Diepe waters vir gestremde duikers aangedurf

HSASA wil die idee bevorder dat skubaduik vir enigiemand moontlik is. (Foto: HSASA)

Skubaduikers kan gerus hulle swembrille en paddavoete nader trek vir die Gestremde Skuba Vereniging van Suid-Afrika (HSASA) se sewende jaarlikse Dive-a-Thon wat eersdaags by die Bass Lake-watersportoord in die suide van Gauteng plaasvind.

HSASA is sedert 2009 daaraan toegewy om skubaduik as ‘n veilige en toeganklike sport vir individue met gestremdhede te bevorder deur aangepaste duiksessies aan te bied. Dié unieke duikmarathon en geldinsamelingsgeleentheid help om hierdie doelwit jaarliks te befonds.

“Ons doel is om die idee te bevorder dat skubaduik vir enigiemand moontlik is, ongeag jou fisieke beperkinge. Oor die jare heen het ons gesien hoe baie mense met gestremdhede die vreugde van duik ontdek, en ons is verheug om voort te gaan om ‘n ondersteunende en inklusiewe omgewing vir alle duikers te bied,” sê Melissa Leonard, stigter en direkteur van HSASA.

HSASA sê baie mense met gestremdhede het deur die jare die vreugde van duik ontdek. (Foto: HSASA)

“Dit is ‘n wonderlike geleentheid vir duikers van alle vlakke om bymekaar te kom, hulself uit te daag, en fondse vir ‘n goeie doel in te samel. Eendersdenkendes kom ook bymekaar om deel te wees van ‘n ondersteunende gemeenskap.”

Vanjaar se Dive-a-Thon sal 50 uur aaneen duur, met ʼn minimum van twee duikers wat ten alle tye in die water moet wees.

Skubaduikers kan ʼn uurlange duiktydgleuf teen R150 per persoon aankoop. Diegene wat nie dapper genoeg is om self die diepe waters aan te durf nie kan ʼn tydgleuf vir ʼn duiker borg.

HSASA beoog om ʼn 1 000 duikbeurte te verkoop. Alle gelde word aan dié liefdadigheidsorganisasie se duikprojek toegeken.

Die Dive-a-Thon gaan egter nie net oor duik nie. Daar gaan ‘n reeks aktiwiteite en geleenthede op land plaasvind, insluitend musiek, stalletjies en gelukstrekkings. “So, selfs al is jy nie ‘n duiker nie, is daar genoeg om mee betrokke te raak,” voeg Leonard by.

Sy benadruk dat daar deurlopend ʼn span duikinstrukteurs naderby sal wees om ondersteuning, raad en opleiding te bied vir diegene wat onervare is of wat bystand benodig.

“Ons weet duik kan ‘n intimiderende sport wees, maar ons is hier om te help. Ons glo almal moet die geleentheid hê om die onderwaterwêreld te verken, en ons is daartoe verbind om dit te laat gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.