Die verhaal van die blinde motorfietsryer

Jacob Kruger op sy motorfiets (Foto: Verskaf)

Dit is ’n koel oggend by die Red Star-renbaan net buite Delmas. Ek is hier vir opleiding, maar die kuipe is nog verlate. Ek is alweer hopeloos te vroeg. Daar oorkant staan ’n swart motorfiets. Ek het met Jason Wessels gereël vir ’n baanfiets, so dit moet die een wees wat ek vandag gaan ry. Ek stap oor na iemand wat daar rondstaan en vra vir Jason. “Jason help net gou die blinde ryer,” antwoord die vreemdeling. “Die wat?” vra ek verbaas. Tussen die ryp en die koue het ek seker nie reg gehoor nie. “Jacob. Die blinde ryer. Hulle help hom net gou om op die baan te kom.” Ek moet myself inhou om nie weer “Die wat?” te sê nie.

Ek stap nader en jou wrintiewaar, daar gaan ’n blinde man op ’n Suzuki SV 650 stadig met die agterste pylvak af. Hy ry nie vinnig nie, en agter hom ry ’n klein blou Suzuki wat vir hom instruksies gee. Sy gidshond, as jy wil. Ek vergeet skoon ek soek nog vir Jason. Jason kan wag, nou kyk ek eers vir Jacob Kruger. Die blinde ryer.

Jacob se storie
Van kindsbeen af was Jacob gefassineer deur twee goed: rekenaars en motorfietse. ’n Rekenaarprogrammeerder van beroep, was hy in November 2005 betrokke in ’n ernstige ongeluk. Die optiese senuwees tussen sy oë en brein is verbreek, en toe hy in Maart 2006 uit die hospitaal kom, was hy 100% blind.

Sy familie en sy uitgebreide motorfietsfamilie het hom in hierdie tyd bygestaan. Dink jouself in: ’n programmeerder van beroep, en nou blind. Tans maak hy gebruik van bystandstegnologie en -programmatuur wat dit vir siggestremde persone moontlik maak om rekenaars en selfone te gebruik op min of meer dieselfde vlak as siende mense.

Jacob se visie
Toe hy in 2006 weer op die internet aktief begin raak het, was een van die eerste frases waarna hy gesoek het “blind biker”. Die Brit Billy Baxter het in 2003 die wêreldrekord opgestel vir ’n blinde solo-motorfietsryer met ’n topspoed van 265 km/h. Een van Baxter se ander uitdagings was om solo om die Donningtonpark-renbaan te ry, en Jacob wou iets soortgelyks doen.

Jacob Kruger op sy motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Om ’n motorfiets in ’n reguit lyn te ry was nie genoeg van ’n uitdaging vir Jacob nie, en hy beplan om 7 Julie om Red Star-renbaan te ry. As jy Red Star ken, sal jy weet dit is nie ’n maklike baan om te ry nie. Die baan bestaan omtrent net uit draaie. Sy pleidooi het nie op dowe ore geval nie, en die einste Jason van Moto Rentals het vir Jacob op die spoor van die regte mense gesit. Omdat hy ’n Suzuki-aanhanger is, het Suzuki vir hom ’n SV 650 voorberei en hy sal gevolg word deur iemand op ’n kleiner Suzuki. Die Red Star-renbaan self het ook dadelik ingespring en gesê hulle sal help.

Die 7de Julie is die groot dag by Red Star. ’n R20-toegangsfooi sal gehef word, en al die geld word geskenk aan opleiding van gidshonde, asook aan die Action-groep wat sig- of gehoorgestremde mense help met opleiding.

Die motorfietsgroep waaraan Jacob behoort gaan ook daar wees om mense met enige vorm van gestremdheid om die baan te vat. En natuurlik sal daar ietsie vir die keel, die maag en die ore wees. Kom ondersteun gerus vir Jacob in sy visie om ononderbroke om Red Star te ry! Sy leuse is juis: “There are no limits other than those you apply to yourself.”

Lees meer op die Jacobs Vision-Facebook-blad.

Jacob Kruger op sy motorfiets (Foto: Verskaf)

Jacob Kruger op sy motorfiets (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ronel ·

Awesome Jacob!! Ek is self n motorfiets ryer en ek haal my hoed af vir jou. Blessings vir jou

Brian Cheyne ·

7 Julie om 9:00.

Toegang is R20. Kinders onder 12 is gratis.

Jacob ry 14:00.

Peet Schabort ·

Ek is stom geslaan, ja ‘waar daar ‘n wil is is daar ‘n weg’. Enige GPS ko-ordinate vir waar die baan is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.