Hoe om op te staan na ’n geliefde se dood

Maggie Hugo met ‘n foto van haar seun Louis. (Foto: Elize Perrin)

Deur Elize Perrin

Almal van ons maak op die een of ander stadium kennis met die dood. Wanneer dit aan die deur van ʼn geliefde klop, maak dit seer: soms was dit te wagte en ander kere is dit ʼn oomblik wat die wind behoorlik uit jou seile neem.

Om ʼn geliefde op ʼn onnatuurlike wyse te verloor, bring baie trauma saam met die hartseer. Die Griekse woord vir trauma beteken wond; ʼn hart-wond. Met tye voel dit vir die wat agterbly asof hulle net veg vir oorlewing. Tog vind hulle maniere om weer op te staan; om die seer vir hulself sagter te maak.

Die laaste groet

Troosdiens, lewensviering: woorde vir die laaste aardse groet van ʼn geliefde. Daar word al hoe meer gepoog om dit ʼn meer positiewe, selfs vrolike, samekoms te maak. Hierdie dienste vind nie noodwendig meer in ʼn kerk plaas nie. Plekke van betekenis vir die familie of oorledene word hiervoor aangewend.

Rouklaers word ook dikwels versoek om ʼn sekere kleur kleredrag aan te trek. Destydse swart roudrag word op die agtergrond geskuif. Treurendes smag na die mooi en positiewe om deur die smart se duisternis te breek.

“Ek is ten gunste van die nuwe benadering,” sê Pieter Oberholzer, ʼn emeritus leraar en lewensafrigter. “Rou vind plaas as gevolg van die pyn van verlies. Verlies vra bykans altyd vir ʼn vorm van kompensasie. Die persoon wat rou, probeer vergoed deur een of ander aksie of simbool.”

“Die diens by ʼn begrafnis moet volgens my twee elemente bevat: die Goddelike, Bybelse perspektief en die menslike perspektief,” meen Pieter. “Daar lê veel meer krag daarin om self oor die oorledene te praat as om te luister na wat iemand anders oor hom sê. Tradisioneel is daar iemand wat ʼn huldeblyk lewer, maar ek is ʼn voorstander dat enigeen wat die behoefte het, kan opstaan om iets te sê, solank dit kort is. En humor is nie onvanpas in hierdie staaltjies wat vertel word nie. Mense mag maar lag by ʼn begrafnis.”

Dr. Yvonne Retief, traumaberader en outeur van die boek, Genesing vir trauma in die Suid-Afrikaanse konteks, maan wel dat daar nie ʼn valse, vrolike front voorgehou moet word nie. “Mense moenie goed doen wat hulle pyn ontken nie,” sê sy. “Heling lê in die erkenning van pyn.”

Dr. Yvonne Retief (Foto: Verskaf)

Die stilte

As al die formaliteite verby is, kom die stilte, die verlange, die realiteit van ʼn geliefde wat nie meer daar is nie. Die treurendes moet ʼn manier vind om weer die son agter die wolke te ontdek en elkeen het ʼn eie manier om dit te doen.

Reeva Steenkamp se ouers het in 2015 die Reeva Steenkamp-stigting bekend gestel as ondersteuningsdiens vir mishandelde vroue. Hannah Cornelius se dood het gelei tot ʼn stigting in haar naam om kinders te help om die nodige opvoeding te ontvang en van die geweld in hulle gemeenskappe te ontsnap. Leigh Matthews se ouers het ʼn traumasentrum begin en Susanna Moolman het ʼn boek oor haar seun se selfmoord geskryf.

Die akteur Brett Goldin, wat in 2006 vermoor is, se ma, Denise, het ʼn webblad, The Worst Club in the World, begin as ondersteuning vir ouers wat ook kinders deur moord verloor het. Denise het ʼn tydjie gelede die webblad oorgegee aan een van die lede.

“My gesondheid het begin agteruit gaan,” sê sy. “Dit het vir my al hoe moeiliker geraak omdat my wonde telkens oopgekrap word in my poging om myself los te maak van elke treurende familie.”

Sy bied steeds een-tot-een-ondersteuning aan ma’s wat dieselfde seer pad as sy moet stap. “Dit kan slegs geskied deur ʼn persoon wat deur dieselfde pyn en trauma moes stap en ʼn voorbeeld is dat jy wel jou verlies kan oorleef,” sê sy.

Maggie Hugo het beide haar middelkind en eggenoot op ʼn onnatuurlike wyse verloor.

Vroegoggend op 13 November 2005 is ʼn oproep van haar oudste suster ontvang. Maggie is meegedeel dat haar susterskind in ʼn motorongeluk oorlede is. “Nooit het ek daardie oggend gedink dat ek sewe maande en elf dae later dieselfde boodskap sou ontvang nie,” sê sy.

Op 24 Junie 2006 het dieselfde hartseer haar en haar man, Koos, getref. Hulle middelkind, Louis (23), het ook in ʼn motorongeluk gesterf. Die ongeluk het by Louis se alma mater, Grootfontein Landboukollege, gebeur.

“Ek het net die Here gevra om my deur die tyd te dra,” sê sy. “Vir lank kon ek nie kerk toe gaan nie. Ek kon nie na foto’s van Louis kyk nie. Met die aanhoor en noem van sy naam het ek soms kriewelrig geraak. Ek het egter nie die Here, wat Louis geneem het, saam met my kind begrawe nie.”

Maggie en Koos het besluit om ʼn wisseltrofee, ter nagedagtenis aan Louis, aan Grootfontein Landboukollege te skenk. Al drie hulle seuns het hul landboudiplomas daar verwerf. “Grootfontein was sy geliefkoosde plek,” vertel sy.

Dit was egter nog nie die einde van haar hartseer nie. Op 15 April 2008 het haar man sy eie lewe geneem. “Ek het vir almal gesê dat ek Koos se dood beter kon hanteer. Hy wou nie meer leef nie. My seun se dood was vir my baie erg.”

Op soeke na berusting, het sy na Koos se afsterf ʼn hangertjie van sy trouring laat maak. ʼn Kruisie, wat sy na haar seun se dood gekoop het, is in die trouring gemonteer. Sy het ook intussen hulle name op haar lyf getatoeëer. “So het ek hulle heeldag by my,” sê sy.

Pieter Oberholzer (Foto: Verskaf)

Menings

“Die manier waarop mense probeer kompenseer hang hoofsaaklik af van persoonlikheid en konteks,” sê Pieter. “Dit kan ʼn verskeidenheid dinge insluit, maar ten diepste is dit ʼn poging om pyn te verlig. Enkele manifestasies is: Idealisering: die oorledene se beeld word opgebou wat lei tot trots en dankbaarheid. Hierdie emosie moet sigbaar gestalte kry, daarom iets soos ʼn trofee. Identifikasie; die treurende probeer onbewustelik sy droefheid oorwin deur een te word met die oorledene. Op bewuste vlak kan die treurende ook die rol van die oorledene oorneem tot so mate dat dit soms kan lei tot ʼn persoonlikheidsverandering. Derdens substitusie. Dit is die vervanging van die oorledene deur jouself te verbind aan ʼn uitwendige objek, persoon of idee.

Yvonne noem dat sekere gedrag vir ʼn tyd normaal is en verwys na die dra van swart klere en roubande in die verlede. “Enige ritueel wat vir ʼn mens, as individu, dit makliker maak, is goed,” sê sy. “As ʼn mens egter na jare nog die ekwivalent van swart klere dra doen, mag dit ʼn teken van onverwerkte trauma wees.

”Om byvoorbeeld ʼn beurs of skild ter nagedagtenis van iemand te skenk, hou die nagedagtenis in ere sonder dat die persoon wat rou oor ʼn lang tyd steeds ʼn klomp energie in die instandhouding van die nagedagtenis belê.”

Sy noem dat die plant van ʼn boom ter nagedagtenis van die oorledene vir haar ʼn helende ritueel is. “Dit bly leef en groei, maar ek hoef dit nie elke dag water te gee, voeding te gee en te snoei nie.”

Yvonne maak dit duidelik dat mense verskillend rou. “Rituele kan van onskatbare waarde in die proses wees, maar ʼn mens moet versigtig wees om nie daar vas te steek nie,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.