Dis Braaf om te skenk en te ondersteun

Braaf besoek Helpende Hand se Ons Winkels

Braaf die Boerboel, die superheld in kakie geklee, besoek vandeesmaand Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkels om te help om skooltassies vir behoeftige graadeentjies in te samel.

Helpende Hand se Skooltassie-projek het al sedert sy ontstaan in 2007 meer as 57 000 graadeentjies in Afrikaanse skole bygestaan, maar moet jaarliks duisende rande insamel om die projek te laat voortbestaan.

Deur die loop van die jaar toer Braaf die land vol van streek tot streek waar Helpende Hand se personeel vir Braaf by skole laat “optree” om die boodskap van dapperheid oor te dra en ook dat dit braaf is om verskeie dinge aan te pak.

In Maart dra Braaf die Boerboel ook die boodskap oor dat dit Braaf is om te skenk, dit Braaf is om tweedehands te koop en ook dat dit Braaf is om te ondersteun.

In ‘n wêreld waarin herwinning en hergebruik toenemend belangrik word, is die ondersteuning van tweedehandseskenkingswinkels nie net ‘n eenvoudige daad van jou as gebruiker nie, maar ook ‘n kragtige manier om ‘n verskil in jou gemeenskap te maak en jou naaste Ons Winkel te ondersteun.

Die Ons Winkels dien as sentrale punte vir die hergebruik van klere wat jy nie meer dra nie, of items wat jy nie meer gebruik nie. Deur tweedehandse items te koop en te skenk, word die aanvraag na nuwe produkte verminder en sodoende verminder die druk op die omgewing vir verdere ontginning van hulpbronne. Dit dra by tot die beweging van ‘n meer volhoubare samelewing deur die lewensduur van produkte te verleng en die hoeveelheid afval wat na stortings gestuur word, te verminder.

Hoekom is dit Braaf om te skenk?

Deur items te skenk aan Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkels kan jy hulp bied aan lede van die publiek wat dit nodig het in jou gemeenskap. Hierdie items kan weer verkoop word teen ʼn bekostigbare prys aan mense wat dit nie finansieel kan bekostig om nuwe items te koop nie. Dit is ook tot voordeel vir jouself want deur items te skenk wat jy nie meer gebruik nie, skep jy ruimte in jou huis of werksplek vir nuwe items of om die ruimte eenvoudig net skoon en oop te hou.

Die ondersteuning van die tweedehandse items wat jy skenk dra boonop indirek by tot die groter Solidariteit Helpende Hand-prentjie. Die items is dus nie net ʼn voorwerp nie – dit het ewigheidswaarde, want die opbrengs uit die winkels word onder meer in studielenings teruggeploeg en word gebruik vir armoedeverligting of die aanstel van maatskaplike werkers.

In die lig daarvan dat dit Braaf is om te skenk, koop en sodoende te ondersteun, is dit duidelik dat die ondersteuning van jou dorp se Ons Winkel verder strek as net ʼn plek waar jy jou skenking kan aflaai of bekostigbare items kan koop. Dit is ‘n wonderlike manier om ‘n verskil te maak op verskillende velde van Helpende Hand. Elke aankoop en skenking is ‘n bydrae tot ‘n meer volhoubare gemeenskap. Laat ons dus saamwerk en onthou: dit is Braaf om te skenk, dit is Braaf om te koop en dit is Braaf of te ondersteun.

Besoek www.onswinkel.co.za om jou naaste Ons Winkel op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.