Durf, daad van vrouehelde vereer

Die FAK het ʼn beeld van die Voortrekkerheldin, Grietjie Prinsloo, in die Voortrekkermonument se trekroetetuin onthul. (Foto: Verskaf)

“As ʼn mens na die geskiedenis kyk, is dit vroue wat die mans deur die Groot Trek gehelp het en plase ná die Anglo-Boereoorlog herbou het. Vroue was nog altyd die inspirasie, die daad en die hart van die Afrikaner.”

So sê Barry Müller, kultuurkoördineerder van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se noordelike provinsies, oor die onmisbare rol van vroue in die geskiedenis.

Met die oog op nasionale Vrouedag wat jaarliks op 9 Augustus herdenk word, het die FAK ʼn beeld van die Voortrekkerheldin, Grietjie Prinsloo, in die Voortrekkermonument se trekroetetuin onthul.

Tydens die bloeddorstige aanval op ʼn Voortrekkerlaer langs die Bloukransrivier in 1838, is die 16-jarige Prinsloo 26 keer met ʼn assegaai gesteek en sy het dit oorleef. Vandag, 185-jaar later, word dié jong Afrikanerheldin in die Trekroetetuin vereer.

Dit is die derde oorspronklike beeld wat deur die FAK vir die Voortrekkermonument ontwerp is, naas die Piet en Dirkie Uys-beeld en die Liebenbergkinders-beeld. Die beeldhouer Jaco van Niekerk het die meeste van die beelde in die Trekroetetuin gemaak en hy beskou dit as ʼn voorreg om deel van dié besonderse projek te wees.

“Om ʼn replika van ʼn beeld te maak, is uiters vervullend, maar om deel van ʼn projek te wees waar ʼn splinternuwe beeld vir een van ons minder bekende helde ontwerp word, is ongelooflik.”

Die Prinsloo-beeld is deur Anneke Langner, kommunikasiebeampte van die Voortrekkermonument en FAK, ontwerp. Langner het ook self as model opgetree vir die beeld en sê dit is vir haar belangrik om Prinsloo se storie op so manier te kon vertel.

Anton van Wouw se standbeeld van ’n Voortrekkervrou wat haar twee kinders beskerm. (Foto: Verskaf)

“Op ʼn klein manier ploeg jy terug in die gemeenskap wat jou gemaak het en jy plant ʼn saadjie van hoop vir dié wat na jou kom.”

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van dié monument, getuig hierdie beeld van die Voortrekkervrou se veerkragtigheid en die kultuur van vasberadenheid wat onder vroue heers.

“Die beeld is eintlik ʼn getuienis van die krag van die Afrikanervrou wat uit geweld uit opgestaan het. Hulle moes onder verskriklike tragiese omstandighede opstaan, gesond word en aangaan. Met hierdie beeld wil ons hulde bring aan die durf en die daadkrag van ons vroue.”

Ander projekte wat die Voortrekkermonument en die FAK se kultuurnewetwerke in Vrouemaand aanbied, is ʼn kranslegging vir Maria Kloppers, stigter van die Abraham Kriel Kinderhuis; ʼn bespreking op 9 Augustus oor Joan Kruger se boek Wieg; en ʼn splinternuwe publikasie oor vrouebeelde in Suid-Afrika wat vandeesmaand verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.