Geniet Kersdag met dié uitsendings op RSG

Argieffoto (Foto: Islem Benzegouta/Pixabay)

Met Kersdag wat vanjaar op ʼn Sondag val, kan RSG se luisteraars veral uitsien na spesiale uitsendings van geliefde programme soos Loof die Here, Nic se goed, Dis gospel en Dis opera. Daar is ook ʼn Kersfeessprokie uit die pen van Charles Dickens wat op luisteraars wag.

RSG se Kersdag-program begin om 05:00 met Oggendstemming gevolg deur Kersstemming, wat onder meer musiek van King’s College se koor, Yo-Yo Ma, Enya en ʼn komposisie van Nigel Hess insluit.

Die gereelde Bybelvoorlesing en gewilde Sondagoggendprogram Binnekamer, wat op stories van geloof, inspirasie en dankbaarheid fokus, word uitgesaai voordat Magdaleen Krüger oudergewoonte om 08:00 agter die mikrofoon inskuif vir Loof die Here. Dié program het vroeër vanjaar sy 50ste bestaansjaar gevier.

Om 09:00 is daar ʼn Kersdiens en daarna volg Kersversoeke vir 90 jaar en ouer. Luisteraars kan vooraf hul versoeke per e-pos na [email protected] stuur.

Johan van Lill se gewilde musiekreeks, Liefdesliedjies, word op Kersdag afgesluit en sal om 10:00 aan die beurt kom. In ʼn Kersjoernaalprogram met die tema “Lewe en lig” om 11:00 lees Phillip de Vos vier van sy gedigte voor en die program word deur Lizelle de Bruin aangebied.

Om 12:00 kan aanhangers van Nic de Jager regskuif vir Nic se goed. Vir die eerste keer in die geskiedenis van hierdie program is Kersdag op ʼn Sondag en daarom sal die program rondom Kersfees wentel.

Ná die 13:00-nuus kan luisteraars ingeskakel bly vir Ebenezer Penniegryper: ʼn Kersfeessprokie, ʼn Afrikaanse vertaling van Charles Dickens se klassieke A Christmas Carol. André Rossouw vertolk die titelrol in hierdie produksie deur Joey de Koker.

ʼn Klassieke Kerskonsert in samewerking met Salon Musiek begin om 14:00. Dié feestelike program van klassieke Kersfeesmusiek, vokaal en instrumentaal, is spesiaal deur Willem Vogel saamgestel, wat ook die regie van die produksie behartig. Dit is die tweede deel van die konsert. Die eerste aflewering word op Oukersdag (24 Desember) om 17:00 uitgesaai.

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

Kersliedere soos “In die stad van koning Dawid”, “Cantique de Noël”, “Somerkersfees”, “Joy to the World” en “Heidschi bum Beidschi” word afgewissel met gewyde werke uit die Messias van Handel, “Agnus Dei” van Bizet, ʼn “Ave Maria” uit Ysland, “Allelujah” vir tenoor en trompet van Fux en daar is selfs ʼn uittreksel uit Die neutekraker van Tsjaikofski.

Om 15:00 volg ʼn gespreksprogram deur dr. Flip Loots wat met sy gaste oor aktuele  Kerstemas gesels. ʼn Spesiale Kersepisode van Vers en klank onder leiding van Ina Strydom word om 16:00 uitgesaai, en Leefwêreld van die gestremde volg daarna. Fanie du Toit belig die “Walk in my Wheels”-projek in Oudtshoorn waar ʼn pastoor uitgedaag is om vir vier uur in ’n rolstoel deur te bring. Dis gospel is oudergewoonte om 17:00 op die Sondagprogramrooster en Jacqui January speel die allermooiste gospelliedjies om die laaste deel van Kersdag in te lei.

Ná 18:00 volg die musiekversoekeprogram, ʼn aanddiens, Geloof wat grondvat, Sterre en planete, Kommentaar, Dis opera en Goue oues.

Die spesiale Dis opera-Kersprogram is saamgestel uit musiek deur onder andere Luciano Pavarotti, Renée Fleming, Placido Domingo, Roberto Alagna, Kiri te Kanawa, Thomas Hampson, Jussi Björling, Sissel Kyrkjebo, asook liedere van Jonas Kaufmann en Andrea Bocelli se Kersalbums.

Besoek RSG se webwerf vir Kersdag se volledige programskedule en om op die hoogte van enige veranderinge te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.