Graaff-Reinet omarm storie van Gideon Scheepers

Johan Dames, lid van die FAK-Graaff-Reinet-Kultuurnetwerk, help Elri (8) en Jani Pretorius (9), twee sussies van die Laer Volkskool, om die krans te dra, wat hulle by die Gideon Scheepers-monument net buite Graaff-Reinet op die 120ste herdenking van sy dood gaan neerlê het. (Foto: Verskaf)

Gideon Jacobus Scheepers is op 18 Januarie 120 jaar gelede op 23-jarige ouderdom voor ’n vuurpeloton in Graaff-Reinet vir beweerde oorlogsmisdade tereggestel.

Scheepers was ’n militêre leier, verkenner en heliografis in die Anglo-Boereoorlog (ABO) en het gedien onder genl. Christiaan de Wet.

Elizma Smith, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Oos-Kaap, vertel lede van die FAK-Kultuurnetwerk in Graaff-Reinet, die plaaslike Rapportryerskorps en mense uit die gemeenskap het Dinsdag op die dag van Scheepers se dood saam stil geword by die Gideon Scheepers-monument langs die Murraypad buite die dorp.

Scheepers is sowat 100 m van waar dié monument opgerig is, tereggestel.

“Gideon is deur ’n Britse militêre hof skuldig bevind en gevonnis om tereggestel te word. Die vonnis is voltrek, maar sy liggaam is op ’n onbekende plek begrawe. Sy teregstelling, ná ’n twyfelagtige verhoor, het mense nie net in Suid-Afrika geskok nie, maar ook wyd reaksie in die buiteland ontlok.

“Sy lyk is in ’n onbekende graf begrawe en nooit gevind nie. Ondanks herhaalde vertoë dat die ligging van sy graf bekend gemaak word, het dit nooit gebeur nie en sterf sy moeder jare later sonder om te weet waar haar kind begrawe is.”

Luidens die FAK se Afrikanergeskiedenis-webblad is Scheepers op 4 April 1878 in Middelburg in die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek gebore en het as 16-jarige ’n heliografis by die ZAR-staatsartillerie geword. Hy is in 1897 eers tot korporaal bevorder en nadat hy die volgende jaar na die Oranje-Vrystaat Artillerie gesekondeer is, na sersant.

Toe die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, het hy die Vrystaatse kommando’s na die wesgrens vergesel. Genl. Christiaan de Wet het Scheepers as rapportryer gebruik en nadat hy Scheepers tot kaptein bevorder het, het hy Scheepers in bevel van sy eie verkennerskorps geplaas.

Gideon Scheepers (Foto: Verskaf)

In Desember 1900 het Scheepers op bevel van kmdt. Pieter Kritzinger die Kaapkolonie binnegegaan. Nadat hy Kaapse rebelle gewerf het, is Scheepers op 22-jarige ouderdom tot kommandant bevorder; hy was in bevel van ’n 150-maneenheid wat bekendgestaan het as die Witkoppenkommando na aanleiding van die wit bande om hul hoede. Dié kommando het veral sukses behaal met die sabotasie van spoor- en telegraafverbindings in die Oos-Kaap terwyl hinderlae die Britse troepe verliese toegedien het.

Scheepers se heldhaftige optrede is in dié skermutselings ten toon gestel en sy teenwoordigheid in die Kaapkolonie het meegebring dat baie Kapenaars by die Boeremagte teen die Engelse aangesluit het.

Gedurende die eerste helfte van 1901 was Murraysburg ’n veilige hawe vir die Boerekrygers omdat daar nie genoeg mense vanuit die dorp was wat met die beskerming daarvan wou help nie. Op 27 Junie 1901 het Scheepers aan die burgemeester van die dorp gesê dat hy alle openbare kantore sou afbrand as die Britte nie die dorp binne agt dae in garnisoen sou lê nie. Die Britte het nie op die dreigement gereageer nie en op 6 Julie is verskeie geboue, onder meer die openbare kantoor, poskantoor, hoofkonstabel se kantoor, ’n winkel en ’n huis aan die brand gesteek.

Scheepers het tereggestaan op 16 aanklagte, waaronder brandstigting, moord, poging tot moord en saakbeskadiging. Die hofverrigtinge is voor die einde van 1901 afgehandel. Die oorkonde is na die regter-advokaat-generaal gestuur vir sy beslissing en na lord Herbert Kitchener vir bevestiging.

Op 17 Januarie 1902 is Scheepers op elke aanklag, met een uitsondering, skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die volgende dag is hy geblinddoek en aan ’n stoel vasgemaak waarna hy gefusilleer is. Die Britte het geweier om sy stoflike oorskot te oorhandig omdat hulle wou keer dat Scheepers as ’n held begrawe sou word. Sy teregstelling is wyd veroordeel, veral omdat hy deurgaans aangevoer het dat hy die bevele van hoër offisiere uitgevoer het.

Neil Schreuder van die plaaslike Rapportryerskorps het Dinsdag die skriflesing gedoen en Theo Dorfling, skoolhoof van die Hoër Volkskool op Graaff- Reinet, ’n gebed. Elri (8) en Jani Pretorius (9), twee sussies van die Laer Volkskool, het saam met Johan Dames, lid van die FAK-Graaff-Reinet-Kultuurnetwerk, ’n krans namens die FAK by dié monument neergelê.

Paul van den Berg en sy vrou, Connie, was ook teenwoordig saam met ander inwoners van die dorp.

“Oom Paul ken die verhaal van Scheepers. Sy verbintenis met hierdie verhaal van Scheepers kom van die dae toe hy as jongman een van die draers was by die begrafnis van Scheepers se moeder,” sê Smith.

Paul van den Berg en sy vrou Connie was ook teenwoordig saam met ander inwoners van die dorp by die kranslegging vir Gideon Scheepers. Van den Berg het vir meer as 20 jaar jaarliks ’n gedenkgeleentheid vir Scheepers op Graaff-Reinet gereël. (Foto: Verskaf)

Van den Berg het langer as 20 jaar jaarliks ’n gedenkgeleentheid vir Scheepers op Graaff-Reinet gereël.

Volgens Smith is dit opvallend hoe dié dorpsmense Scheepers se nalatenskap huldig.

“Sy nalatenskap word sigbaar na gekyk in die dorp. Die gemeenskap omarm hulle om die Gideon Scheepers-storie. As jy vandag op Graaff-Reinet kom, is daar ’n geweldige bewustheid van Scheepers en daar is soveel plekke waar jy van hom bewus raak.”

Smith verwys onder meer na die Gideon Scheepers-monument self.

“In die dorp op die hoek van Donkin- en Somersetstraat staan die Anglo-Boereoorlog-standbeeld, ’n huldeblyk aan agt Boeresoldate wat tydens die Anglo-Boereoorlog op die kerkplein in Graaff-Reinet tereggestel is. Die beeld bestaan uit ’n staande figuur met ’n geweer en ’n gestorwe soldaat. Die beeldhouer het die gesig van genl. Christiaan de Wet gebruik vir die staande figuur en Gideon Scheepers, een van sy baie bekwame verkenners, se gesig vir die gestorwe soldaat.

“In die begraafplaas is daar ook ’n steentjie vir Scheepers opgerig al is sy gebeendere nie daar nie. Die ander sewe Boeresoldate wat tydens die ABO tereggestel is, is daar begrawe. Hulle is in een graf begrawe. Later jare is die grafsteen vir Scheepers bygesit.

“Juis daarom is dit vir die FAK ook belangrik om Scheepers se nalatenskap te vereer,” sê sy.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het in 2019 ter viering van sy 90ste bestaansjaar besluit om kultuurrade, oftewel kultuurnetwerke soos hulle nou bekend staan, weer tot stand te bring.

Daar is nou al meer as 20 FAK-Kultuurnetwerke landwyd.

As jy wil betrokke raak by dié kultuurnetwerk in Graaff-Reinet kan jy aan Elizma Smith ’n e-pos na [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.