Foto’s: Uilpaar van Langebaan het sosiale media gaande

Die uilpaar van Langebaan (Foto: Verskaf)

Sowat ’n jaar gelede het ’n gevlekte Kaapse ooruilpaar nes gemaak in ʼn potplant op die stoep van Francois en Alta Vrey se huis in Langebaan. Deesdae kan die gemeenskap van Langebaan en ook die breër publiek op sosiale media nie genoeg kry van die wel en wee van hierdie uilpaar en hul kroos nie.

Soos alle bekende gesigte in die media het elkeen se storie van roem iewers begin. Die gevlekte ooruilpaar se storie het verlede jaar begin toe hulle een dag besluit het om op die balkonreling voor die sitkamervenster op die tweede verdieping van die Vreys se huis te gaan sit nadat hulle vir ongeveer drie tot vier maande hulle in die groot boom voor die Vreys se huis tuisgemaak het.

Alta Vrey vertel dat sy opgewonde was toe sy die uilpaar helder oordag op die balkonreling gewaar het. “Ek het nog net die uile in die nag in die bome gehoor, maar hulle nog nooit van so naby gesien nie,” sê sy. In die 15 jaar wat sy en haar man, Francois, al in hulle huis in Langebaan woon, het so iets nog nooit gebeur nie.

Die uilwyfie, met slegs een oog, het in een van Alta se wilde knoffelplante se potplanthouers begin skrop. “Ons buurman het toe vir ons ’n uilhuisie gebou wat ons bo-op die potplant gesit het, maar dié mamma-uil wou niks weet nie,” vertel Alta. Die Vreys het die volgende dag ’n eier in ’n ander potplant ontdek. Drie dae later was daar drie eiertjies in die potplant.

Alta het met groot verwondering dopgehou hoe die uilwyfie haar eiers dag en nag beskerm het teen ysige reënbuie en sterk wind. Die mannetjiesuil het ook elke dag kos, van muise tot voëlkuikens, aangedra. In Augustus 2018 is die eerste uilkuiken gebore, met die ander twee kort op die eersteling se hakke.

Die uilwyfie met slegs een oog (Foto: Verskaf)

Die Vreys het hulle oor die nuwe huislede ontferm en gehelp waar hulle kan sonder om in te meng by die natuurlike verloop.

Francois het die onderste gedeelte van die balkonreling met gaasdraad bedek sodat die kuikens nie kan afval nie. Terwyl die kuikens klein was, het Alta begin om vir hulle rou hoenderlewer en -nekkies op die potplant se rand te sit. In die somer wanneer die warm Weskusson die uilwyfie en haar kroos warm gebak het, het Alta hulle met fyn sproeiwater gelawe. Weer eens het die uil se moederinstink sterk deurgekom wanneer sy haar vlerke wyd om die kleintjies sprei om hulle te beskerm teen die bloedige sonstrale, vertel Alta.

Op nege weke het die kuikens, wat teen daardie tyd as Kevin, Bob en Bettie deur Alta se kleinseun gedoop is, hul vlerkies begin sprei en uit die pot begin klim waar hulle ook later die grasperk onder begin verken het. Een dag het die uilpaar en hulle kroos soos mis voor die son verdwyn.

Ná ongeveer drie weke het die Vreys uitgevind dat hulle nou in die lang bome op plaasgrond oorkant die pad bly.

Die uilpaar en hul kroos (Foto: Verskaf)

Dit was egter nie die laaste sien van die uilgesin nie. Een skemeraand, ná ongeveer twee weke se afwesigheid, het die uilwyfie, Bob en Kevin weer hulle verskyning op die balkonreling gemaak. Alta vertel hoe hulle vandag, ná ’n jaar, nog steeds elke aand op die balkon kom sit waar sy vir hulle kos gee.

Sowat ʼn maand gelede het die mannetjiesuil ook sak en pak teruggekeer. “Die uilpaar sit nou weer in die boom en loer vir mekaar. Bob sit heeldag op die balkonreling en slaap totdat dit tyd is om te gaan jag,” sê Alta. Bettie, die derde uilkuiken, was nooit weer te sien nie.

Alta vertel dat die Langebaan-gemeenskap gaande is daaroor wanneer sy foto’s van haar uilkinders op sosiale media plaas. “Mense begin my al vra hoe dit met Bob en Kevin gaan as ek ’n lang ruk niks van hulle op sosiale media geplaas het nie,” sê Alta.

Volgens Alta het sy uit dié hele ervaring geleer dat die mensdom tekort skiet wanneer dit kom by die ongelooflike moederliefde wat sy by dié uilwyfie gesien het. “Die manier hoe hierdie uil haar kleintjies en eiers beskerm het, het my aan die hart geruk. Sy het elke dag haar eiers tot die beste van haar vermoë beskerm, ten spyte van uiterste weerstoestande. Ons as mense kan beslis by dié uil oor moederinstinkte leer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

RonelS ·

Julle het wonderlike werk met hulle gedoen. Mooiste goedjies ooit!

Amanda ·

Dit is die mooiste artikel op MM ooit!! Ek hoop hulle keer elke jaar terug om te kom broei. Baie geseënd is die Vreys, dat hulle deel het aan iets so spesiaal!. 🦉🦉

Justice ·

Met daardie pragtige uitsig kan ek verstaan hoekom die uile juis daar wil nesskop – oulike artikel!

MM ·

Hulle is al so deel van ons dorp en gemeenskap. Dis lekker om gereeld goeie nuus oor hulle te kry….. Al die uile voel al soos familie…. Hou so aan Alta.

jean ·

Is dit nie wonderlik nie ….en watter voorreg!. Ons wil so bitter graag ‘n uilkassie buite in ‘n boom laat plaas maar die mense in George is te lief vir hul rottegif…..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.