Foto’s: Fietsry deur die ‘republiek van groen en goud’

Simone Sharpe verken die ‘republiek van groen en goud’ per fiets. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Ons ry met bergfietse teen bulte uit en verby lappieskombers-lande wat in geel en groen en rooigrondbruin tot teenaan die gesigseinder ontvou. Dan is daar natuurlik ook die soel en koel kronkel van die Breederivier, wat beteken jy kan reken op ʼn buitelugbestemming vir fietsry soos min ander.

Die bestemming

Die Overberg is Suid-Afrika se sogenaamde ‘broodmandjie’ en dié streek se landskap lê heel sag op die oog. Dit is puik landbouwêreld hierdie, en wanneer ʼn mens al met die N2-deurpad langs verby Caledon, Swellendam en Heidelberg suiker, wuif die raapsaad, gars en koring behoorlik in die briese.

Ruwe bergpieke wolkekrabber teen die blou lug na die binneland toe, en dit is hier waar duisende bergfietsryers deesdae dik spore trap. Baie boere in dié omgewing het besef dat daar ʼn geldjie te make is uit avontuurtoerisme, en dit is deels hoekom ʼn mens so lekker hier kan bergfiets ry.

Swellendam self is ʼn statige dorp – ʼn mens wil amper sê stad, want dit was vir ʼn kort stonde nogal ʼn republiek – en boonop spog dit met van jou beste wyn, koffie, bier en cuisine in die hele Wes-Kaap. Die mense is nog lekker plat op die aarde en sonder fieterjasies, presies net hoe ʼn mens dit sal verwag op ʼn boeredorp.

Gaan loer gerus by www.visitswellendam.co.za vir meer inligting.

Die roetes

Daar is verskeie roetes wanneer jy opsaal hier in Swellendam, maar een ding is verseker: die plaaslike bergfietsroetes bied ʼn trap wat almal pas. Die ervare manne en meisies moet reg maak vir die rooi 33 km-roete, met ʼn klim van ongeveer 980 m, asook ʼn tegniese enkelspoor vir meer ervare fietsryers.

Die blou-roete is pasgemaak vir ervare en fiks fietsryers, met 21 km waartydens jy hier en daar uitdagende opdraandes sowel as skerp draaie sal moet trotseer, maar dit is alles lekker rybaar. Die groen-roete is heelwat makliker en sal werk vir die hele gesin. Laastens is daar die kort en plat geel-roete van net oor die 5 km wat kinders en beginners gelukkig sal hou.

Verskeie fietstraproetes wink ook in die Marloth-natuurreservaat, waar jy deur meer as 14 000 ha se fynbos en plantasies hier aan die voet van die Langeberge kan ry. Roetes deurkruis denneplantasies, inheemse woud en velde wuiwende fynbos, reg van die Hermitage-vallei tot teenaan die “Plaat”.

Elke jaar geskied die legendariese Around the Pot 100-Myler-gruispadfietsren ook hier in die gebied en dié jaar was daar selfs ʼn 200-Myler vir die ysters daarbuite. Dit het katte en honde gereën voor die wegspring, dus was dit omtrent ʼn modderbad, veral vir die trappers wat moes deurnag op die 320 km roete. Die foto’s vertel die storie mooi.

Vir meer inligting oor fietsry in die omgewing besoek www.visitswellendam.co.za en www.aroundthepot.co.za

Dit was ʼn modderbad vir die meeste van die 100-Myler-roete. (Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.