Gesogte prys vir SA in Mej. Wêreld-kompetisie

Thulisa Keyi word as die gesamentlike wenner van die Designer of the World-afdeling aangewys (Foto: Instagram)

Mej. Wêreld Suid-Afrika, Thulisa Keyi, wat vandeesmaand aan die Mej. Wêreld-kompetisie in Sanya, China, deelneem, se rok het onlangs die Designer of the World-afdeling van dié kompetisie gewen.

Maroela Media het vroeër berig Biji Gibbs het Keyi se rok gemaak en hulle het saamgespan om die ontwerp te skep. Keyi wou ʼn eenvoudige en elegante rok hê wat haar kultuur goed uitbeeld. Hulle het dit gedoen deur ʼn dramatiese lang swart-en-wit kraletjiesmou en ʼn noupassende swart rok byeen te bring.

Keyi en China se verteenwoordiger is as gesamentlike wenners in dié kategorie aangewys.

Thulisa Keyi se uitrusting is geïnspireer deur tradisionele Xhosa patrone en kleure (Foto: Verskaf)

“Die mense kon nie genoeg kry van die kraletjiesmou nie, en dit was beslis ʼn hoogtepunt in die vertoning,” het Keyi op Instagram geskryf.

“ʼn Groot dankie aan Biji wat onvermoeid aan die rok gewerk het en dit een kraletjie op ʼn slag perfek gemaak het. Dankie dat jy my Xhosa-erfenis so mooi deel van my rok gemaak het. Dít is net ʼn herinnering dat die wêreld ons sal liefhê en aanvaar vir wie ons is wanneer ons net eie aan onsself bly,” het sy geskryf.

Mej. Wêreld sal op 8 Desember aangekondig word. Deelnemers van 120 lande oor die hele wêreld neem reeds die maand voor die kompetisie deel aan subkompetisies met afdelings soos talent, sport en ontwerp.

Suid-Afrika se Rolene Strauss het in 2014 die titel van Mej. Wêreld verower.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Essa ·

Hierdie rok is inderdaad ‘n wenner. Lieflike ontwerp. Oorspronklik en stylvol. Voorspoed met die Mej. Wêreld kompetisie Thulisa.

Annelize ·

Dis inderdaad ‘n pragtige en stylvolle rok. Die kralewerk is ongelooflik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.