Fees bring plaasatmosfeer na Pretoria

 bemagtig-n-kind-helpende-hand-spit-01.jpg

Foto verskaf.

Dié heerlike makietie, met meelbestrooide dansvloer en al, het hom daarop toegespits om die plaasatmosfeer na die stad te bring, en dít alles vir ʼn goeie doel.

Die Spit, Skud en Dans-fees, ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en Maroela Media se Bemagtig ʼn Kind-projek, het Saterdag, 11 November, die gemeenskap byeengebring vir ʼn dag van lekker kuier en feesvier. Die groot skuur by die @75 Events Venue in Tierpoort het die toneel gebied vir ʼn onvergeetlike ervaring vir die hele gesin.

Die dag het afgeskop met die geur van heerlike skaap op die spit en ʼn uitgebreide verskeidenheid van bykosse wat die smake van Suid-Afrika gevier het. Die gemeenskap het die kans gekry om te dans op die plaaslike musiek van Vending Machine, terwyl die energieke Ricus Nel en sy Boerepompie die dansvloer laat skud het.

 bemagtig-n-kind-helpende-hand-spit-02.jpg

Chandré Oosthuizen, heel regs, saam met die Lekker FM-span. (foto verskaf)

Vir die kleinspan was daar ʼn lammerkraal vol pret en vermaak, met plaasaktiwiteite soos skapies vashou, kettieskiet, skyfskiet, en selfs opwindende trekkerritte. Die kinders is besig gehou terwyl die volwassenes hul dansskoene aangetrek en die ritme van die musiek gevolg het.

Die fees het nie net ʼn dag van vermaak en geselligheid gebied nie, maar dit was ook ʼn geleentheid om ʼn goeie doel te ondersteun. Alle opbrengste van die dag is geskenk aan die Bemagtig ʼn Kind-projek, wat hom daarop toespits om die lewe van behoeftige kinders te verbeter. Die feesgangers het nie net hul eie harte gevul nie, maar ook ʼn hand gereik na diegene wat dit die nodigste het.

 bemagtig-n-kind-helpende-hand-spit-04.jpg

Ricus Nel het die dansvloer behoorlik laat skud! (foto verskaf)

Chandré Oosthuizen, ʼn maatskaplike werker van Helpende Hand en projekorganiseerder van Bemagtig ʼn Kind, het dit beskryf as ʼn unieke ervaring waar die tradisionele plaasgevoel na die stad gebring is. Die hoogtepunt vir haar was die meel op die dansvloer en die gemeenskap wat saam gedans het.

“Die Spit, Skud en Dans-fees was nie net ʼn fees nie, maar ook ʼn geleentheid om saam te kom, te dans en hoop te bring vir die toekoms van kinders in nood. Die fees het ʼn suksesvolle veiling ingesluit, waar geld vir die projek ingesamel is,” sê Oosthuizen.

Die Bemagtig ʼn Kind-inisiatief voorsien in ʼn wye spektrum behoeftes van kleuterskool-, laerskool- en hoërskoolleerders, waaronder die volgende:

  • Ekstra klasse
  • Naskoolgelde
  • Terapie (spel-, spraak- en arbeidsterapie)
  • Vervoer na en vanaf die skool
  • Koshuisgelde

Besoek Bemagtig ‘n Kind-webblad vir meer inligting en om die projek te ondersteun.

Oosthuizen het die volgende borge bedank wat die geleentheid moontlik gemaak het: SAAI, Maroela Media, Spektrum Gehoor, WildHorn-boerdery, Ons Winkels, @75 Events Venue, LekkerFM en On Nkwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.