Foto’s: Bejaardes helder op toe sanger met musiek, tuisgebak verras

Riaan Grobler bak al die sjokoladekoeke en melkterte self. (Foto: Verskaf)

Riaan Grobler, sanger en radio-aanbieder by Pretoria FM, het Saterdag sy sogenaamde ‘Ek wil lewe’-liefdadigheidsprojek afgeskop met ʼn funksie vir sowat 80 bejaardes by die Ebenhaeser-ouetehuis in Kilnerpark, Pretoria.

Nie net het Grobler self die vermaak verskaf nie, maar ook die tuisgebak – groot sjokoladekoeke en melkterte waaronder die tafels behoorlik gekreun het – self gebak.

“Ek het hande gevat met die Centurion Hospice waar ek elke keer voor ʼn geleentheid van hulle massiewe oond gebruik maak om my tuisgebak te bak,” vertel Grobler. Marius Bester, operasionele bestuurder van die Centurion Hospice, help hom ook om die koeke te versier.

“Die koeke en terte is verskriklik lekker, al moet ek dit nou self sê,” lag Grobler en vertel dit was ʼn “ongelooflike, spesiale dag”.

“Die bejaardes het die vertoning só geniet en hulle was verras dat hulle koek en melktert ook gekry het. Ek dink hulle het slegs ʼn vertoning verwag. Ek kon op hulle gesigte sien dat dit vir hulle baie lekker was. Ek het so 40 minute lank gesing en een tannie het vir my kom sê ek het haar ou hart weer jonk kom maak.”

Die sanger vertel hy het meer as 100 navrae van ouetehuise landwyd gekry wat graag wil hê hy moet met sy klanktoerusting en tuisgebak ʼn draai by hulle inwoners maak.

Die koste van die tuisgebak beloop egter sowat R4 500 en Grobler maak van borge staat om die bestanddele aan te koop. Die Doulos Armoedebediening, Dignity Funeral Services, Ginger Love, asook ʼn paar van Grobler se vriende het Saterdag se geleentheid moontlik gemaak.

“Ouetehuise tot by Nelspruit en Kaapstad het by my aangeklop om by hulle te gaan kuier. Ek sal graag, indien ek die regte hulp kan kry, die projek op ʼn landwye grondslag wil aanpak.”

Grobler vertel hy het “so te sê” in ʼn ouetehuis grootgeword aangesien sy oumagrootjie so ʼn tehuis bestuur het.

“My liefde vir bejaardes is van kleins af gekweek. Om die blydskap op hulle gesigte te sien nadat hulle ná soveel maande in afsondering weer bederf is, het trane in my oë gebring.”

Riaan moedig ouetehuise reg oor Suid-Afrika wat wil hê hy moet by hulle ook kom kuier, aan om vir hom ʼn e-pos te stuur na [email protected] sodat hy die projek kan uitbrei en so ʼn verskil in nog meer mense se lewens te kan maak. Mense kan hom ook kontak as hulle skenkings van enige aard wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Linda ·

Jou Ouma kan met reg trots wees op jou. Jy is voorwaar n wandelende engel en pragtige voorbeeld vir menigte! Doen so voort!! Mag jy ryklik beloon en geseën word…

Outspoken ·

Wat ‘n goeie daad, dis regtig awesome om te sien daar is nog bekendes wat regtig omgee vir die ouer mense. Dit voel vir my deesdae word ou mense in ‘n tehuis gedruk en dan word daar van hulle vergeet

Michele ·

Kry ek nou sommer n knop in my keel. Dankie vir jou bydrae om die ou mense so lekker te bederf. Jou Ouma is defnitief trots op jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.