Hoop en ’n nuwe begin; die basis van maatskaplike werk

gelukkige Kinders_stiltetyd.jpg

Argieffoto (Foto: pixabay.com)

Hoop. ʼn Nuwe begin. Dit is konsepte wat vir die meeste van ons alledaags mag lyk, maar vir kinders wat ʼn slegte begin in die lewe gehad het, is dit des te meer betekenisvol – afhangende van die korrekte ingryping.

Die Kinderhandves stel dit duidelik dat kinders ʼn reg op veiligheid het. Tog kan ʼn mens net wonder hoe veilig dit vir ʼn kind is wat op straat grootword, of wat fisies, emosioneel of seksueel deur volwassenes in sy of haar lewe mishandel word?

“Soveel kan vroeg in ʼn kind se lewe verkeerd loop,” sê Henda van der Merwe, direkteur van Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

“Sommige babas word gebore met fetale alkoholsindroom (FAS) of neonatale onthoudingsindroom (NAS) – baie van hulle het al ons pad gekruis. Een van ons gevalle is ʼn ma wat aan heroïen verslaaf is – sy het geboorte gegee aan drie babas wat ons in pleegsorg geplaas het kort nadat hulle gebore is. Hierdie goed toegeruste veiligheidsouers neem babas met NAS in hul huise, moet hulle maande aaneen elke paar uur medikasie gee – en doen dit met liefde en noukeurige sorg. Wat hierdie babas hoop gee en ʼn nuwe begin.

“Die CMR Gauteng-Oos se mandaat is gebaseer op die Kinderwet en daarom moet ons ten strengste by die wet en die voorgeskrewe prosedures hou.

“Ons maatskaplike werkers sien dinge waarmee die meeste mense nooit gekonfronteer sal word nie. Byvoorbeeld, ʼn sesjarige meisie met ʼn mond vol vrot tande, wat aan ernstige wanvoeding ly, wat geleer moet word om met ʼn mes en vurk te eet. Hierdie dogtertjie is op brood en rooiworsies grootgemaak. Gekookte kos was onbekend aan haar.”

Van der Merwe wys ook op die tekort aan plekke van veiligheid.

“Hierdie huise is deurslaggewend in gevalle waar ʼn kind se lewe in onmiddellike gevaar is. Daar was al baie sake in die nuus van kinders wat wreed aangerand, of selfs vermoor, is. Baie van hierdie sake hou dikwels met dwelm- of alkoholmisbruik verband.

“Geen kind verdien egter mishandeling nie, en as ʼn kinderbeskermingsorganisasie neem ons dit baie ernstig op.”

Van der Merwe wys daarop dat hereniging van gesinne en die bymekaarhou van gesinne van kardinale belang is.

“Die langtermyndoelwit is altyd om ouers en kinders in kontak te hou, in soverre ʼn kind se veiligheid die nommer een prioriteit bly. Ons het suksesvolle gevalle gesien van kinders wat met hul ouers herenig is. Onlangs het ʼn seun en sy ma ʼn nuwe tuiste saam gevind – nadat hy sewe jaar lank in pleegsorg was. Dit is vir ons verhaal van sukses.

“Pleegsorg is nie die doelwit nie, dit is ons samelewing se regstellende antwoord op die plaag van onveilige huissituasies. As maatskaplike werkers ondersteun ons die hele gesin en in ʼn geval waar byvoorbeeld die pa ʼn gevaar is, sal groot sorg gedra word om die ouer en kind in kontak te hou selfs wanneer die kind verwyder moet word.

“Neem die geval van ʼn kind wat die ouderdom van 18 bereik en nooit skool toe gestuur is nie. Wat kan so ʼn jongmens doen? Dit is hoekom ons poog om betyds in te gryp om ʼn kind hoop te gee. Met ʼn nuwe begin word alles moontlik vir ʼn kind wat ʼn slegte begin gehad het,” sê Van der Merwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Sterkte aan almal in hierdie roeping. Julle sal sekerlik reguit hemeltoe gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.