Sanger trakteer bejaardes met koek en konsert

Riaan Grobler (Foto: Instagram)

Die sanger en radio-aanbieder by Pretoria FM Riaan Grobler het pas ʼn nuwe projek begin waar hy mense in ouetehuise wil trakteer met heerlike tuisgebak en ʼn konsert. Riaan noem dié projek “Ek wil lewe vir môre”, wat ook ʼn snit op sy jongste album is.

Hy vertel dat bejaardes hom nog altyd na aan die hart lê omdat hy omtrent in ouetehuise grootgeword het.

“My oumagrootjie het ʼn losieshuis gehad waar oumense gebly het. In my kinderdae het ek altyd vir oumense konsert gehou en allerhande goed gekry om hulle mee besig te hou.

“Dit ruk elke keer my hart as ek die stories hoor van hoeveel oumense bloot voor die ouetehuis se deur afgelaai word net om nooit weer hulle mense te sien nie. En ek het al met genoeg ouetehuise te doen gekry om te weet amper elke ouetehuis het sulke gevalle.”

Riaan sê sy liefde vir bejaardes het as kind gegroei en nou wil hy ʼn verskil probeer maak in dié mense se lewens, veral na ʼn moeilike jaar waar baie oumense in totale afsondering van hul geliefdes geleef het as gevolg van die Covid-19-pandemie.

Hy het die idee gehad om die “Ek wil lewe vir môre”-projek by Van Rensburg Ouetehuis in Pretoria te begin waar hy tien koeke en tien terte sal bak en vir die inwoners ʼn konsert sal hou. Hy sê dit is ʼn manier vir hom om sy natuurlike talente te gebruik om terug te gee aan die gemeenskap en die mense vir wie hy so lief is.

Riaan sê hy is reeds oorweldig deur mense se goedhartigheid om te help met die projek, en dat hy hoop die projek op so manier sal kan uitbrei.

Doulus Armoedebediening en Dignity Life Administrators het reeds aangebied om vir al die  bestanddele en ander uitgawes te sorg vir die eerste rondte van die projek.

“Daar is baie oumense wat dag in en dag uit net daar sit in die ouetehuis en wag vir tyd om verby te gaan. So met die ‘Ek wil lewe vir môre’-projek wil ek iets doen wat fisiek en geestelik ʼn positiewe impak op hulle sal hê. Die nood is baie groot om ʼn bietjie lekkerte in die oumense se lewens te sit.”

Riaan moedig ouetehuise reg oor Suid-Afrika wat wil hê hy moet by hulle ook kom kuier, aan om vir hom ʼn e-pos te stuur na [email protected] sodat hy die projek kan uitbrei en so ʼn verskil in nog meer mense se lewens te kan maak. Mense kan hom ook kontak as hulle skenkings van enige aard wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annif ·

Pragtig jongman! Jy sal waarlik geseënd word. Hoop jy kry sommer baie wat jou gaan help. Baie dankie wat jy vir oumense wil doen.

Racheltjie Debeer ·

Wow, dis voorwaar ‘n fantastiese gebaar! Mag jou projek geseënd wees.

Witwolf ·

Sy hart sit op die regte plek maar kan julle asseblief van ouer persone en aftree-oorde praat i.p.v. bejaardes of oumense en ouetehuise?

Elize ·

Fantasties Riaan. Ja asb, doen van Rensburg sommer heel eerste, die mensies daar gaan so bly wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.