Dié SA universiteite is eerste met volhoubare ontwikkeling

Aucklandpark-kampus van die Universiteit van Johannesburg Foto: Wikipedia

Times Higher Education (THE) se ranglys van die wêreld se voorste universiteite vir volhoubare ontwikkeling is pas uitgereik.

Altesaam 1 117 instellings uit 94 lande en streke verskyn in die derde weergawe van THE se 2021-ranglys.

Vyf Suid-Afrikaanse universiteite het onder die voorste 600 geëindig. Die Universiteit van Johannesburg het die beste in Suid-Afrika gevaar met sy plasing in die 92ste posisie. Die Universiteit van Kaapstad (in die blok vir nommers 101 tot 200), die Universiteit van Pretoria (in die blok vir nommers 201 tot 300), die Nelson Mandela-Universiteit (in die blok vir nommers 301 tot 400) en die Universiteit van die Wes-Kaap (in die blok vir nommers 401 tot 600) het ook die lys gehaal.

Dié ranglys is die enigste prestasietabel ter wêreld wat universiteite beoordeel aan die hand van die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD’s). Times Higher Education evalueer universiteite volgens navorsing, rentmeesterskap, uitreike en onderrig.

‘n Britse universiteit, die Universiteit van Manchester, is vanjaar aan die voorpunt in dié ranglys. Die top-instelling binne ʼn opkomende ekonomie is Bangkok se Chulalongkorn-universiteit wat die 23ste plek deel met die Universiteit van Plymouth (VK) en die Universiteit van Suid-Denemarke. Rusland is die land met die meeste verteenwoordiging met 75 instellings, gevolg deur Japan met 73.

Hiermee die lys van die wêreld se tien top-universiteite:

  1. Universiteit van Manchester, VK
  2. Universiteit van Sydney, Australië
  3. Koninklike Melbourne- instituut van tegnologie, Australië
  4. La Trobe-universiteit, Australië
  5. Queens-universiteit, Kanada
  6. Universiteit van Aalborg, Denemarke
  7. Universiteit van Wollongong, Australië
  8. Cork-universiteitskollge, Ierland
  9. Arizona-staatsuniversiteit in Tempe, VSA
  10. Universiteit van Auckland, Nieu-Seeland

Klik hier om die lys van die Suid-Afrikaanse top-universiteite in die ranglys te sien.
Klik hier om die volledige ranglys van universiteite wêreldwyd te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.