Halfmiljoen ingesamel vir leukemielyer

Philip Snyman van Rustenburg en sy vrou, Megan. Hulle dogtertjie was ses maande oud toe haar pappa met leukemie gediagnoseer is. (Foto: Facebook/Megan Snyman)

Gerhard van der Westhuizen en Rayno Strauss, twee mans wat kanker oorleef het, het einde verlede jaar die bal aan die rol gesit om R500 000 in te samel ten bate van ʼn Rustenburgse pa wat vir die tweede keer in een jaar ʼn stryd teen kanker voer.

Philip Snyman, die pa van ʼn 18 maande oue dogtertjie en eggenote van Megan, is in November 2020 na die ongevalle eenheid gehaas met ʼn verskriklike pyn in sy rug. Etlike mediese toetse en biopsies later is akute limfoblastiese leukemie by hom gediagnoseer. Hulle dogtertjie was toe net ses maande oud.

Sy familie het laer getrek om hom terwyl hy teen dié siekte baklei het en genadiglik was sy suster ʼn geskikte kandidaat om hom te help met die stamseloorplanting wat hy benodig het.

Snyman het in Mei verlede jaar dié oorplanting ontvang en het aanvanklik goed herstel en kon selfs op 5 Augustus ʼn bier drink en ʼn braai saam met sy familie geniet.

In September het die dokters egter tydens opvolgbesoeke bevind die kanker is terug en dié keer was sy niere ook aangetas.

“Ons wêreld was aan skerwe. Dit was die tweede keer veel erger om dié skoknuus te ontvang. Ons het soveel hoop gehad en alles het so goed gegaan. Alles het net weer begin terugkeer na normaal toe die mat weer onder ons voete uitgepluk is,” sê Snyman.

Philip Snyman. (Foto: BackABuddy)

Die immunoterapie wat broodnodig was om sy lewe te red, het egter R900 000 gekos – ʼn bedrag wat nie deur sy mediese fonds gedek word nie.

ʼn Gholfdag wat deur Van der Westhuizen en Strauss gereël is, het R250 000 ten bate van Snyman se behandeling ingesamel.

Kort daarna het nog drie gholfspelers ʼn verdere R250 000 ingesamel en kon Snyman met die R340 000 wat sy familie deur middel van ander geldinsamelingsprojekte bymekaar geskraap het, sy behandeling ontvang.

Megan werk voltyds om in die gesin se basiese behoeftes te voorsien en vir haar man se mediese fonds te betaal, maar weens sy kankerdiagnose kan Snyman nie kos op die tafel vir sy gesin sit nie.

Die Snymans het ʼn BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur om geld in te samel om vir die gesin se uitgawes en ander mediese onkoste te betaal. Besoek dié BackaBuddy-blad om die gesin geldelik te ondersteun.

Sy lokke waai ook vir kanker

Brent Lindeque spog met sy veel korter haredos nadat hy sy lokke laat waai het ten bate van kankerbewusmaking. (Foto: Facebook/Brent Lindeque)

Intussen het Brent Lindeque, bekend as Suid-Afrika se “Good Things Guy”, onlangs ʼn groot transformasie ondergaan ten bate van Cancervive deur sowat 40 cm van sy bekende lokke af te skeer vir ʼn korter, gladder voorkoms.

Cancervive is ʼn dinamiese kankerbewusmakingsprojek wat daarop fokus om gemeenskappe op te voed oor kanker waaroor mense nie graag praat nie weens stigmas, diskriminasie, kulturele taboes en gebrek aan kennis.

Die projek word deur mense wat kanker oorleef het gedryf en maak onder meer van uitvoerende kunste, musiek, digkuns, dans en storievertel gebruik om gemeenskappe van alle agtergronde, ongeag taal, te bereik.

Lindeque, oorspronklik van Johannesburg, het nie net sy lokke laat waai om kankerbewusmaking te skep nie, maar het ook ʼn BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur om geld in te samel vir Cancervive.

Brent Lindeque (links) se hare voordat hy dit gesny het. (Foto: Facebook/Brent Lindeque)

“Ek wil graag die weldoenersbeweging voortsit, aangesien ek – nes vele ander – persoonlik geraak is deur kanker deur familie en vriende aan die dood af te staan weens dié tragiese siekte,” sê Lindeque.

Hy het ʼn verlede jaar ʼn tante aan kanker verloor en dié gebeurtenis het hom aangemoedig om ander te help wat deur dieselfde uitdaging in die gesig gestaar word. Die idee om sy hare af te sny het gekom toe ʼn kliënt hom gevra het of hy dit ooit sou waag, en in Januarie vanjaar het die blonde lokke wat hy drie jaar lank laat groei het onder ʼn knipper beland.

Kyk hier na Lindeque se video:

Ondersteun sy veldtog op BackaBuddy hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.