Gras ineens groener vir 39 gholfjoggies

Die span gholfjoggies by Pretoria Country Club-gholfklub het Woensdag brille ontvang. Die skenking is met die hulp van Fledge Capital, Atterbury Trust en Brooklyn Optica moontlik gemaak. (Foto: Verskaf)

Vir 39 gholfjoggies is die gras nie net groener aan die ander kant van die draad nie, maar sommer tot dóér anderkant die speelveld nadat elkeen van hulle ’n splinternuwe bril ontvang het.

Hierdie manne van die Pretoria Country Club-gholfklub in Waterkloof, Pretoria, het vandeesweek met nuwe oë na die wêreld om hulle gekyk en die glimlagte het van oor tot oor gestrek toe hulle deur Fledge Capital, Atterbury Trust en Brooklyn Optica van getoetste brille voorsien is.

Louis van der Watt, uitvoerende hoof van Atterbury, het aan die einde van 2020 ’n rondte gholf by die Pretoria Country Club gespeel en agtergekom dat sy gholfjoggie glad nie kan sien waar die bal geland het nie. Louis weet hoe belangrik dit vir ’n gholfjoggie is om behoorlik te kan sien – dit is op stuk van sake presies wat hulle werk behels – en het dadelik werk daarvan gemaak. In ’n latere gesprek met Konrad Fleischhauer en Fourie du Preez van Fledge Capital het die gedagte ontstaan om al die gholfjoggies te borg vir oogtoetse en brille waar nodig.

Volgens Fourie speel die meeste van Fledge se manne weekliks gholf by die betrokke gholfklub.

“Ons wou ’n verskil maak en het gevoel niemand anders kyk na die gholfjoggies nie. Sonder goeie sig is dit amper onmoontlik om hulle werk te kan doen en ons het besef dit is ’n aspek waar ons wérklik ’n verskil kan maak.”

Linda Lochner van Brooklyn Optica, ook een van Atterbury se huurders by The Club in Hazelwood, het besef die behoefte aan oogsorg vir gholfjoggies is wesenlik en het dadelik betrokke geraak by hierdie visie om die toetse te subsidieer.

Marna Pieterse, praktykbestuurder by Brooklyn Optica, bevestig dat hulle tot op hede 41 manne gesien het van wie slegs twee geen sigherstel nodig gehad het nie.

Brooklyn Optica is deel van die primêregesondheidsorg-span. Diabetes en selfs hoë bloeddruk kan uit ’n oogtoets blyk. ’n Hele aantal gholfjoggies het dus na aanleiding van die oogtoetse ook verwysings na medici vir verdere mediese ondersoeke nodig gehad.

’n Spesiale dankie aan dr. Anil Kurian van Zuid-Afrikaans Hospitaal asook dr. Pieter Odendaal van die Pretoria Ooginstituut wat op kort kennisgewing baie moeite gedoen het om verder te help.

Brooklyn Optica is dankbaar vir die geleentheid wat aan hulle gebied is om al die gholfjoggies se oë te kon toets, sê Lochner. Hierdie span oogkundiges het verder seker gemaak dat al die gholfjoggies se brille ook getint is en ultraviolet-beskerming het om hulle oë genoegsaam te beskerm.

Volgens Patrick “Bruno” Maubane, voorsitter van die Caddie Committee, is dit vir hulle belangrik om goed te kan sien.

“As jy dra vir iemand en jy verloor die bal, is dit eintlik net moeilikheid. Dis baie belangrik om te kan sien waar die bal gaan en om dit te kry. Ons is bly oor die brille,” het hy gesê nadat dié gholfjoggies die afgelope Woensdagoggend met die nuwe brille spoggerig vir die kamera geglimlag het.

Pieter Fouche, kaptein van die gholfafdeling van Pretoria Country Club, het tydens die seremonie sy waardering uitgespreek vir hierdie inisiatief van Fledge Capital, Atterbury Trust, Brooklyn Optica en al die ander betrokkenes. Volgens Fouché is dit ’n diep menslike gebaar wat die lewe van die joggies op ’n manier geraak het wat talle ander mense eintlik as vanselfsprekend aanvaar.

Dank gaan nie net aan diegene wat die oogtoetse geïnisieer het nie, maar ook vir die deurlopende bystand, leiding en hulp toe die toetse die nodigheid vir verdere mediese sorg geopenbaar het.

“Hierdie toewyding aan die verbetering van ons joggies se lewe is vir almal van ons ’n inspirasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bont ·

Wys net, mens moet net net altyd wil oordeel nie. Ons het so baie om voor dankbaar te wees in die lewe. Baie bly dat hulle gehelp is. Dit wys ons mense gee tog om vir mekaar, al sê wie ook nou wat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.