Hier in die Kalahari hoor jy net Afrikaans

Die gaste saam met Carla by Kuruman se boekpraatjie. (Foto verskaf)

Sy is bly ek geniet die toer, maar het begrip daarvoor dat daar so baie wynstoppe in die Groen Kalahari moet wees voordat ons uiteindelik by die Weskus uitkom. So lui ʼn vriendin se WhatsApp-boodskap aan my nadat ek vir haar ʼn video op maat van die nostalgiese liedjie “Ver in die ou Kalahari” gestuur het, waarin my gasheer Marco van den Berg van die ATKV, kiertsregop-donkiekar ry.

“Nee man, kry ʼn ordentlike gasheer wat darem vier wiele en ʼn enjin kan bekostig. Hoop hulle betaal jou darem vir die ramp,” lui die bekommerde WhatsApp verder, gevolg deur emotikons van kwaaigesiggies.

Ek en Marco is hoogs geamuseerd, want ons ry eintlik te lekker in ʼn lugverkoelde viertrekvoertuig. Dus kon ek my vriendin gerus stel dat ons van die “donkie-limo” na ʼn Pajero “opgegradeer” het. Die hele 3 400 km, vanaf Gauteng, sodat ek skryfskole op Kleinzee, Upington sowel as Groblershoop kon aanbied en sommer ook aan ʼn hele aantal boekpraatjies kon deelneem het in gesellige kuiers ontaard.

Kyk as daar iets op hierdie afgeleë plekke gebeur, is almal daar!

Ons eerste stilhouplek is Kuruman waar ons in die baie gerieflike Red Sands Lodge tuisgaan wat tussen Kuruman en Kathu geleë is. Hier is die stilte oordonderend en die uitsig van jou balkon af eindeloos. Dis ʼn ongerepte en soos die liedjie lui, “eensame vreedsame wêreld”. Die lodge is in ʼn privaat natuurreservaat, met 17 verskillende wildspesies en meer as 50 voëlspesies, geleë.

Carla bied ‘n skryfskool vir kinders in Kleinzee aan. (Foto verskaf)

Die ATKV-tak op Kuruman is onder die voorsitterskap van Hettie du Plessis-Krüger, plaaslike joernalis en fotograaf, en met ʼn kamera in die hand en haar pasgebore baba in ʼn kangaroesak teen haar bors, het hulle behoorlik gesorg vir die geleentheid. Al die vroue is byderwets aangetrek. Maar kos kraai koning en die koeksisters is amper so lank soos ʼn lineaal!

Om grondpad in die groen Kalahari te ry is baie geriefliker as om op die geteerde sinkgatpaaie met sy roekelose taxi’s van die stedelike gebiede voort te sukkel. Soms verloop ʼn halfuur voordat jy ʼn ander motor sien. Ek het al gehoor dat die spietkops jou daar laat stilhou net om ʼn geselsie aan te knoop.

Marco het belowe ons maak “’n trip van ʼn trip”. Dus reis ons kuier-kuier en proe-proe. (Ek het my weegskaal met my tuiskoms amper aangerand.)

Hou gerus tussen Olifantshoek en Upington by die Rooikar-padstal stil vir ʼn glas yskoue gemmerbier en ʼn bottel mampoer.

Of kuier op die sementstoep agter die kombuis, waar yslike boerbrode gebak word, meerkatte op strepe rondhol en jy selfs ʼn paar ystervarke kan sien en plaaslike inwoners al geselsend die dag om kuier. Die padstal het glo tydens die pandemie ontstaan en is supergewild.

Gemak eerder as modebewustheid is die wagwoord onder die Kalahari-manne. ʼn Mens staar onwillekeurig na die vellies (goed dit is toevallig weer mode) en bruingebrande en nogal welgevormde bene in die baie kort kortbroeke wat aan die jare sewentig se “hot pants” herinner.

Dit kook immers in daardie geweste.

Ons het ons eerste skryfskool tydens die Woeskusfees by Kleinzee, wat op die adjunk-minister van Kuns en Kultuur − Veronica van Dyk se plaas, Die Houthoop gehou is − in haar lugverkoelde huis aangebied. ʼn Onderwyseres en sewe leerders het al die pad van Okiep (sowat 100 km ver) per bus soontoe en terug gery.

Die kinders moes mekaar in ʼn stadium tydens ʼn skryfoefening beskryf en het in ligte trant gekom met: “Sy het ʼn lelike lag aan haar” en “sy het plat ogies”.

Die Namas, beroemd vir hul roosterkoek, se stalletjie was ʼn wenner, maar eet dit dadelik op voor die kaas weens die hitte kaassmeer word. Gelukkig is dit nie ʼn probleem nie.

McDougallsbaai langs Port Nolloth, waar ons in ʼn huisie ʼn klipgooi van die see af tuis gegaan het, se see is blouer as blou met De Beers se diamantskepe op die horison. Hier loop jy kilometers ver op verlate strande om skulpe op te tel.

Marco wat vir 37 takke in die Noord-Kaap en Namibië se kultuurbedrywighede verantwoordelik is, het beslis miere in sy broek. Selfs in die verste uithoeke van dié geweste noem hy so terloops dat hy ʼn week tevore ook daar was en November weer gaan. Hy gaan ʼn argeoloog saam Port Nolloth toe neem om na ʼn begraafplaas met stokou grafte van onder meer skeepskapteine uit die agtienhonderds te ondersoek. Geskiedenis is in dié man se bloed.

Daar in die groen Kalahari bly die donkie ʼn wonderlike ding en op Upington het ons na die donkiemonument voor die museum gekyk, maar op aanbeveling van die deurwinterde reisiger-skrywer Johan Bakkes ook ʼn foto van die woestynkameel geneem wat in die jare toet vir polisiepatrollies gebruik is. ʼn Taai gedierte wat dae lank in die woestyn sonder water kan klaar kom.

ʼn Mens kan nie in Upington vertoef sonder om die Oranje Rivier-wynkelder vir ʼn wynproe te besoek nie. Die name van die verskillende versnitte val tongklaplekker op die oor. Name soos Die Opsitkers, Rondstaan, Omstaan en Bontstaan. Lekker Afrikaanse nuutskeppings waarvan ek die een getiteld Kerkmuis met vrymoedigheid by arm skrywers en vryskutjoernaliste aanbeveel.

Op Upington het bykans 40 voornemende skrywers opgedaag – party al die pad van Kakamas af.

“Kyk, ek mag dalk ʼn paar mense se bloeddruk die hoogte in laat skiet, maar in dié geweste is daar veel meer kultuur as in die stad waar ons al so min as drie siele by skryfskole gehad het”, merk ek teenoor Marco op.

Die aand is daar weer ʼn boekgesprek en geborgde Oranje Rivier-wyn. Die voorslag ATKV-vroue, Beatrix Venter en Madelein May, sorg vir rooitapytbehandeling. Die gewilde skrywer Anzil Kulsen is ook daar. Ek spot al dat die getal wynproe wat ons op hierdie toer beleef het, saam met my graf toe gaan.

Oral is daar plase. Daar word met skaap, bees en danksy die magtige Oranjerivier veral met wingerd geboer. Water is dus volop, al is die landskap klipperig, dor en droog. Ons gaan by Khamkirri in weelderige hout chalets tuis, met ʼn uitsig oor die rivier en volmaan.

Die eienaar hoor van my nie-fiksie-misdaadboeke en vertel dat daar al drie vermeende moordenaars deur sy plek is – die berugte Moord op Pofadder-moordenaar, Suretha Brits, die dokter wat haar drie kinders na bewering met kabelbande vermoor het op gesinsvakansies daar en die man wat in ʼn stadium daarvan verdink is dat hy sy predikantvrou om die lewe gebring het. En weet ons wat? Hulle was doodgewone mense, vriendelik en hulle het met hulle bevriend geraak.

Ja-nee, ʼn moordenaar of beweerde moordenaar lyk hoeka mos nie soos die duiwel in die Kinderbybel of iemand wat met gemak ʼn byl kan rondswaai nie.

Suretha het egter ewe dramaties met lyfwagte opgedaag omdat sy kamma vir haar lewe gevrees het, onthou die eienaar.

Pofadder se hotel. (Foto verskaf)

Net daar besluit Marco toe dat ons eintlik op ʼn “moordtoer” was, want ons het op Pofadder stilgehou en verby Griekwastad en Stella gery waar ook grusame moorde plaasgevind het. Aangesien die vermoorde eienaar se vrou met “lang verlof” was, het ek maar ʼn foto van die hotel op Pofadder geneem. “Dis nogal ʼn lekker plek om te bly”, vertel Marco, wat elke klip en bos in die Kalahari ken.

Ons hou die volgende dag by die Augrabiese Waterval stil en loop dapper in 42 ˚C na drie uitkykpunte. Dis koel vir die streek waar die kwik al tot 58 ˚C gestyg het. Kokerbome, uniek aan die gebied, staan net waar jy kyk.

By Die Mas-wynkelder van Kakamas (slim woordspeling) volg nog ʼn wynproe. By Riemvasmaak klouter ons soos primate oor rotse om die beroemde glashelder poele waar onder ʼn warmwater-poel te besigtig. Daar ontmoet ons die “klipkinders” wat gretig met ons handel dryf. Hulle slaap in die veld en tel semi-edelstene in die berge op wat hulle aan toeriste langs die toerismeburo verkoop.

Ons koop (weereens) roosterkoek, maar dié keer by Norbet Coetzee van Voetspore-faam se winkel Berg en Dal. Die dorpie spog ook met ʼn piepklein biblioteek wat deur die ATKV geborg is en geesdriftig ondersteun word.

Ons laaste skryfskool is op Groblershoop wat deur sowat 40 mense bygewoon is. Onder hulle is ʼn afgetrede skoolhoof, ʼn polisiestasiebevelvoerder, boervroue en dosyne kinders. Almal, bruin en wit, praat net Afrikaans. Tien dae lank het ek nie ʼn Engelse woord gehoor nie.

Daar is een keer gesê dat solank as wat ons in Afrikaans vry, baklei en skryf die taal sal bly leef.

Netso! My hart klop die ene hoop vir ons taal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Net jammer die mense daar stem vir die ANC.

Trotse Boervrou ·

Afrikaans, ons mooiste, mooiste taal. Noord-Kaap en Kalahari is wonderlik met hartlike mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.