Foto’s: 21-jarige vlieg met haar drome

Nadine Slump koester al van jongs af ‘n liefde vir vlieg. (Foto: Verskaf)

Nadine Slump (21), wat al van jongs af ʼn liefde vir vlieg koester, se groot droom om haar privaatvlieënierslisensie te verwerf sal eersdaags bewaarheid word.

Slump beoog om dié lisensie te verwerf op die Sling II, ʼn Suid-Afrikaanse ligte vliegtuig. Nadat sy hierdie lisensie voltooi het, beplan sy om ʼn lisensie-oorskakeling te doen sodat sy ander vliegtuie ook kan bemeester.

Slump glo sy het haar liefde vir vlieg by haar pa gekry. “Hy is die rede hoekom ek vandag vlieg. Ek hou al van kleins af van enigiets met spoed en krag. Ek dink maar dit loop in ons familie se bloed.”

Slump meen dat die gogga haar gebyt het tydens haar tweedejaarstudies aan Akademia, toe haar pa met ʼn instrukteur gereël het dat sy gaan vlieg. Sy het haar studies in BCom (Ondernemingsbestuur) verlede jaar aan dié universiteit voltooi.

“My droom is om helikopters te vlieg. Ek het dit al so paar keer gedoen en was onmiddellik mal daaroor,” vertel Slump.

Nadine Slump koester al van jongs af ‘n liefde vir vlieg. (Foto: Verskaf)

Buiten die Sling II, het Slump al geleentheid gehad om in verskillende vliegtuie te vlieg wat onder andere die Cessna 172 insluit. “Maar sit my in enigiets in die lug wat ek kan vlieg en ek is gelukkig!”

Sy vertel dat ʼn privaat vlieënierslisensie die eerste lisensie is wat voltooi moet word. Om hierdie lisensie te verwerf moet die persoon ouer as 17 jaar oud wees, mediese toetse aflê, ʼn radiolisensie voltooi, agt eksamens aflê, asook ʼn totaal van 45 ure vlieg, waarvan 25 saam die instrukteur is, 15 alleen en vyf navigasievlugte is.

Met slegs ʼn navigasie-eksamen en ʼn paar uur oor om te voltooi, is Slump goed op dreef om haar privaatvlieënierslisensie teen die middel van die jaar te voltooi en dan private vliegritte as ʼn stokperdjie aan te pak.

“Ek het al in die kort rukkie wat ek vlieg besef dat elke keer wat ek in die lug is, dit anders en mooier lyk as die vorige keer. Of ek nou oor die see, berge of vlaktes vlieg, ek wil net vlieg, maak nie saak waarnatoe nie.”

Volgens haar het haar studies haar die nodige onderbou gegee om van haar vakke in lugvaartkunde te voltooi.

“Ek het al besef dat die vliegwêreld so baie met besigheid geïntegreer is. Sommige van die vakke vir vlieg wat voltooi moes word, was beslis makliker met die modules wat ek tydens my studies in ondernemingsbestuur voltooi het.”

Sy voeg by dat die aard van Akademia se onderrigmodel haar gehelp dat sy haar vliegpassie kon uitleef, aangesien sy kon werk terwyl sy studeer. “Met goeie tydsbestuur kon ek my vliegbelangstelling najaag”.

Haar raad aan jongmense wat graag wil begin leer vlieg, is om geduldig te wees en in hulself te glo en dit te geniet. “Meisies, dit is nie iets wat net mans doen nie – so moenie dat dit jou terughou nie!” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kaptein67 ·

Pragtig meisie, jy het ‘n blink toekoms.
Dankie Maroela vir sulke mooi stories oor ons kinders.

Chris ·

Mooi so. Jy is op die regte pad (roete). Daar is wêreldwyd ‘n tekort aan goed opgeleide handelsvlieëniers. Gelukkig is ons land nog op standaard wat dit betref.

Cherokee ·

Wenk met ‘n glimlag Leonie Bezuidenhout, dit is nie vaartuie maar vliegtuie :-) En oorskakel na ander klas vliegtuie en nie (na) lugvaarte. Dit was net so terloops gesê.
Nadine, geniet jouself en bly versigtig. ‘n Vliegtuig is die veiligste vervoermiddel op aarde, maar ken jou perke, wees versigtig vir stormweer en moet nie ophou glimlag nie :-) Jy lyk pragtig agter die stuurstang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.