Helpende Hand bring die hoop weer terug

Willem Engelbrecht. (Foto: Verskaf.)

In ’n tyd van groot onsekerheid waarborg die welsynsorganisasie Solidariteit Helpende Hand dat ’n golf van hoop binnekort oor die land gaan spoel.

Helpende Hand het pas sy Skole van Hoop-veldtog bekendgestel wat poog om die lewe van tieners en hul medemens drasties te verbeter.

Om dit te bewerkstellig het Helpende Hand kragte met die jeugbeweging, Be That Guy/Girl (BTG) Every Day Heroes, saamgespan met een doel voor oë: Wees self die verskil wat jy in die land wil sien.

BTG is die geesteskind van Willem en sy broer, Jo Black, die bekroonde sanger van die treflied “Bring die hoop weer terug”.

Afgevaardigdes van Helpende Hand en Willem, ’n motiveringspreker wat al die afgelope dekade onder die jeug werk, het die afgelope week die projek by vlagskiphoërskole in Limpopo bekendgestel.

“Die hoofdoel van die projek is om ’n kompetisie by hoërskole van stapel te stuur, waar leerders uitgedaag gaan word om ’n verskil te maak deur vir soveel moontlik volhoubare goeddoen- en goedvoelprojekte in te skryf,” sê Marianthie van der Walt, Helpende Hand se streeksorganiseerder van Limpopo en Noordwes.

“Ons wil leerders wys daar is nog toekomshoop en wil die jeug wys hoeveel mag hulle het om ’n verskil te maak en hoe die verskil ook hul eie lewens kan verryk. Ons wil die leerders terselfdertyd ook waarsku om versigtig te wees vir die uitdagings wat die uitbreek van die koronavirus (Covid-19) inhou,” voeg sy by.

Die kompetisie word tans by agt skole in Limpopo en een skool in Noordwes aangebied en gaan oor die volgende ses maande strek. Die skole wat aan die projek deelneem, is die Hoërskool Pietersburg, HTS Tom Naude, Hoërskool Louis Trichardt, Hoërskool Merensky, Hoërskool Ben Vorster, Hoërskool Ellisras, Hoërskool Nylstroom, Hoërskool Hans Strijdom en Hoërskool Hartbeespoort.

Leerders word aangemoedig om hul projekte aanlyn te registreer en gaan voortdurend op sosiale media spog oor hoe hul projekte vorder. Groepe of individue kan inskryf. Die projekte gaan beoordeel word op grond van hoe die projekte geestelike- kulturele- en/of fisiese armoede kan help.

“Die projekte hoef nie baie geld te kos of buitensporig groot te wees nie; die opregte en volhoubare verskil wat gemaak word, is die kern van die veldtog. Deur saam te staan, saam te glo en saam te werk, kan die wêreld regtig ’n beter plek wees. Ons kan nie al die probleme oplos nie, maar ons kan bietjie vir bietjie, stukkie vir stukkie tóg ’n verskil maak en ander rondom ons inspireer om dieselfde te doen. So help elkeen om die wêreld positief te ervaar,” sê Marianthie.

’n Wenprojek sal in Oktober by elke skool gekies word. Die wenspan kry prysgeld van R8 000. ’n Wenprojek vir die streek sal ook aangewys word, met ’n verdere R8 000 vir die streekwenner. Die skool wat die meeste volhoubare inskrywings het, sal ook prysgeld van R50 000 ontvang.

“Toe Helpende Hand my oor die projek genader het, het ek onmiddellik aan boord gespring. Die projek is so in ons kraal met wat ek en Jo by BTG doen. Ons gaan landwyd ’n boodskap van hoop aan ons tieners verkondig, want ons glo as ons tieners weer hoop het, kan ons regtig ’n verskil in die land maak.

“Ek het regtigwaar die toer baie geniet. Dit was wonderlik om net uit te gaan en hoop te saai en te sien hoe die kinders toustaan om ambassadeurs van hoop te word en te onderneem om uit te reik en ’n daadwerklike verskil te maak. Dit is ’n bewys van dat ons nie net praat nie, maar dinge begin doen,” sê Willem.

Helpende Hand gaan poog om die Skole van Hoop-projek volgende jaar landwyd uit te rol. Besoek www.skolevanhoop.co.za vir meer inligting en hou Helpende Hand se sosialemediaplatforms dop vir die leerders se vordering met hul projekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michiel ·

In Nederland is sulke initaiteven waarby skoliere geldpryse kan wen, subsidies om sosiale vraagstukke op te los. Die bedoeling is dat daar indirek werkgeleentheid uit ontstaan.
Miskien moet Solidariteit ‘n fonds stig, befonds deur Expats wat op die manier ‘n verskil kan/wil maak aan situatie in Suid-Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.