Getooi in droomrok van gehekelde blomme

(Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Malincke Botha van Hoër Volkskool Potchefstroom se matriekafskeidrok is voorwaar ʼn unieke rok, getooi in kleur en blomme – en dit alles met liefde en hande saamgevoeg. Wat besonders is, is dat haar naam sonskyn-blom beteken en dié rok het haar borrelende persoonlikheid weerspieël. Sy vertel Yolanda Wessels meer oor die inspirasie en uitdagings van haar nuutskepping.

Meisies droom vir jare oor hul matriekafskeid, die rok, bykomstighede, hare, grimering en naels, tot in die fynste besonderhede. Malincke was geensins anders nie en ʼn besonderse Iranse rok het haar hart gesteel toe sy dit gesien het in ʼn tydskrif in haar graad 9-jaar. “Ek het die prentjies gebêre want ek het gehou van die hele konsep van die rok; vrolik, uniek en veral die blaartjies wat om die hoë nekkie gerank het, was vir my besonder mooi. Die rok het vir my gelewe en dit was my rok.”

Sy vertel die grootste uitdaging was beslis al die blommetjies wat nodig was vir die rok. “Op die prentjie wat ons gehad het, was al die blomme geborduur in alle groottes en patrone. Mamma het eers vir my foto’s van verskillende lap gestuur en my enigste reaksie was nee, dit moes los blomme wees. My ma het met ywer aan die werk gespring, op soek na geborduurde stringetjies blomme. Sy het gekry, maar glad nie ʼn groot verskeidenheid nie. Die uitdaging was dus waar gaan ons soveel blomme in soveel verskillende kleure en groottes kry.”

Malincke sê sy is lief vir helder warm kleure en in Ottosdal is ʼn klein algemene handelaar wat wol, borduurgaring en hekelgaring aanhou. “Ek en my ma het op die vloer gaan sit en alles deurgekyk en so het ek stringetjie vir stringetjie self uitgesoek. My ma het ook hekelgaring by wolwinkels in al ons buurdorpe gekoop. Die hekel self was maklik. Ek is baie lank en as my broekpak of rok te kort was, het my ouma die hekelpen uitgehaal en dit met rantjies langer gemaak.” Nadat haar ma, Marinda, die lapwinkels plat geloop het, het sy voorgestel hulle vra haar ouma om blommetjies te hekel.

Haar ouma het winter 2022 begin hekel en ʼn vriendin van Marinda het voorgestel hulle vra vir nog twee tannies om ʼn verskeidenheid van patrone en vorms te bring. Shani van Esjé Designs in Potchefstroom het die pragtige rok ʼn werklikheid gemaak. “Omdat my ma self naaldwerk doen, het Shani se vakmanskap haar oog gevang. Dit was boonop ʼn bonus toe ons uitvind dat sy ook ʼn oud Volkie is.”

Shani vertel dit was ongelooflik spesiaal toe Malincke haar gewys het wat sy wil hê vir haar droomrok. “Haar idee het my geïnspireer. Ek het só uitgesien om haar rok te begin maak en om te sien waar elke hekelblom sy plekkie kry. Dit was ʼn groot uitdaging, maar 100% die moeite werd en so lekker gewees om haar die eerste keer te kon pas en te kon deel saam met al die tannies en oumas wat gehelp het om hierdie skepping te kon bewerkstellig. Ek het elke oomblik daarvan geniet om oudhede weer nuwe lewe te gee en in iets nuuts te kon omskep.

“Met al die uitdagings van die ‘baie blomme’ het die rok langer gevat as wat ek gedink het, so vier tot vyf maande, maar sy het seker gemaak dat al die honderde blommetjies ʼn perfekte plekkie kry. Dit was ʼn voorreg en ʼn eer dat Malincke my vertrou het om haar rok te maak.”

Malincke kon nie haarself in enige ander rok sien nadat sy die Iranse trourok gesien het nie. “Ons het ander idees oorweeg en ʼn paar ander asemrowende rokke aangepas, maar niks kon my van plan laat verander nie. Dit het nie soos ek gevoel nie, al was dit hoe mooi. My rok was die enigste rok wat ‘Malincke’ geskree het.”

Dié rok het aan die begin vir Marinda ʼn paar slapelose nagte besorg. “Ek het my twee ouer dogters se rokke self gemaak, maar het gevoel die rok is te uitdagend. Die blommetjies sou in perfekte balans aan die rok gewerk moes word om te keer dat dit punte hang of uitrek. Gelukkig was dié nagmerrie ná ons eerste besoek aan Shani verby.”

Die keuse van bykomstighede was self ʼn storie want Malincke wou sommer haar ou vellies aantrek, maar haar ma het lank gevat om te byt aan die vellie-idee. “My pa het my al die pad ondersteun en gesê ek moet verseker vellies dra. Na ʼn lang gespook het ek besluit op nuwe vellies met gehekelde veters van my keuse. My oorbelle was eenvoudig en klassiek, my rok moes al die aandag kry.”

Haar metgesel was Eduhart Smuts, een van haar goeie vriende. Sy het hom vertel dat haar rok herfskleure is op baie ligte beige lap. Hy, sy ma en sussies het gaan pakke aanpas en vir hul foto’s gestuur en heel toevallig was sy gunsteling-pak die een wat perfek by haar rok gepas het. Dit was ʼn ligte bruin baadjie, donkerder broek en wynrooi hemp. Die leerdas het perfek by albei se vellies gepas! Shani het toe vir hom ʼn ook ʼn hekelwerkie aanmekaargeslaan vir sy baadjiesak.

Malincke vertel opgewonde dat die manier waarop Eddie haar matriekafskeid toe gevra het, net so uniek soos haar rok was. “Hy het met die hoofsanger van Spoegwolf, Danie Reënwolf, gereël om my te vra. Ek is voor die hele skool, met my gunsteling-liedjie, deur my gunsteling-sanger, van my gunsteling-band, gevra. Eddie het geweet ek sou niks anders as ja kon sê as Danie namens hom vra nie.”

Malincke se wenke aan ander voornemende matriekmeisies is dat hulle nie moet bang wees om anders te lyk nie. “Kies ʼn rok wat met jou praat. Moenie in die boks soek nie, gooi die boks weg, daar is ʼn wêreld vol idees daar buite. Ek voel my rok is my droom, jou rok moet jou droom wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.