FAK wil ossewatrek as lewende monument bewaar

Carla Hibbert in Voortrekkerdrag, die trekgeselskap kom agterna. (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het onlangs die osse ingespan en ʼn weeklange trekroete rondom Ottosdal in Noordwes afgelê.

Dié trek, wat op 26 Maart afgeskop en op 1 April voltooi is, is ʼn gesamentlike projek met die Trekboervereniging, die Rapportryers en verskeie volkspelelaers, waaronder Vleilaer, Gemsboklaer, Bloemhoflaer en De La Reylaer. In die trekgeselskap was daar 33 mense en vier ossewaens wat dit meegemaak het.

Jan-Danie Malan, die FAK-organiseerder van hierdie projek, sê die reëlings vir so iets val nie bloot met die klap van ʼn sweep in plek nie. Dit verg maande se beplanning en voorbereiding.

“Die osse moet geoefen en ervare genoeg wees om die lang pad aan te durf. Dit neem ʼn minimum van nege maande om een os vir só ʼn trek op te lei, en dan moet die os nog ervaring opbou,” sê Jan-Danie.

Met die oog op vanjaar se 185ste gedenking van die Groot Trek is die beplanning om hierdie jaar tydens Gelofteweek weer die osse in te span en Bloedrivier toe te trek.

“Ons doel met die trek rondom Ottosdal, is eerstens om die osse te laat oefen vir die trek wat later vanjaar plaasvind, en tweedens sodat die trek as ʼn lewende monument behoue bly.”

Op die Ottosdal-trekroete was daar ʼn verskeidenheid kultuuraktiwiteite. Jan-Danie verduidelik dat kinders Volkspele gedoen en kleiosse gemaak het, en daar was ʼn demonstrasie van ʼn 1809-voorlaaier. “Net soos die Voortrekkers van ouds, is daar elke oggend en elke aand boeke gevat en gebid. In die aande is daar ook volksliedjies om die kampvuur gesing,” voeg hy by.

Piet Breytenbach van die Trekboervereniging beskou die trek as ʼn besonderse ervaring.

“Ek het al voorheen getrek, maar wat hierdie keer so besonders gemaak het, is dat ek my trekervaring en die geskiedenis met ander mense – en spesifiek ook met kinders – kon deel.”

Piet Breytenbach van die Trekboervereniging, en sy vrou, Rien. (Foto: Verskaf)

Piet sê verder dat hy in meer besonderhede kon verduidelik en wys hoe ʼn ossewa werk, hoe om osse in te span, waarom ʼn spesifieke os só werk en ʼn ander os anders opgelei word.

“Wat ons ervaar het, is iets wat mens vandag net in boeke lees,” sê Jaco Jansen van Rensburg van die Trekboervereniging. “Ek wil graag ’n lewende geskiedenis deel. Ek wil hê dit moenie doodloop nie. Dis ’n belewenis om in die natuur te kan wees, met my osse te werk en weer vir ’n slag my osse in te span en op trek te gaan.”

Die trekgeselskap het nie net die osse ingespan nie, maar ook hulle Voortrekkerdrag afgestof. Hulle het ervaar hoe die Voortrekkers van ouds geleef het – blootgestel en net met die natuur en die items in jou ossewa as hulpbronne. Kos is op die oop vuur gaargemaak en elke aand moes die laer uitgespan word. Die Maritz en Pretorius geselskappe het afgewissel met die verantwoordelikhede vir hierdie take. “Daar was ʼn goeie opgewonde gesindheid onder elke deelnemer. Almal wou en het met alles gehelp,” sê Jan-Danie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gert ·

Daar steek iets meer agter die beweging en moet met alle krag ondersteun word. Hierdie is n saaitjie wat geplant word om ons huidige en ook die generasies wat og kom weer in lyn te kry met ons gelofde aan God sodat Hy weer ons land kan herstel. Die Gelofde is bedek met muur van sonde tussen ons en God en net ons kan die muur afbreek sodat God weer ons stem kan hoor. Hierdie maak my sommer opgewonde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.