Die verhoog wink vir blinde matrikulant

Lise-Mari van Wyk (Foto: Verskaf)

Lise-Mari van Wyk het pas matriek voltooi, gaan binnekort klavier speel in Londen en wil daarna ʼn graad in drama verwerf – en dit met net 2% sig.

Van Wyk het by die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester skoolgegaan en sê hoewel matriek vir haar baie uitdagend was sy nou opgewonde is om na die volgende stadium van haar lewe te beweeg.

“Gewoonlik het mens net sewe vakke nodig om vir universiteit in te skryf, maar ek het twee ekstra gehad, so dit was uitdagend. Dit was moeilik om genoeg aandag aan elke vak te gee,” het sy gesê.

Van Wyk het dramatiese kunste en musiek as ekstra vakke geneem. Sy het ʼn groot liefde vir toneel en het sedert graad nege jaarliks aan KykNET se Nasionale Toneelspelkompetisie deelgeneem. Sy is tydens dié kompetisie gekies om aan ʼn radiodrama op RSG deel te neem en gedurende haar graad elf‑jaar het sy die top‑agt van hierdie kompetisie gehaal.

“Verhoogproduksies is my passie. Ek het net besef dat dit is wat ek wil doen vir die res van my lewe, want ek is lief daarvoor,” het sy gesê. Behalwe haar lyf aktrise hou, kan Van Wyk ook klavier en blokfluit speel en begin sy vanjaar met kitaarlesse.

“Ek speel vanjaar in Trinity College in Londen om my gevorderde uitvoerende sertifikaat in klavier te verwerf. Ek gaan vanjaar eers bietjie op my musiek fokus en dan volgende jaar hopelik drama in Stellenbosch studeer.”

Van Wyk het gesê die genot om op die verhoog te wees is veel groter as die uitdagings wat dit vir haar stel.

“As jy jou stel goed genoeg ken en jy weet hoe om daardeur te beweeg, is dit nie so erg nie. Ek dink omdat ek so baie daarvan hou om op die verhoog te wees, is dit nie vir my so ʼn groot uitdaging nie, ek geniet dit! Min mense weet eintlik dat ek blind is nadat ek op die verhoog was,” het sy gesê.

Al het Van Wyk tot dusver goed gevaar in die uitdagings wat vir haar gestel is as gevolg van haar siggestremdheid, meen sy sy het dit nie sonder sukkel gedoen nie.

“Ek gaan nie jok nie, daar was baie tye waar ek moeg geraak het en wou tou opgooi, maar mens moet net jou motivering terugkry. Ek het vir myself motivering gekry: Ek wou goed doen in matriek sodat ek universiteit toe kan gaan en sodat ek die goed in my toekoms kan doen wat ek nog wil. Ek wil my droom uitleef,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Delia ·

Mej Van Wyk, as ek ‘n hoed gehad het, het ek dit vir jou gelig…..alle voorspoed vir jou toekoms word jou toegewens! Ek WEET jy gaan ‘n fantastiese loopbaan he!

IK ·

Mooi so meisie, pak die lewe en jou drome met oop oë aan soos wat jy dit alreeds doen. Asb., ‘n klavierstuk van jou op YouTube.

Pauline ·

Baie geluk met jou uitstekende prestasie, Lise-Mari; jy is ‘n inspirasie vir ander. ‘n Blink toekoms wag op jou.

Annie ·

Fantasties! My grootste respek vir jou deursettingsvermoë. Jy is só ‘n ongelooflike sterk mens! Moet besondere ouers hê wat jou ten spyte van jou probleem so grootgemaak het! Proficiat!!!

Abe ·

‘n Bewonderenswaardige uitkyk op die lewe. Ek wens haar n baie mooi toekoms toe. Sy is n pragtige mens en ek glo baie talentvol. Ek twyfel egter of sy as blinde aktriese in SA n selfstandige loopbaan sal kan handhaaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.