Doyens van Afrikaans deur Taalraad vereer

Mariëtta Kruger (Foto: Rsg.co.za)

Mariëtta Kruger, een van die bekendste gesigte en stemme in Afrikaanse TV- en radiokringe, en dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), is Vrydag vir hul lewensbydraes tot Afrikaans vereer.

“Ons wil sien dat mense wat agter die skerms vir Afrikaans werk erkenning kry, iets wat veral van toepassing is op vanjaar se Kokertoekennings vir lewenslange bydraes,” sê dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR).

Kruger se 42 jaar lange loopbaan het in 1980 by die eertydse Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK, later slegs SABC) begin waar sy tot in 1984 werksaam was as joernalis en omroeper by die nuusdiens en Radio Suid-Afrika. Sy is ook die regisseur en aanbieder van die radionuusprogramme Monitor en Spitstyd.

“Sy het haar lewe gewy aan Afrikaans – in die uitsaaiwese, maar ook in die doen en late van haar persoonlike lewe. Gegewe haar liefde vir die taal, kry sy hiermee  erkenning vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaans,” lui ʼn verklaring wat deur die ATR uitgereik is.

Dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van WAT, ontvang deel XVI van WAT. (Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal/Facebook)

Onder Botha se leiding het die Buro van die WAT te midde van ʼn toenemende vermindering van staatsfinansiering tot ʼn finansieel gesonde maatskappy gegroei. Dít het hy onder meer vermag deur intensiewe fondswerwing en die instelling van innoverende projekte soos die Borg ʼn Woord-veldtog, asook vennootskappe soos die Sluk jou woorde-wynreeks.

Botha se weeklikse praatjies op RSG het van hom ʼn bekende stem in menige Afrikaanse huis gemaak en te danke aan projekte soos die WAT se jaarlikse Nuutskeppingskompetisie, wat in samewerking met RSG en die ATKV aaangebied word, en die treffendste Afrikaanse handelsnaamkompetisie, het die WAT ʼn  huishoudelike naam geword.

Volgens die ATR het Botha met die WAT verseker dat Afrikaans in den brede sy regmatige plek naas die ander amptelike tale in Suid-Afrika inneem.

Ander taalvoorstanders wat vanjaar deur die ATR vereer is, is Chareldine van der Merwe (bemagtiging deur Afrikaans), Karien Brits (bevordering van Afrikaans), Danie van Wyk (beskerming van Afrikaans), Barron Hufkie (jeugkoker), Marlie Coetzee (jeugkoker) en Kanja van der Merwe (jeugkoker).

Steenkamp sê dat dié jonger Kokerwenners weer as inspirasie vir die jonger generasie dien en hulle aanmoedig om meer vir hul taal te doen.

Voor van links na regs: Prof. Anne-Marie Beukes, dr. Annelise de Vries, prof. Louis du Plessis; Agter van links na regs: Marlie Coetzee, Henco Kruger, Barron Hufkie en Karien Brits. (Foto: Maroela Media)

Volgens dr. Annelise de Vries, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, is die Kokertoekennings ʼn geleentheid om die verskilmakers in die Afrikaanse taalgemeenskap te vereer vir die onbaatsugtige werk wat hulle doen.

Merlyn van der Rheede (Noordelike projekbestuurder van die ATR), Sue Pyler-Slabbert (vorige Kokerwenner) en Renaldo Schwarp (vorige Kokerwenner. (Foto: Maroela Media)

“Kokerwenners dra direk by tot die ryke erfenis van die Afrikaanse taalgemeenskap in sy geheel en daarvoor salueer ons hulle.”

Die Taalraad se Kokertoekennings gee jaarliks erkenning aan mense se bydraes tot die bevordering en beskerming van Afrikaans, asook praktiese bemagtiging deur die taal. Spesiale jeugtoekennings word gemaak, asook toekennings wat lewenslange bydraes erken.

“Afrikaans verbind al sy sprekers, ongeag hoe hulle die taal praat. En onderliggend aan alles is natuurlik nog altyd die beginsel dat Afrikaans nie eenkant op ʼn mishoop sit nie, maar aktief met die sprekers van die ander inheemse tale saamwerk om die sukses van ʼn ware meertalige bestel te verseker,” sluit Steenkamp af.

Die Kokertoekennings is Vrydag gelyktydig in die Kaap en Gauteng uitgedeel. By Leriba Lodge in Centurion het Henco Kruger die toekenning namens Mariëtta in ontvangs geneem. Die geleentheid is deur genooide gaste, die media, beoordelaars en voormalige Kokerwenners bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.