verras

Jo Hefer en haar bruidsmeisies het gedink hulle gaan aan ʼn modeparade deelneem – toe is dit eintlik haar troue. (Foto: In-frame Studio)

Saterdag 30 Oktober was ʼn sonnige Saterdag soos enige ander en op dié dag het Jo Hefer saam met haar geliefdes en talle ander toekomstige bruide blinkoog by Thulani Wedding Venue in Pretoria vir ʼn bruidsuitstalling opgedaag.

Jo se familie was nie net daar omdat hulle in die opgewondenheid van haar troubeplanning wou deel nie. Hulle het haar ook bygestaan toe sy daar vir ʼn troukompetisie ingeskryf het.

Wat Jo egter nie geweet het nie, is dat sy later die dag aan ’n modeparade sou deelneem en dat haar verloofde Paul aan die einde van die paadjie vir haar sou wag om met haar te trou.

“Dit is soos ʼn flashmob‑troue. Net ʼn paar mense het geweet wat aangaan,” verduidelik Natasja Jackson van Envy Weddings and Events. Jackson, saam met die venue, Trou By Ons, In-frame Studio en ds. Pieter Fourie, het stil-stil saam met Paul gewerk om dié kitstroue te reël.

Hoe het hulle dit reggekry om vir Jo voor die kansel te kry?

Jo Hefer op haar troudag. (Foto: Twané Paich Corporate & Lifestyle Photography)

Sy en haar bruidsmeisies het gedink hulle gaan aan ʼn modeparade deelneem. Saam met ʼn paar ander modelle het hulle rokke gekry om aan te trek, hare en grimering is gedoen en die kapel is mooigemaak vir die dag se modeparades.

Intussen het Paul ongesiens weggeglip om sy kortbroek en plakkies vir ʼn deftige trou-uitrusting te verruil.

Toe die tyd aanbreek, het die gaste hulle sitplekke ingeneem en John Owens, die seremoniemeester, het na ʼn kort verwelkoming met die program begin. Hy het die bruidsmeisies een vir een voorgestel waarna die kapel se deur toegemaak is.

Daarna het Owens vir Jo as die eerste bruid voorgestel wat met die paadjie sou afstap en sy het ʼn Vela Bridal Studio-rok gedra.

“Ons het die deure oopgemaak en sy het net ʼn paar treë geloop toe sy opkyk en die ‘Ons trou nou’-bordjie in Paul se hand sien,” vertel Jackson.

Jo se pa het van die kant af ingestap gekom en haar met paadjie afgeneem na waar Paul staan.

“Jo én die gaste het toe eers besef wat besig is om te gebeur. Dit was werklik so ʼn spesiale geleentheid.”

Fourie het die egpaar voor getuies, hoewel hulle vreemdelinge vir die bruidspaar was, in die huwelik bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Filistyn ·

Wow. Wat ‘n romantiese man. Daar was ook nie tyd vir die bruid om te “stress” met al die reelings nie. Pragtig .

Kattebol ·

Nee, nee, nee! ‘n bruid se dag is spesiaal….. Sy’t nie eers ‘n blommetjie gehad nie en ek is seker sy voel effens beroof van die glorie van die oomblik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.