Goeie geselskap en ’n koppie warm tee

‘n Illustrasie uit die boek “Big Panda and Tiny Dragon”. (Foto: Verskaf)

In Big Panda and Tiny Dragon, die wonderlike boek deur James Norbury, vra die pandabeer vir die klein drakie op sy rug: “Wat is belangriker – die reis of die bestemming?”

En Tiny Dragon antwoord sonder aarseling: “Die geselskap.”

Die twee maats se reis deur die seisoene verloop nie soos wat hulle beplan het nie. Hulle raak die pad lelik byster maar ontdek op hierdie manier pragtige goed wat hulle asems wegslaan – dinge en ervarings wat hulle nooit sou beleef het as hulle nie verdwaal het nie.

Die reisigers se vriendskap verdiep ook soos hulle belangrike lewenslesse langs die pad leer – een daarvan hoe om net in die oomblik te leef.

Die wyshede en spitsvondige opmerkings deur die beer en die drakie bons van vroegoggend af in my kop rond. Dalk omdat dit so ʼn grys Kaapse wintersdag is en Opbeuring ʼn welkome gas vir tee sal wees.

My bepeinsinge is egter nie net die gevolg van die dreigende onweerswolke wat aan die saampak is nie. Ek dink aan soveel mense se vrese oor die dag van môre weens Die Virus se donker dans met ons brose lewens. Tensy jou bankbalans baie stewig is, jou toekomsvooruitsigte steeds skitter én jy en jou mense nog tot dusver gelukkig genoeg was om Covid-19 te kon vryspring, lê daardie fronskepe tussen ons oë dieper as vantevore.

Norbury se twee geliefde karakters het egter ook hiervoor ʼn bietjie salf:

“Vlinders sukkel op hulle meeste net voordat hulle te voorskyn kom.”

Dis egter daardie opmerking aan die begin van my storie oor die gesélskap wat vanoggend soos ʼn snoesige warmwatersak op my bors lê. Die geselskap. En dis iets wat selfs nie Covid met sy seekatarms van ons kan wegneem nie.

Ja, ons skram steeds weg van bear hugs en sien ons hartsmense heelwat minder, maar hulle is dáár. Ek kry so ʼn warm, vreedsame gevoel wanneer ek dink aan die omgeemense in my lewe en is dankbaar vir elke gesprek en teks. Ons is soos Big Panda en Tiny Dragon almal op die oomblik effens verdwaal, maar ons is saam in hierdie ding en selfs met net ons oë wat sigbaar is en selfs van agter die horde rekenaar- en ander skerms kán ons mekaar help. Deur uit te reik, deur net te vra “Hoe gaan dit met jou?” én dit te bedoel. (Soos Tiny Dragon ook vir Big Panda sê: “Jy’s ʼn goeie luisteraar.” En die swart-en-wit beer antwoord ewe rustig: “Om te luister het my nog nooit in die moeilikheid gebring nie.”)

Delta en wie-weet-wat volgende gaan nog vir lank lang skaduwees gooi wat ons uithouvermoë gaan beproef en lewenslus tot ʼn mate sal demp. Wetenskaplikes sê in die Science-tydskrif baie gaan oor die volgende vyf jaar van die omvang van inentings afhang. Hulle voeg egter in dieselfde asem by: “Ons weet egter nie hoe doeltreffend die entstof uiteindelik gaan wees nie. Gaan dit 100% effektief wees soos die polio-entstof, of eerder nader aan die griepinspuiting wat tussen 10% en 60% weerstand bied? Die meeste wetenskaplikes verwag ʼn matige beskermingskoers.”

Die einde is dus nog nie in sig nie, maar ek dink die feite moet maar eers later vir hulleself praat. Vir nou glo ek dis beter om op die wyshede van my fiktiewe muses ag te slaan.

Tiny Dragon sê in ʼn stadium vir Big Panda: “Ek gee op.”

“Dis oukei,” sê Big Panda.

“Ons probeer môre weer.”

En ons doen wat hulle twee gedoen het toe die pad vreemd en verlate begin lyk het: ons stop wanneer ons moeg is, kyk op na die sterre en drink ʼn koppie warm tee.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fluisterwind ·

Matthéüs 16:26 “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” So die bestemming bly die belangrikste!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.