Hardloop is Adele Broodryk se energie-inspuiting

Adele is ook in haar beroep ‘n wenner. Hier het sy ‘n onderrig toekenning ontvang. (Foto verskaf)

Deur Elize Perrin

Sy is ʼn vrou wat voluit leef en daarvan hou om haarself uit te daag. Dit is die lewensleuses van dr. Adele Broodryk, naaswenner van vanjaar se Comrades-marathon en senior lektor aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Kleintyd reeds het sy besef dat sy meer daarvan hou om bo-op die podium te staan as op een van die sytrappies.

“In gr. 1 het ek die 60 meter-naellope gehardloop en is tweede geplaas,” vertel sy. “My moeder vertel altyd hoe teleurgesteld ek op die podium was omdat ek nie gewen het nie. ʼn Pappa het toe my ma genader en aangebied om my saam met sy seun te begin afrig. Daar het die gogga behoorlik gebyt.”

Die boorling van Carletonville wat hoofmeisie in beide laer- en hoërskool was, se liefde en talent vir sport is nie beperk tot atletiek nie. Sy is reeds in haar gr. 8-jaar by die eerste netbalspan ingesluit.

“Dit het my fisies en emosioneel baie sterk gemaak,” sê sy.

Alhoewel Adele ʼn kranige 400 m-hekkiesatleet op skool was, het kniebeserings haar fokus verander en het sy in 2013 aan landloop begin deelneem waarin sy die NWU by USSAS verteenwoordig het.

“Ek wil eerder ʼn lewenslange atleet wees as net ʼn once-off,” sê sy.

In 2015 het Adele en haar man, Retief, vir hulle eerste Twee Oseane-marathon ingeskryf en het haar voete vir die langer afstande begin jeuk. Tydens die genoemde wedloop het Adele onder die top 100 atlete geëindig en die volgende jaar ʼn twaalfde plek behaal. Dit het haar aangemoedig om konstant te verbeter.

Tien maande na die geboorte van hul eersteling pak sy en Retief die Knysna-marathon aan en tree sy eerste oor die wenstreep. Hierdie wen het haar laat besef dat sy ʼn talent vir die langerafstande het.

“Ek het toe begin fokus op my hardlooploopbaan en die langer afstande,” vertel sy.

Alhoewel Adele se ouers aan sport op skoolvlak deelgeneem het, het hul dit nie verder geneem nie.

“Ek sal nie kan sê of ek my talent by een of beide ontvang het nie. Wat ek wel weet is dat my twee sussies die was met natuurlike talent,” meen sy. “Ek moes baie harder werk. Dit het my gemaak wie ek is; om aan te hou werk en aan te hou glo dat ek bo sal uitkom. Ek het my eerste provinsiale kleure eers in my matriekjaar ontvang.”

Meer as ʼn oefenprogram

Comrades 2023 lekkerte. (Foto verskaf)

Die roete na sukses is nie maklik nie. Dikwels het jy meer as net ʼn oefenprogram nodig.

Wedlope is slegs een deel van Adele se menswees. Hierdie trotse ma van twee, het al haar grade cum laude geslaag en is tans senior lektor binne die skool van Menslike Bewegingskunde aan die NWU, asook programleier vir die sub-program Sportwetenskap. Dit verg dus goeie voetwerk om al die balle in die lug te hou.

Adele hou vas aan haar ma se wyse woorde van: hoe meer jy doen, hoe meer kan jy doen. Stilsit is ook nie hul gesin se gunsteling-aktiwiteit nie.

“So, om klomp balle in die lug te hou en verskeie goed gelyktydig te doen kom natuurlik juis omrede stilsit nie my sterkpunt is nie. Maar ek sou nie die balle in die lug kon hou sonder die ondersteuning van my man asook my werkgewers nie,” sê sy.

Jare se gewoontes het die Broodryk-gesin gehelp om so effektief as moontlik te wees.

“Ons het ʼn jaar- en ʼn weekkalender op ons yskas,” vertel sy. “Die jaarkalender is vir belangrike werk-, hardloop- en vakansiedatums terwyl die weekkalender net die spesifieke week se beplanning insluit. Dit behels al ons aktiwiteite, selfs etes. Ons gesin se motto is “oorvloed in eenvoud” wat basies beteken dat ons die lewe in oorvloed aanpak, maar eenvoudig wil hou.”

Die roete

Buiten wedlope soos die Twee Oseane en Om die dam wat Adele al gewen het, eindig sy gereeld onder die voorste atlete. Behalwe vir harde oefening is deel van haar sukses dat sy nie geïntimideerd voel deur ander atlete nie.

“Ek gaan elke wedloop in met die ingesteldheid dat ek my eie resies gaan hardloop en myself teen myself gaan meet,” sê sy. “Dit is ʼn voorreg om saam met groot name te hardloop, maar op die einde van die dag is hulle ook net mens en kan hulle ook ʼn af-dag beleef.”

Om lang wedlope suksesvol te voltooi, moet ʼn atleet gefokus bly.

“Ek deel die totale wedloop op in kleiner dele,” sê sy. “Die Comrades sien ek byvoorbeeld min-of-meer as agtien parkwedlope. Soos ek hardloop, merk ek elke wedloop af. Ook neem ek aanvulling (energiedrankie, water, energiejels) na elke wedloop in. Dit is iets om na uit te sien tydens elke vlak.”

Sy deel ook elke wedloop in dele en probeer om elke deel in ʼn sekere tyd te hardloop.

“Dit help dat ek nie te vinnig of te stadig begin nie en gee my ʼn idee tydens die resies wat my totale tyd gaan wees,” vertel sy. “So, tydens die hardloop is ek ook besig om somme in my kop te maak.”

Sy glo ook dat die 2023 Comrades-wedloop, wat bietjie korter was, elke deelnemer ʼn sielkundige hupstoot gegee het; nie net om klaar te maak nie maar ook om beter tye te hardloop.

Adele glo wel dat haar akademiese agtergrond, wat menslike bewegingskunde, sielkunde, atletiek en oefenfisiologie insluit, nuttig is ten opsigte van haar voorbereiding. Haar spesialiteitsgebied is binne sportfisiologie en psigologie met ʼn navorsingsbelang in sport herstel

“Ek glo ek is tipies die practise what you preach-tipe. Dit wat ek die studente leer, pas ek daagliks toe op my eie hardlooploopbaan en dan vat ek my ervaring weer terug klas toe.”

Tot in Mei 2022 het Adele haar eie oefenprogram geskryf.

“Toe vat ek hande met Lindsay Parry as afrigter om my te help bou na my eerste Comrades toe. Ons is beide sportwetenskaplikes en dus werk ons baie goed saam,” sê sy.

Energie-inspuiting

Die Broodryk-gesin. (Foto verskaf)

“Hardloop vir my is die tyd van die dag wat net aan my behoort,” sê Adele. “Dit is die tyd wat ek net kan afskakel. Om in die buitelug te wees en die natuur te bewonder is een van die elemente waarna ek daagliks die meeste uitsien.”

ʼn Ernstige besering waarna sy amper haar tekkies moes ophang, het Adele se perspektief verander.

“Toe ek jonger was, was hardloop wie ek is en wat my geluk bepaal,” vertel sy. Vir my is dit nou ʼn manier om met mense te bind, die lewe te deel en gesond te wees.”

Jaag nog drome

Adele het nog genoeg asem om baie drome en doelwitte na te jaag.

“My grootste doelwit is om die beste weergawe van myself te wees: as hardloper, ma, vrou, lektor en kind van God” sê sy.

Haar liefde vir hardloop was nog altyd daar en daarom hoop sy om haar hardlooploopbaan so lank as moontlik te verleng.

“Uiteindelik droom ek daarvan om op die hoogste moontlike vlak mee te ding”, sê sy. “As kind het ek altyd gedroom om Comrades te hardloop en stelselmatig die rangorde te klim totdat ek dit eendag wen. Dit is ʼn droom wat nog diep in my hart lê.”

Een van haar grootste drome is om Suid-Afrika, nie net op internasionale vlak te verteenwoordig nie, maar ook trots te maak.

Haar drome strek egter verder as net vir haar atletiekloopbaan.

“My droom is dat elke lid van my huisgesin hul eie afsonderlike drome sal najaag, nooit sal terugstaan vir ʼn uitdaging nie en altyd vrymoedigheid sal hê om op te staan as hul val en weer te probeer,” sê sy. Verder hoop sy dat hulle almal lewenslange atlete sal bly, want sy glo aan die gesegde van ʼn gesonde liggaam huisves ʼn gesonde gees.

Aan die jong atlete daarbuite het sy ʼn motiveringsboodskap.

“Moet nooit opgee op jou drome nie; al raak jy beseer, al klim jy nie in posisie soos jy graag sou wou nie. Hou vas aan jou drome.”

Dit is wat Adele gedoen het en steeds doen.

Vanjaar se Om die dam-wedloop waartydens Adele die vroueafdeling gewen het. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.