Foto’s: Gr. 1’s so blink soos ’n nuwe sikspens

Pieter Brendenkamp, die skoolhoof, en Superbokkie, die Parkies se eie gelukbringer, het gereed gestaan om die leerders terug te verwelkom. (Foto: Verskaf)

Laerskool Menlopark in die ooste van die Jakarandastad was een van talle openbare skole wat Maandag uiteindelik leerders vir die nuwe akademiese jaar terug verwelkom het.

Volgens Odette Klopper, adjunkhoof van die skool, het alles seepglad met die eerste dag verloop.

“Ons gr. 7-leerders het gereed by die hekke gestaan om die ander leerders te ontvang. Daar was foto-rame waarin almal ʼn foto van hul eerste dag kon terugneem en Superbokkie, die skool se gelukbringer, het al die leerders kom groet.

“ʼn Mens kon sien die kinders se oë blink van pure opgewondenheid, en ek is seker die tandjies het net so geskitter agter daardie maskers.”

Klopper sê die skool het ekstra moeite gedoen om al die ouers stap vir stap te verduidelik hoe die inname van die eerste dag sou plaasvind. Sosiale distansiëring moet steeds gehandhaaf word en daarom is die gr. 1’s en hul ouers reeds net duskant die hekke van die skoolterrein ontvang om die nodige papierwerk vir die eerste dag af te handel.

“Daar was trane, maar meestal by van die mammas en selfs ʼn paar pappas ook,” het sy bygevoeg.

Laerskool Menlopark sê hulle is gerat vir die jaar wat twee weke later as beplan afgeskop het weens verlenging van die inperkingsmaatreëls om ʼn tweede golf van Covid-19 te bekamp.

“Ons het die bykomende twee weke baie goed aangewend. Ons bestuurspan was reeds op 25 Januarie terug op hul pos en het die finale afrondings aan ons beplanning vir 2021 gedoen.

“Die onderwysers het reeds op 1 Februarie by die skool aangemeld en hulle is rustig en ten volle ingelig oor hoe die res van die jaar moet verloop.”

Klopper sê een van die gr. 1-onderwysers het selfs die tyd gebruik om haar hele klas oor te versier met nuwe skapies en lammetjies.

“Ek dink ʼn mens vergeet hoe baie die onderwysers die kinders mis. Hulle was net so opgewonde om die kinders vanoggend terug te ontvang.”

Laerskool Menlopark in Pretoria is slaggereed vir die nuwe akademiese jaar. (Foto: Verskaf)

Laerskool Menlopark het verlede jaar op ʼn hartseer noot gesluit toe drie van hul leerders en ʼn ouer verongeluk het. Dit het die skoolgemeenskap geruk. Die skool het in Januarie ook nuus ontvang dat hul krieketafrigter en kollega, Geoff Clark, weens komplikasies met Covid-19 gesterf het.

Superbokkie kuier by die gr. 1-leerders in die klas. (Foto: Verskaf)

Tog het dit nie die skool gestuit nie en hulle het reeds vroeg in Februarie oor twee dae handboeke en skrifte vir leerders uitgedeel.

Volgens Kloppers het die skool se onderwysers verlede week ook ʼn temaweek gehad waar hulle elke dag volgens ʼn ander tema aangetrek het.

“Ons het besef ons kollegas mis mekaar ook en ons moet iets doen om soveel moontlik van die menslikheid vas te vang wat agter die maskers en skerms en die gejaag van een klas na ʼn ander, verlede jaar verlore gegaan het.”

Hier is hoe dit Maandagoggend by Laerskool Menlopark gelyk het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.