Foto’s: Solidariteit bekroon gemeenskapsterre

Solidariteit Beroepsnetwerk se Sterre in die gemeenskap-glasgeleentheid. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“ʼn Aand soos vanaand is ʼn aand van hoop en goeie nuus. Mense wat regtig in moeilike omstandighede uitsonderlik presteer het, word vereer. Dit is mense wat deur hulle karakter en waardes sukses bereik.”

Só het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Dinsdagaand by die Solidariteit Beroepsnetwerk se Sterre in gemeenskap-glansgeleentheid gesê.

Die Sterre in gemeenskap-inisiatief vereer jaarliks Afrikaanse beroepsterre uit verskillende velde vir die unieke roeping wat elkeen vervul.

Die Ambag-, Kommunikasie- en Bemarking-, Onderwyser-, Kantoorpraktisyns- en Verpleegsternetwerke het elkeen deur die jaar ʼn kompetisie van stapel gestuur en die onderskeie wenners is deur ʼn nominasie en stemproses gekies.

Ontvangers van hierdie pryse is vanjaar deur lede van die publiek genomineer om in hulle onderskeie beroepsgemeenskappe vereer te word.

Hermann het ook tydens die geleentheid bekend gemaak dat ʼn rekordbedrag van R62 miljoen aan studiefondse en opleiding in 2023 bewillig word.

Nagenoeg R23,6 miljoen word vir studiefondse toegeken, terwyl R26,3 miljoen aan Afrikaanse onderwysinstellings – onder meer Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding, Solidariteit Leer en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum– oorhandig word.

ʼn  Verdere bedrag van R12 miljoen word deur die Solidariteit Beleggingsmaatskappy aan Afrikaanse onderwysinstellings toegeken.

Bo en behalwe dié skenkings word ʼn spesiale bedrag van R12,5 miljoen aan die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum toegeken. Dit word in samewerking met twee vennote, Virseker en die AJ de Kock Trust, gedoen.

“Die doel is om die bou van ʼn onafhanklike Afrikaanse skool en ʼn Afrikaanse skolekonsessienetwerk ʼn hupstoot te gee en om momentum aan ʼn alternatiewe Afrikaanse skoolstelsel te bied,” sê Hermann.

Hier is die volledige lys van wenners vir die Sterre in die gemeenskap-pryse:

#JouYster

Wenner: Ferdi van Niekerk

#GoeieGons

Grafiese kategorie: Michelle Rossouw
Videokategorie: Arné Boshoff
Kategorie: Kreatiewe skryfwerk: Lindie van Gass
Kategorie: Joernalistieke skryfwerk: Jandri Barnard
Kategorie: Leefstylfotografie: Bianca Appelgryn (Smit)
Kategorie: Aktuele fotografie: Johan Orton
Radio: Nuus‑ en Aktualiteit-kategorie: Sarina Bosman
Kategorie: Radio-omroeper: Riaan Grobler

Onderwyser van die jaar

Kleuterskoolonderwyser van die jaar: Britte Claassen
Laerskoolonderwyser van die jaar: Colette Rossouw
Hoërskoolonderwyser van die jaar: Hannalie van der Merwe

Kantoorkampioen

Wenner: Marissa Pienaar

VerpleegSTER van die jaar

Wenner: Giovanna Polera

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.