Gemeenskap skep sensoriese lushof vir demensie-pasiënte

(Foto verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se vrywilligertak in Bronkhorstspruit het kragte saam met matrone Karin Ludwig van die Ons Herberg Ouetehuis gespan om ʼn spesiale tuin vir bejaardes met demensie aan te lê.

Dié tuin wat Helpende Hand met die Ons Winkel Bronkhorstspruit, plaaslike sakelui en die gemeenskap se hulp aangeplant is, is ʼn sensoriese tuin wat die pasiënte se sintuie stimuleer met verskillende plante, kleure, geure, klank en teksture. Die tuin is bedoel om ʼn sinvolle en terapeutiese ervaring tot die pasiënte se beskikking te stel.

Dit is juis so ontwerp om die pasiënte ʼn veilige en rustige omgewing te bied waar hulle kan wandel, ontspan en hul herinneringe kan oproep. Daar is ook ʼn pergola, ʼn winkeltjie en selfs ʼn voëlhok.

Demensie is ʼn siekte wat ʼn mens se geheue en denkvermoë aantas. Dit kan veroorsaak word deur verskeie toestande, byvoorbeeld Alzheimer se siekte, Parkinson se siekte en selfs ʼn beroerte. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie ly meer as 50 miljoen mense wêreldwyd aan demensie en sal hierdie syfer na verwagting in die toekoms elke 20 jaar verdubbel.

Melouise Taljaard, die voorsitter van die Helpende Hand Bronkhorstspruit-tak, sê die tuin was ʼn droomprojek wat hulle vir hul gemeenskap wou nalaat.

“Ons wil die pasiënte die mooi van die natuur laat sien en hul terugvat na vergete herinneringe. Ons weier om hulle agter geslote deure te hou en van hul laaste bietjie menswees te ontneem. Ons sal hulle koester; hulle is juis dié wat vir ons die pad vorentoe gebou het,” sê Taljaard.

Mariana Kriel, streeksorganiseerder van die Helpende Hand Pretoria-streek, sê die tuin, wat eens net ʼn vaal stuk grasperk was, is ʼn voorbeeld van hoe mense kan saamwerk tot voordeel van hulle gemeenskappe. Sy bedank almal wat Helpende Hand se Ons Winkel in Bronkhorstspruit ondersteun het asook die borge en skenkers wat die tuin moontlik gemaak het.

(Foto verskaf)

Daar is in Oktober met voorbereidings vir die tuin begin deur die grasperk gelyk te maak en boomwortels uit te haal sodat die bejaardes gemaklik met hul stootkarretjies op ʼn wandelpaadjie kan rondbeweeg. Die tuin is amptelik op 13 Desember geopen met ʼn spesiale seremonie waartydens die pasiënte, personeel, vrywilligers en gaste die eerste plantjies geplant het. Helpende Hand-vrywilligers sal dit deurlopend onderhou.

Die gemeenskap kan die projek ondersteun deur deel te raak van die vrywilligertak of deur bruikbare tweedehandse items aan Ons Winkel Bronkhorstspruit te skenk. Kontak Melouise Taljaard by 012 345 6789 of stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.