Inskrywings vir gesogte radiodrama-kompetisie nou oop

Argieffoto (Foto: Unsplash)

RSG is opgewonde om sy gesogte radiodrama-kompetisie, wat vanjaar 27 jaar oud is, saam met die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) aan te bied. Inskrywings vir dié kompetisie is nou oop met prysgeld ter waarde van R115 000 wat op die spel is.

“Radiodramas neem die woordkuns tot binne-in luisteraars se huise. Omdat die ATKV weet hoe groot rol radio steeds in baie Afrikaanssprekendes se lewens speel, is dit vir ons ʼn voorreg om op hierdie manier tot die uitbou en bewaring van die taal by te dra,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV.

Volgens Estel de Beer, een van die senior regisseurs by RSG, is hierdie radiodrama-kompetisie een van die belangrikste hulpmiddels om nuwe skrywers en stemme te ontdek.

Estel wys verder daarop dat radio ʼn intieme medium is.

“Ons luister radio wanneer ons bestuur, op die rusbank sit, of wanneer ons stap. Dis ʼn gesprek tussen die luisteraar en die omroeper. Net so vertel ʼn radiodrama aan elke luisteraar ʼn storie. Die karakters leef in luisteraars se verbeelding en so word ʼn splinternuwe wêreld in hul gedagtes geskep.”

ʼn Groot verskeidenheid inskrywings word elke jaar ingestuur en dit dra daartoe by dat ʼn wye spektrum onderwerpe verteenwoordig word.

Daar is vanjaar ook geen voorgeskrewe tema nie, maar tekste moet ʼn nuwe en oorspronklike Afrikaanse radiodrama wees. Geen verwerkings van bestaande materiaal, verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

In die eerste ronde van beoordeling word tussen 10-20 tekste gekies wat dan met die hulp van ʼn mentor vir die eindronde geslyp word. Die finaliste kan dan hul tekste vir die eindronde van beoordeling voorlê.

Die wenner van vanjaar se skryfkompetisie sal met prysgeld ter waarde van R50 000 wegstap, die naaswenner ontvang R25 000 en die wenner van die derde plek kry R15 000. ʼn Skrywer jonger as 30 jaar sal ook R15 000 ontvang en ʼn merieteprys van R10 000 word toegeken aan ʼn drama wat deur die beoordelaars uit die res van die finaliste gekies word. Buiten die prysgeld word die wendramas ook in 2024 op RSG uitgesaai.

ʼn Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webwerf beskikbaar. Daar is ook ʼn spesiale blad met skryfwenke vir nuweling-skrywers, asook diegene wat graag aan hul skryftalent wil skaaf.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Donderdag 31 Augustus. Inskrywings kan per e-pos gestuur word na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.