Helpende Hand Studietrust sê dankie

hannes-noeth-foto-verskaf.jpg

Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. (foto verskaf)

Die Helpende Hand Studietrust (HHST) het oor die jare ʼn groot familie geword. ʼn Familie van instellings, ʼn familie van opleidingsentrums, ʼn familie van donateurs, ʼn familie van personeel, ʼn familie van studente.

Een groot familie wat getuig van een groot saak: so is ʼn gemeenskap aan die werk! Daar is seker nie ʼn mooier vorm van sigbare gemeenskapskrag as ʼn gemeenskap wat van geslag tot geslag aan die volgende geslag kennis oordra nie.

  • Ons moet opvoed.
  • Ons moet oplei.
  • Ons moet ontwikkel.

Die HHST maak dit moontlik omdat jy dit moontlik maak; jy maak dit moontlik omdat dit vir jou moontlik gemaak is. En so voltooi die sirkel. Tot dit weer begin.

ʼn Geleentheid, ʼn suksesstorie, ʼn donateur, ʼn volgende geleentheid, ʼn volgende suksesstorie, ʼn volgende donateur. Inderdaad leer ons in die Skrif dat ons in Christus beklee is met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid. In die HHST kry al hierdie eienskappe volkome betekenis. Dankie dat jy ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid met ons deel.

Een van die beste maniere om gemeenskapsontwikkeling en maatskaplike welsyn te bevorder, is deur opleiding en geleenthede om verder te gaan studeer. Mense kry nuwe hoop waar daar eens geen hoop was nie, antwoorde in plaas van ʼn gevoel van magteloosheid en moedeloosheid. Dit is een ding om te sê ontwikkel jou gemeenskap deur studies, maar hoe doen ʼn mens dít as daar nie fondse beskikbaar is nie? Daarom stig ons studiefondse, deur gemeenskappe, donateurs, trusts, en op enige ander moontlike manier. Ons loop ʼn pad met diegene wat ʼn verskil in ander mense se lewens wil maak, en help mense om verder te gaan studeer. Op dié manier ontwikkel ons gemeenskappe; verander ons iemand se lewe, ʼn gesin se uitkyk, ʼn gemeenskap en stadig maar seker die hele samelewing. Vir die HHST is dit ʼn voorreg om by die opvoeding, opleiding en ontwikkeling van ons studente betrokke te kan wees. Elke student wat afstudeer is opsigself ʼn oorwinning. Elkeen wat sy of haar plek in die samelewing volstaan getuig van die verskil wat gemaak is.

In die afgelope jare kon duisende toekennings oorhandig word, vele kwalifikasies is bereik, en sodoende kon die primêre doel van die HHST tot sy reg kom. Ons wil graag stelselmatig die hele samelewing verander, en ons doen dit deur elke studielening wat ons toeken. Die betrokke student moet ʼn begeerte hê om te gaan studeer, om iets te bereik, en sukses te behaal. Terwyl ons dit vir studente moontlik maak om te gaan studeer, moet hy of sy ook hulle studies wíl terugbetaal.

Die HHST is dus meer as bloot ʼn besigheid, baie meer as net ʼn droom. Dit gaan oor meer as om fondse in te samel en dit te bestuur. Die HHST bewaarheid drome, help studente om bepaalde doelwitte te bereik sodat hulle hul roeping kan uitleef. Ons sal daarom, en vir solank as wat dit moontlik is, met elke studielening wat toegeken word, ʼn verskil probeer maak. Student vir student en kwalifikasie vir kwalifikasie. So gaan ons ook vorentoe, die toekoms tegemoet, want elke student wat wil studeer, moet kan studeer.

Al wat ons kan sê is DANKIE!

Indien jy graag ʼn skenking wil maak aan die Helpende Hand Studietrust, of selfs jou eie studiefonds wil stig, stuur gerus ʼn e-pos na [email protected]. Jy kan ook ons webwerf besoek by www.hh-studietrust.co.za vir meer inligting.

Enige skenkings aan die Helpende Hand Studietrust is van belasbare inkomste aftrekbaar. Maak gebruik van ʼn art. 18A- belastingsertifikaat wat as bewys sal dien.

Hannes Noëth is die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.