Foto’s: SA’ners los serpe in strate vir behoeftiges

(Foto: Facebook via 67 Blankets for Nelson Mandela Day)

Met ʼn ysige kouefront wat die naweek vir Suid-Afrika voorspel word, is ʼn inisiatief soos die 67 Blankets for Mandela Dayprojek, onder leiding van Carolyn Steyn, selfs nodiger as ooit tevore.

Hierdie projek moedig mense van reg oor Suid-Afrika aan om serpe te brei of te hekel en dit dan op plekke te los waar behoeftige mense dit kan kry. Bome, parkbankies en hekke hang reg oor die land vol serpe wat spesiaal vir die projek gemaak is en ondertussen ook die strate met bont kleure ophelder.

Hierdie besonderse projek is in Desember 2013 begin nadat voormalige president Nelson Mandela se persoonlike assistent, Zelda la Grange, vir Steyn uitgedaag het om 67 komberse teen Mandeladag op 18 Julie te maak.

Natuurlik was dit nie vir Steyn moontlik om dié projek alleen aan te pak nie, en sy het ʼn Facebook-groep gestig om vriende te kry om haar te help.

(Foto: Facebook via 67 Blankets for Nelson Mandela Day)

Sedertdien het dié blad so gegroei dat dit al meer as 13 000 lede het wat daagliks werk aan dié inisiatief. Dit het ook verskeie ander projekte, onder andere die secret scarf-projek wat jaarliks in die winter aangepak word.

As gevolg van die groot groei van hierdie beweging is veel meer as die oorspronklik 67 komberse en serpe reeds aan behoeftiges gegee.

Die projek het ook oorsee aandag getrek en mense uit Australië, België, Londen, Indië en Kanada maak nou almal deel uit van die “KnitWits for Madiba”, soos die groeplede hulself noem.

Die Facebook-groep se uitgangspunt is dat mense hul eie wol moet aankoop en dan komberse of serpe brei of hekel. Mense wat deel wil word van die groep moet onderneem om hul belofte na te kom om behoeftiges op hierdie manier te help.

Wanneer deelnemers klaar die serpe gebrei het, kan hulle dit enige plek hang waar dit toeganklik is vir mense wat dit moontlik nodig het. Die serpe het ook elk ʼn boodskap aan wat lui: “Ek het nie verdwaal nie; as jy koud kry en jy het my nodig, vat my asseblief.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mallie ·

Baie dankie aan almal wat deel is van die projek. Weereens is dit die gehate witmense wat aan die agtergeblewendis die geleentheid gee om warm te wees deur die koue winter maande. Wat doen die anc en eff?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.