Hoedspruit-seekoei wen mense se harte

Jessica die seekoei. (Foto: Jessica the Hippo/Facebook)

Met ’n reusehoeveelheid liter rooibostee in die pens en talle bekende vriende, is Jessica, Hoedspruit se liefdevolle seekoei, steeds besig om diep in mense se harte te kruip.

In Maart 2000, ná ’n reusevloed, het ’n babaseekoei wat slegs sowat 16 kg in daardie stadium geweeg het, voor Tonie Joubert se huis uitgespoel. Vandag ken die wêreld haar as die parmantige Jessica, die seekoei wat toeriste van oor die wêreld heen verwelkom.

Joubert gesels trots oor die familielid wat talle as eienaardig sou beskou, maar vir hom en sy vrou is Jessica net nog een van die gesin.

“Vandag is sy 22 jaar en amper vier maande oud, en sy weeg 1,6 ton. Ek het al baie diere in my lewe grootgemaak, elkeen vrylopend, nes sy. Ek glo nie in diere in gevangenisskap nie. Sy is die eerste seekoei wat ek gered het, en ook die eerste wat bly terugkom het huis toe.”

Jessica swem bedags in die rivier saam met ander seekoeie, kom elke nou en dan terug huis toe vir ’n sopie rooibostee en slaap snags pens en pootjies op die Joubert-gesin se stoep.

“Ek maak haar in die aande toe met ’n kombers. Sy kom party aande selfs in die huis om saam met ons TV te kyk.”

Van die bekendes wat al kom aanklop het om met Jessica kennis te maak, sluit Salma Hayek en Rob Lowe in. Sy het ook al ’n hele paar draaie op die kassie gemaak met verskynings op die destydse kletsprogram van Oprah Winfrey, Kwêla, Carte Blanche en Pasella.

Jessica spog selfs met die titel van rolprentster, aangesien sy op 18 maande oue ouderdom in Leon Schuster se Mr. Bones was.

Sy was ook die onderwerp van talle dokumentêre, insluitend een wat deur Animal Planet gemaak is.

In 2012, na nóg ’n reusevloed, het die Joubert-gesin nog ’n seekoei-familielid ryker geword toe Seun, nes Jessica destyds, voor hul huis uitspoel.

Dié het homself heerlik tuisgemaak en deel nou die voorstoep van hul huis met sy ousus.

“Ons het hom gekry voor die huis, maar ’n paar uur oud.”

Hy is nou al meer as 10 jaar oud en weeg honderde kilogramme, hoewel hy nog nie so groot soos sy sussie is nie.

(Foto: Jessica the Hippo/Facebook)

“Hy is nes sy ook vrylopend en kom elke aand terug huis toe. Albei is baie lief vir mense; die wisselwerking tussen hulle en die toeriste is wonderlik.”

Joubert vertel dat hulle tydens die vakansieseisoene 40 tot 50 besoekers ’n dag kry, met talle mense wat sê dat dit die hoogtepunt van hul wegbreek was.

Hy meen dat Jessica ’n groot trekpleister vir plaaslike en internasionale toeriste is, en dat dit die klein dorpie waarin hulle woon, Hoedspruit, ’n heerlike hupstoot gee.

“Sy is beroemd en gesog!”

Oor haar geaardheid is daar nie te wonder nie, Joubert vertel dat sy intelligent en saggeaard is.

Hy vertel skertsend dat dit nie lank gevat het vir Jessica om te leer hoe om hul huis se deur oop te maak nie. Dié moes Joubert met ’n staaldeur vervang, hoewel dit op die ou end ook nie vir Jessica kon keer om haar pad in die huis te vind nie.

Sy geniet dit egter om haarself op die bed tuis te maak. Dit beteken die Joubert-gesin moes al telkemale hul bed vervang.

Hy vertel dat Jessica dikwels beskermend teenoor hom optree, en dat hy selfs saam met haar in die rivier kan swem, selfs al is daar seekoeie en krokodille wat dikwels ook in die rivier te sien is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frank ·

Wens daar kon meer sulke “goeie” stories in die nuus wees!

Vonkprop ·

Ek is baie bly die seekoeie kan nog seekoeie wees met vrye beweging maar nogal besonders dat hulle verkies om saans by die mense te wees. Hulle voel seker die beskerming aan. Mooi storie

Miena ·

ek is absoluut gek oor seekoeie. sal graag eendag vir Jessica en Seun wil gaan sien

Sandra ·

Dis ‘n wonderlike belewenis om oor Jessica te lees. Maar ek sal nie saam met haar in die rivier swem waar wilde seekoeie en krokodille is nie.

Hannelize ·

Ek self het al by Jessica gaan kuier. Ek het dit gelove. Ek gaan binne kort weer kom kuier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.