Dié organisasies haal uit en wys vir Afrikaans

Dr. Dirk Hermann, voorsitter van die Virseker Trust. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Taal is onlosmaaklik deel van ’n individu en groep se identiteit en die voortbestaan en groei daarvan lê in veel meer as ’n treffende hutsmerk of kleurvolle T-hemp opgesluit.

’n Taalidentiteit wat nie daadwerklik ondersteun word nie, sal mettertyd wegsmelt. Wanneer daar egter proaktief aan dié identiteit voortgebou word, sal berge versit kan word.

Die Virseker Trust laat die kollig op Afrikaans en die voortbou van ’n Afrikaanse identiteit val, nie net in die vorm van oppervlakkige ondersteuning nie, maar as ’n organisasie wat daadwerklik ’n bydrae lewer en ’n tasbare verskil maak.

“As handelsmerk is ons nog altyd trots Afrikaans, maar om te sê dat ’n mens passievol oor ’n taal is en om prakties iets te doen om die voortbestaan van jou taal te verseker, is twee verskillende goed,” het Riaan Pretorius, woordvoerder van die Virseker Trust, gesê.

“Afrikaans is so ’n unieke en ryke skatkis van woorde en uitdrukkings wat net Afrikaans kan raakvat, dat dit elkeen van ons wie se harte in Afrikaans klop se verantwoordelikheid is om proaktief te soek na maniere waarop ons ons taal prakties kan bou en uitbrei.”

Die Virseker Trust se toewyding tot die uitbou van Afrikaans is meer as net mooipraatjies. Dié organisasie het al meer as R100 miljoen in Afrikaanse onderwys, tersiêre opvoedingsinstellings, kunste, sport en gemeenskapsondersteuning belê.

Pretorius het verder uitgewys dat talle organisasies landwyd die Afrikaanse gemeenskap dien, en dat die voortbestaan van dié organisasies slegs deur die ondersteuning van die einste Afrikaanse gemeenskap moontlik is.

“Dis juis om hierdie rede dat ons reeds meer as ’n dekade lank ’n stap verder gaan as net eersteklasversekering in Afrikaans. ’n Persentasie van ons kliënte se premies word toegeken aan die Virseker Trust en so word die krag van Afrikaanse kapitaal gebruik om ’n beter Suid-Afrika vir ons en ons kinders te bou.

“Ons staan op die skouers van elke polishouer, want dis alleen deur hulle – ’n groot groep mense wat elkeen ’n klein bydrae lewer – dat ons ’n formidabele, trots Afrikaanse krag is wat die wêreld ten goede kan verander.”

Die Virseker Trust lewer ’n sterk finansiële bydrae tot:

Akademia en die KampusTrust wat die ontwikkeling van ’n Afrikaanse hoëronderwysinstelling van wêreldgehalte in die kollig plaas.

Die Solidariteit Helpende Hand-studiefonds wat studente geldelik en sonder rente bystaan om hul studiedrome ’n werklikheid te maak.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), ’n organisasie sonder winsoogmerk wat gehalte-onderwys meer bekostigbaar en toeganklik vir talle leerders in Suid-Afrika moontlik maak. SOS verskaf vakspesifieke opleiding aan meer as 16 000 onderwysers per jaar van meer as 1 000 skole landwyd deur seminare, webinare en werkswinkels.

Wolkskool, ’n digitale onderwysplatform wat uit meer as 35 000 leerders van graad 1 tot 12 bestaan. Die Wolkskool bestuur alle aspekte van ’n skool se aanlyn onderrigbehoeftes en bied tans meer as 15 000 videolesse, assesserings en werkkaarte aan.

Die Weet e-naslaangids, ’n digitale naslaanbron wat leerders toegang tot betroubare inligting van ʼn hoë gehalte in Afrikaans bied om hul by te staan wanneer hulle navorsing vir take doen.

Die platform word voortdurend aangevul en uitgebrei om ʼn positiewe, gebruikersvriendelike, aanloklike ervaring vir leerders te skep.

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) wat Afrikaans en al sy variëteite as taal van eenheid binne ’n meertalige konteks bevorder.

Die ATR speel in hierdie konteks ’n fasiliterende en netwerkskeppende rol en koördineer taalskakeling met ander taalorganisasies, akademici, gemeenskapsleiers, kerkleiers en skole om taaluitdagings die hoof te bied.

Die Pionierskool vir siggestremdes, wat fokus op die toeganklikheid van lees- en leermateriaal vir blinde en swaksiende kinders en volwassenes. Ekstra befondsing het die skool uiteindelik in staat gestel om ’n hele paar gunstelingstories, sowel as splinternuwes in die vorm van grootdruk, braille en klankopnames, beskikbaar te stel.

Die Helpende Hand Noodfonds Josef Silo’s wat individue, gesinne, instansies en organisasies wat weens die Covid-19-pandemie in hongersnood verkeer, deur die voorsiening van kospakkies by te staan. Die noodfonds bied ook bemagtigende bystand sodat die mense en gesinne in staat is om volhoubaar na hulself om te sien.

Virseker se onlangse skenkings bring die totale skenkings aan hierdie organisasies op sowat R87 miljoen te staan en die totale bedrag wat Virseker tot op datum in Afrikaans belê het op meer as R108 miljoen.

“Hierdie is slegs enkele voorbeelde van hoe Afrikaans, deur daadwerklike toewyding tot ondersteuning van die taal op ʼn konkrete wyse, berge versit. Ons praat hier van mense wie se lewens onherroeplik verander word deur die positiewe krag van Afrikaanse passie en kapitaal,” sê dr. Dirk Hermann, voorsitter van die Virseker Trust.

“As ons hierdie potensiaal kan versprei na selfs meer individue, gemeenskappe en meer maatskappye, sal ons die generasie wees waarvan ander oor dekades, dalk selfs eeue van nou af, sal sê: ‘Hulle was ʼn soort wat jy min kry. ʼn Soort wat gepraat het en ge#TrotsAfrikaans het, ja, maar, belangriker, nie geskroom het om vorentoe te tree en skouer aan die wiel te sit om te bou wat ons vandag het nie. Dít het die deurslag gebied. Afrikaans groei. Afrikaans blom. Afrikaans bou en ons staan op die skouers van reuse.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pierre ·

altyd goeie werk, mense moet werklik die organisasie ondersteen.

Groen Ghoen ·

Wonderlike goeie werk wat julle doen! Laat “ons vir ons eie behoud” saamstaan en mekaar ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.