Demi Lee se wenrok kan joune wees!

Dem Lee in haar Die Kontrak-wenrok by Afrikaans is Groot 2018.

Demi Lee Moore het aangekondig sy sal twee van haar bekendste aandrokke vir liefdadigheid gee – een vir ʼn behoeftige meisie se matriekafskeid en een om opgeveil te word. Moore sal dit doen in haar hoedanigheid as ambassadeur van Solidariteit Helpende Hand se #HelpHetta-projek.

Die pienk-en-wit blommerok waarin Suid-Afrika vir Moore in 2018 leer ken het toe sy by die Afrikaans is Groot-konsert as die wenner van Die kontrak aangekondig is, én die rooi rok waarin sy vanjaar haar vyf Ghoema-toekennings ontvang het vir haar debuutalbum, Mis, eet, slaap, herhaal, sal weggegee word vir die #HelpHetta-projek.

Demi Lee Moore in haar rooi rok by die Ghoemas 2019 (Foto: Facebook)

Moore sê sy sien daarna uit om #HelpHetta se ambassadeur te wees en dat dié projek haar na aan die hart lê.

Die #HelpHetta-projek help meer as 3 000 hulpbehoewende hoërskool- en laerskoolmeisies wie se huishoudings dit nie kan bekostig om sanitêre ware aan te koop nie. Volgens René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand, mis dié meisies soms tot 55 skooldae weens die sensitiewe saak.

“Ek onthou ek was op hoërskool en was in die winkel toe kyk ek wat sanitêre ware kos. Ek het nog daar gestaan en by myself gedink hoe bekostig ’n mens dit as party mense skaars ’n brood kan bekostig? As jy ’n keuse moet maak tussen kos en sanitêre ware, watter een gaan jy dan kies? Dit is vir my dus belangrik om deel te wees van dié projek want ek wil graag saam met die publiek dié meisies help om hul lewensgehalte te verbeter,” sê Moore.

Demi Lee wys haar twee rokke (Foto: Verskaf)

Moore sê tienermeisies het genoeg om hulself oor te bekommer, ʼn tekort aan sanitêre ware moet beslis nie een van daardie goed wees nie. “Meisies moet veilig by die skool voel en moet met selfvertroue kan rondstap op die skoolgronde of aan sport kan deelneem.”

Volgens Moore het sy die rokke wat sy aan dié projek skenk, gedra op groot gebeurtenisse in haar lewe – op tye toe haar drome waar geword het.

“Ek het net ’n tydjie terug gedink die rokke hang net daar in die kas. As ek dit kan skenk en ’n verskil maak, hoekom nie? Toe kom #HelpHetta oor my pad en dit was ’n perfekte kombinasie. Ek hoop dit kan ander meisies se drome ook waar maak,” voeg sy by.

Behoeftige matriekmeisies kan aanlyn aansoek doen om Moore se Ghoema-rok, kompleet met ’n mooimaaksessie, te kry vir haar groot aand.

Mense wat graag Moore se pienk-en-wit Afrikaans is Groot-rok in die hande wil kry, kan aanlyn ’n aanbod maak. Die geld wat op dié manier ingesamel word, sal vir Helpende Hand se #HelpHetta-projek aangewend word.

Besoek www.helphetta.co.za vir meer inligting of om ’n bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Phillip ·

Wat ‘n wonderlike gebaar van ‘n wonderlike mens. Dankie Demi Lee! Jy is ‘n regte hartsmens.

Lizelda ·

Defnitief Phillip, hoop sy bly altyd so pragtig en vriendelik.

GM ·

Dis skrikwekkend hoeveel mense nie noodsaaklikhede kan bekostig nie, tog word geboortebeperkings nie ingestel nie.

Dis ‘n mooi gebaar van Demi. Darem iets goeds wat gekom hy van haar wat opgedaag het vir die Ghoemas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.