Eikestad skud vere reg vir jaar se oes

Forest’s Haven at Amani Vineyards, Stellenbosch

Stellenbosch hou binnekort weer sy jaarlikse oesoptog, waarmee die jaar se harde werk in die strate gevier word en die begin van die oesseisoen behoorlik begin.

“Dit is iets om te sien en ʼn wonderlike tradisie om deel van te wees,” sê Elmarie Rabe, algemene bestuurder van Stellenbosch Wynroetes.

“Ons vier nie net vanjaar se druiweoes saam met die wyngemeenskap nie, maar ons geniet ook pragtige vlotte, musiek en ʼn onmiskenbare gees. Dit is ʼn spesiale en belangrike geleentheid op dié streek se kalender.”

Dié optog vind op 1 Februarie plaas. Dit begin om 09:00 in Alexanderstraat buite die NG Kerk Stellenbosch-Wes voor dit na Birdstraat draai, met Pleinstraat af beweeg en by die stadsaal tot ʼn halt kom vir die gebruiklike oesseën.

“Dit is ʼn tyd om te sing, dans en om vrolik te wees voor die ernstige en harde werk van die oestyd begin. Ons gedenk die plaaswerkers, wynkelders en -landgoedere in die ware gees van gemeenskap en danksegging,” sê Rabe.

ʼn Hoogtepunt van vanjaar se optog is die Huisvlyt Craft-ekspo wat amptelik afskop in die stadsaal ná afloop van die optog. Besoekers kan ’n verskeidenheid stalletjies met onder meer plaaslike produkte, tuisgemaakte goedere, gebak en ander kos daar geniet.

Toegang is gratis en oud en jonk word genooi om die oestyd saam te vier.

Die Stellenbosch-omgewing is die tuiste van talle van die land se beste wynplase soos Kleine Zalze, Clos Malverne, Middelvlei, Kaapzight, Beyerskloof en L’Avenir.

Vir meer inligting besoek www.wineroute.co.za

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.