Jagliefhebbers slaan af vir HelpJag

gholf-gras-bal-pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jagters het vanjaar nagenoeg 32 ton wildsvleis vir HelpJag ingesamel en skud nou hul vere reg om die jaar op die gholfbaan af te sluit.

HelpJag is ʼn inisiatief wat poog om Solidariteit Helpende Hand se voedingsprojekte aan te vul en te sorg dat proteïen, in die vorm van wildsvleis, deel uitmaak van ʼn voedsame bord kos wat daagliks aan 8 000 hulpbehoewende kleuters voorsien word. HelpJag het oor die afgelope vier jaar reeds meer as 100 ton wildsvleis ingesamel, verwerk en versprei.

“Ons is dankbaar vir elke kilogram vleis wat ons ontvang. Ons benodig egter elke jaar geld om vir die verwerking en verspreiding van die vleis te betaal, en daarom hou ons geleenthede soos die komende HelpJag-gholfdag om die volhoubaarheid van die projek te verseker,” sê Margolé Riekert, projekorganiseerder van HelpJag.

Adam Tas, Bakkies Botha en Appel (Foto: Verskaf)

HelpJag se drie ambassadeurs, Bakkies Botha, Adam Tas en Appel, is van die bekendes wat Woensdag 24 November by die Woodhill-gholflandgoed in Pretoria gaan afslaan om geld vir HelpJag in te samel. Hoewel die meeste vierballe vir dié dag reeds uitverkoop is, kan instansies nog steeds putjies borg en uitstalruimte huur. Mense wat nie self saam met die spelers agterna by die klubhuis kan kuier nie, kan te danke aan die Woes-program van Jaco van Dyk en Hamilton Wessels ook deel in die pret en in die gerief van hul eie huise na ʼn regstreekse uitsending van die aand se verrigtinge kyk. Adam Tas gaan tydens die geleentheid optree, en kykers kan ook deelneem aan ʼn veiling en ʼn gelukkige trekking met groot pryse op die spel.

Woes is ʼn aanlyn platform wat geskep is om meer mense by opwindende gebeurtenisse te betrek. Van Dyk en Wessels gaan dit self regstreeks aanbied. Die program word op 24 November om 18:30 op verskeie digitale platforms gestroom, waaronder Woes se YouTube-kanaal en Facebook-blad, asook Helpende Hand en HelpJag se Facebook-blaaie.

Die veilingsitems wat op die spel is, sluit in jagpakkette ter waarde van meer as R30 000, wyn en ʼn Zeiss Terra ED 10×42-verkyker ter waarde van R10 000.

Mense kan nou ook R100-lootjies koop vir ʼn gelukkige trekking om dalk ʼn jaggeweersak ter waarde van R2 200, ʼn Vortex Diamondback 10×42-verkyker ter waarde van R6 499 of DOW-jagmesse te wen.

Skakel Woensdag 24 November om 18:30 via YouTube in by dié skakel: https://youtu.be/Yzi-jU1fBPM.

Stuur ʼn e-pos aan [email protected] vir enige navrae of om meer inligting te bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.