Geniet Braaidag-samesyn met dié veelsydige braaier

Die pizza-braaier. (Foto: verskaf)

Daar is min dinge wat so eg Suid-Afrikaans soos ’n braaivleisvuurtjie, ’n skaaptjop en heerlike samesyn is.

Gecko Grill, ’n Suid-Afrikaanse organisasie wat tientalle braaiprodukte verkoop, het egter ’n unieke blik op ’n tradisionele braai, waarmee Suid-Afrikaners goed bekend is, gewerp.

Met die oog daarop om ’n unieke gesinservaring te bied en samesyn te skep, is die pizza-braaier ontwikkel.

Cobus Raubenheimer, die man aan die stuur van die organisasie, vertel dat die idee vir die braaier in 2017 ontstaan het.

“Ons is eintlik ’n ingenieursfirma wat sonder enige werk gesit het. So het die idee opgeduik om braaiers te begin bou.”

Natuurlik was pizza nie die eerste idee wat hulle met hul eg Suid-Afrikaanse produk in gedagte gehad het nie. Ywerig het hulle weggespring met die maak van ’n tradisionele braaier, een wat soos ’n geitjie uit die muur vir jou loer.

Alhoewel die naam van die organisasie van dié eerste braaier afkomstig is, was Raubenheimer nog nie oortuig daarvan dat hulle die uniekheid van ’n Suid-Afrikaanse produk met ’n interessante verkoopspunt vasgevang het nie.

Die oomblik wat hy egter besef het dat pizzas die lokpunt moet wees, was vir Raubenheimer die begin van nie net sy onderneming se reis met die produk nie, maar ook sy eie as tuiskok.

“Jy hoef nie Jamie Oliver te wees om heerlike kos met die braaier te maak nie. Kyk, daar is sekere goed wat my vrou baie beter as ek kan doen, maar ek doen nie te sleg nie.”

Met hitte van bo en onder, word pizza in ’n japtrap gaar. Boonop is die deegresep, wat uit meel en geurlose, vet- en suikervrye jogurt bestaan, wat Raubenheimer en sy vrou ontdek het, ’n sakpaswenner.

Dié unieke braaier het in 2021 die tweede plek in die Go Global-kompetisie se handelsafdeling behaal. Raubenheimer vertel skertsend teen watter soort produkte hulle meegeding het.

“Dit was eg Suid-Afrikaans, die ander lande het hierdie ingewikkelde produkte ingeskryf, en daar was ons met ons braaier. Kyk, Amerikaners weet dalk meer van fone af, maar van braai weet hulle maar min.”

Hy vertel ywerig dat hoewel die naam jou dalk die idee gee dat jy slegs pizzas met die kompakte braaier kan maak, die veelsydige aard daarvan mense sal verras.

“Jy kan soutterte, vleiskoekies (patties) en koek daarin bak.”

Daarmee saam kan ander unieke disse ook in die braaier opgetower word, insluitend Raubenheimer se gunsteling – nacho’s.

“Ek mag natuurlik nie te veel daarvan eet nie, my vrou sê ek gaan vet word,” het hy skertsend vertel.

Die sakeonderneming, wat begin het met die oog daarop om ’n unieke kuierervaring te skep, is gebou op die terugvoer en ondersteuning van Suid-Afrikaners wat van die braaier gebruikmaak.

Toe ’n gebruiker die onderneming gekontak het met die behoefte om brood op die braaier te kan bak, het hulle aan die werk gespring om ’n bykomstigheid te ontwikkel waarin brood gebak kan word.

“Ons het nou al meer as ’n duisend van die braaiers verkoop, en daar het nog nie een mens teruggekom om te sê dat hulle ontevrede is nie.”

  • Vir meer inligting besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.